Poskantoor reageer glo dié week oor beweerde bankrotskap

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Poskantgoor (Sapo), wat tegnies bankrot is, sal glo later dié week ’n verklaring uitreik na aanleiding van berigte dat dit onder likwidasie geplaas is deur die insolvensiepraktisyns Kaap Vaal Trust.

Daar is die afgelope naweek wyd op sosiale media berig dat die Suid-Afrikaanse Poskantoor onder voorlopige likwidasie geplaas is. Die Poskantoor sukkel reeds geruime tyd om van sy krediteure te betaal.

Luidens ’n brief van Kaap Vaal Trust van 5 April 2023 word alle krediteure ingelig oor die besluit om die Poskantoor te likwideer. Kaap Vaal Trust is een van verskeie entiteite wat voorheen die howe probeer nader het in ’n poging om die Poskantoor onder likwidasie te plaas.

Die Poskantoor, wat onlangs ’n waarborg van R2,4 miljard van die regering ontvang het, het volgens die SABC gesê hulle hanteer hierdie saak reeds ’n rukkie lank.

Die Poskantoor gaan al jare lank gebuk onder ’n wolk van wanorde en wanfunksionering, met meer takke wat hul deure sluit.

Baie mense – veral klein besighede – maak staat op die Poskantoor vir koerierdienste en die invordering van die maatskaplike verligting van noodtoelaes.

Daar is verlede jaar bevind dat die Poskantoor in so ’n benarde finansiële posisie is dat dit nie in staat is om sy uitstaande fakture van miljoene rand te betaal nie.

In ’n mediaverklaring wat destyds uitgereik is, het die portefeuljekomitee oor kommunikasie ’n plan verwelkom wat die Poskantoor deur middel van ’n omkeerstrategie uit sy gemors sou help.

Die DA het egter toe reeds gewaarsku dit is ’n hopelose plan wat na nêrens lei.

’n Verslag wat aan die kommunikasieportefeuljekomitee voorgelê is wat die 2020/21-Poskantoor-jaarresultate uiteengesit het, het die gebrek aan prestasie van Sapo uitgelig as nog ’n mislukte staatsbeheerde onderneming.

Die huidige Sapo-bestuurspan het toe die meeste van die probleme op COVID-19 en leierskapvakatures geblameer.

Vroeër vanjaar het die DA bekendgemaak dat slegs 2,6% van Suid-Afrikaanse poskantore aan die diensstandaarde van ’n staatsentiteit voldoen.

Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het saam met Sassa op 15 Februarie ’n voorlegging aan die portefeuljekomitee vir maatskaplike ontwikkeling voorgelê.

In hul aanbieding is dit beklemtoon dat Poskantoor/Sassa-takke toegerus moet word met rugsteunkragtoevoer in die geval van beurtkrag.

Dit het aan die lig gekom dat slegs 32 takke rugsteunkragopwekkers het.

Volgens ’n interne dokument van die Poskantoor met die titel “Korporatiewe Strategiese Plan”, wat reeds in 2021 bekend geword het, is daar ernstige erkennings gemaak oor die faktore wat die Poskantoor tot op die rand van die afgrond gedryf het.

Daarin het dit geblyk dat onbevoegde personeel en swak bestuur die Poskantoor laat vou.

Van die probleme wat in die dokument genoem is, was:

  • Leierskap was onstabiel vir die afgelope vyf jaar. Leierskapposte is tans 51% vakant. ’n Suksesvolle regrukprogram is onmoontlik sonder ’n stabiele bestuurspan. So ’n program is van kardinale belang.
  • Reusekontantvloeiprobleme en opgehoopte skuld.
  • ’n Gebrek aan geskoolde werkers; onproduktiewe werkers; swak finansiële bestuur en ’n krimpende inkomstebasis is as die grootste “swakhede en bedreigings” genoem.
  • Verouderde tegnologie.
  • Die Poskantoor word reeds die afgelope ses jaar teen ’n verlies bedryf. Die geprojekteerde verlies vir 2015 het reeds R1,75 miljard beloop.

Sapo se wanbetaling van mediesefonds- en pensioenbydraes is ook al geruime tyd ’n kwessie.

In September 2021 het sowat 15 000 Sapo-werkers gevaar geloop om hul mediesefondsdekking by MEDiPOS te verloor weens hul werkgewer se versuim om R602 miljoen aan ledebydraes te betaal.

Die vakbond Solidariteit was verlede jaar in September weer in die Arbeidshof in Johannesburg in ’n poging om Sapo te dwing om agterstallige bydraes van huidige werkers  en pensionarisse aan MEDiPOS te betaal.

Nadat Solidariteit hom tot die hof gewend het, het Sapo meer as R3 miljoen namens Solidariteit-lede aan MEDiPOS betaal.

Solidariteit het toe in ’n verklaring gesê dit is kommerwekkend dat Solidariteit hom jaarliks tot die hof moet wend om te verseker dat Sapo na sy werknemers omsien.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top