Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (SAPK), waarvan die toekoms reeds geruime tyd in die weegskaal is, het sedert 1 April vanjaar ’n verdere 24 takke gesluit.
Meer as 300 SAPK-takke is binne ’n tydperk van drie jaar gesluit, terwyl dit opeenvolgende finansiële verliese aangeteken het en glad nie meer in staat is om sy rekeninge te betaal nie.
Die minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Mondli Gungubele, het verlede week in antwoord op ’n vraag van die DA in die parlement gesê daar is gedurende die 2020/21-boekjaar altesaam 22 takke gesluit; 146 gedurende die 2021/22-boekjaar; 122 takke gedurende die 2022/23-boekjaar; en 58 takke was deel van samesmeltings of optimalisering van die taknetwerk.
Die SAPK kry reeds die afgelope 15 jaar die wind van voor en is nie in staat om sy rekenings aan meer as 1 000 takke van sy verhuurders te betaal nie. Hulle skuld ook die SA Inkomstediens miljoene rand vir belasting wat met salarisbetalings verband hou.
Statutêre bydraes namens die SAPK se meer as 10 000 werkers is al wie weet hoe lank agterstallig, insluitend mediese fonds, pensioenspaargeld en werkloosheidsversekeringsfonds-voordele.
Die gedeeltelik staatsbeheerde telekommunikasiemaatskappy Telkom het ook verlede week aangekondig dat die Poskantoor nie meer op sy lys van rekeningbetalingsopsies vir sy klante sal verskyn nie.
In ’n verklaring het Telkom gesê die besluit is geneem "om die betalingsproses vir Telkom se klante te stroomlyn".
Die DA se skaduminister van kommunikasie en digitale tegnologieë, Natasha Mazzone, sê die jongste ontwikkelings in die SAPK ondermyn nie net die integriteit van die land se nasionale posdiens nie, maar raak ook miljoene mense wat op plaaslike takke staatmaak om toegang tot noodsaaklike dienste te kry, soos om hul Sassa-toelaes te ontvang.
Mazzone sê in ’n verklaring die sluiting van 314 Poskantoortakke demonstreer die haglike stand van sake onder ANC-bewind.
Sy sê die ANC-regering se plan om ’n Posbank te stig wat deur SAPK besit word, is ’n verdere bron van ernstige kommer.
“Hoe kan die ANC verwag dat ’n staatsbank suksesvol bedryf sal word deur ’n instelling wat nie daarin geslaag het om likwidasie te vermy en maande aaneen sy werknemers te betaal nie? Die potensiële ineenstorting van so ’n bank sal die lewensbesparings van honderde duisende mense in gevaar stel en die vertroue van die publiek verder erodeer.”
Die DA sê hulle het die ANC deurgaans versoek om die SAPK deursigtig te bestuur, met aanspreeklikheid en sonder “polities verbonde kadermarionette”.
“Ongelukkig het ons oproepe op dowe ore geval, wat gelei het tot ’n desperate ANC wat geskarrel het om op die laaste oomblik sakereddingsprosedures in te stel sonder ’n omvattende plan om die kernkwessies by die SAPK aan te spreek.”
Die party sê in die lig van hierdie kritieke situasie doen die DA weer eens ’n beroep op die ANC-regering om onmiddellik op te tree. “Ons doen ’n dringende beroep op die privatisering van sekere aspekte van die SAPK om sy winsgewendheid as ’n staatsonderneming te verseker. Hierdie deurslaggewende stap sal nie net die SAPK se voortbestaan as die nasionale posdiens verseker nie, maar sal ook die tydige betaling van salarisse, mediese fondse en pensioene aan sy toegewyde werknemers waarborg.”
Die DA het ook ’n uitnodiging aan die minister vir kommunikasie en digitale tegnologie, sowel as aan ander burgerlike organisasies gerig om saam met hulle ’n gesamentlike poging aan te wend om ’n goed gedefinieerde en uitvoerbare plan te ontwikkel wat nie die belastingbetalers met herhaalde reddingsboeie belas nie. “Ons moet ons poskantore red, die belange van ons burgers beskerm en ’n voorspoedige toekoms vir almal verseker,” lui die DA se verklaring.