Skets deur OpenAI se DALL·E.
Die poskantoor se personeel se salarisse gaan glo met byna die helfte gesny word terwyl die hoof- uitvoerende beampte ’n salaris van R4 miljoen per jaar kry.
Die DA het Woensdag in ’n verklaring gesê hulle is betroubaar ingelig dat die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) beoog om personeel se salarisse vanaf volgende maand met 40% te sny.
Volgens die DA duur die plundering van personeel in die poskantoor se mediese fondse en pensioenbydraes intussen voort.
Die party se skaduminister van kommunikasie, Dianne Kohler Barnard, sê mediesefondsvoordele is ook weer eens van beide personeel en pensioenarisse onttrek weens wanbetaling – ondanks die feit dat die personeel elke maand daardie bedrag uit hul salarisse en pensioene verloor.
Dit is ondanks bestuursversekering aan die kommunikasieportefeuljekomitee in die parlement dat hulle sake sal omkeer.
“Ons het ook verneem dat die huidige hoof- uitvoerende beampte (HUB) op die oomblik nagenoeg R4 miljoen per jaar verdien, amper twee keer soveel as haar voorganger in 2020. Die HUB verdien R3,9 miljoen en die nie-uitvoerende raadslede leef ook in weelde met ’n gesamentlike jaarlikse bedrag van R2,7 miljoen,” sê Kohler Barnard.
Dit is glo boonop aan die DA onthul dat Sapo vanjaar tot dusver ’n verlies van R2,3 miljard gely het terwyl hulle steeds die Pos Bank R3,2 miljard skuld.
In ’n poging om koste te besnoei oorweeg Sapo se bestuur dit volgens die DA se inligting om ure se werk te besnoei, wat effektief die besnoeiing van salarisse beteken. Die Sapo-bestuur stel glo ’n weeklikse vermindering van twee dae voor, wat daartoe sal lei dat skofwerkers wat vyf dae ’n week werk, net drie dae sal werk en diegene wat ses dae ’n week werk, net vier dae. Die gevolg hiervan is ’n verstommende 40%-vermindering in bruto salaris, sê die DA.
Dit is volgens die party niks meer of minder as konstruktiewe ontslag nie.
“Indien so ’n kriminele stap sou voortgaan, sal die DA dit aan die Openbare Beskermer, KVBA en die Departement van Arbeid rapporteer. Intussen is ek verseker dat die Valke-ondersoek na die niebetaling van personeelbydraes aan die mediese fondse, pensioen en WVF in ’n gevorderde stadium is,” het Kohler Barnard gesê.
Vroeër het die gemeenskapskoerant People’s Post berig dat pensioenarisse wat aan ’n mediesefondsskema behoort wat deur Sapo gesubsidieer word, hulle heel moontlik binnekort in die moeilikheid kan bevind ná die aanstelling van ’n firma om ’n uitkoopaanbod ten opsigte van mediesefondssubsidies namens die nasionale poskantoordiens te beding.
Sapo se wanbetaling van mediese fonds en pensioenbydraes is al geruime tyd ’n kwessie.
In September 2021 het sowat 15 000 Sapo-werkers gevaar geloop om hul mediesefondsdekking by MEDiPOS te verloor weens hul werkgewer se versuim om R602 miljoen aan ledebydraes te betaal.
Die vakbond Solidariteit was verlede jaar in September weer in die Arbeidshof in Johannesburg in ’n poging om Sapo te dwing om agterstallige bydraes van huidige werkers en pensionarisse aan die mediese skema MEDiPOS te betaal
Nadat Solidariteit hom tot die hof gewend het, het Sapo meer as R3 miljoen namens Solidariteit-lede aan MEDiPOS betaal.
Solidariteit het toe in ’n verklaring gesê dit is kommerwekkend dat Solidariteit hom jaarliks tot die hof moet wend om te verseker dat Sapo na sy werknemers omsien.
“Dienskontrakte word juis opgestel om werknemers se regte te beskerm, maar Sapo ignoreer dit kwansuis,” het Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit, toe gesê.
Hy het gewaarsku dat daar honderde ander mense is wat hulle mediesefondsvoordele gaan verloor indien Sapo nie die minimum betalings ingevolge die hofbevel wat al in 2021 bekom is, betaal nie.