’n Onafhanklike ondersoeker het bevind dat ’n “kultuur van seksuele objektivering” geskep is en dat die groot hoeveelhede alkohol wat beskikbaar gestel is, ’n klimaat geskep het vir die gebeure wat aanleiding gegee het tot bewerings van seksuele teistering waarvan die Wes-Kaap se minister van gemeenskapsveiligheid, Albert Fritz, beskuldig is.
Dié bevinding word gemaak in ’n verslag nadat ’n ondersoek van stapel gestuur is om die waarheid te toets van verskeie ernstige bewerings wat teen Fritz gemaak is, en wat tot sy skorsing verlede maand gelei het.
Wes-Kaap se premier, Alan Winde, sê in ’n skerpbewoorde verklaring hy het Fritz in kennis gestel van sy besluit om hom onmiddellik uit die provinsiale uitvoerende kabinet te verwyder.
This morning I informed Albert Fritz of my decision to remove him from the provincial executive cabinet, effective immediately.
You can read my full statement here: https://t.co/QyeDHkOESY pic.twitter.com/fxvrCuTNbY
— Premier Alan Winde (@alanwinde) March 1, 2022
Winde het die besluit geneem nadat hy Sondag ’n verdoemende verslag van advokaat Jennifer Williams ontvang het oor die bewerings teen Fritz. Williams het in opdrag van Winde ’n onafhanklike ondersoek rakende verskeie bewerings teen Fritz gedoen.
“Nadat ek hierdie verslag noukeurig deurgegaan het, is dit vir my duidelik dat mnr Fritz nie ’n geskikte en gepaste persoon is om enige pos in my uitvoerende raad te beklee nie. Hy is dus verwyder, in ooreenstemming met die bevoegdhede wat die Grondwet aan my verleen,” het ’n ontstoke Winde Dinsdag gesê.
Die onafhanklike ondersoek het bevind:
- Daar is voldoende geloofwaardigheid in die bewerings van seksuele wangedrag.
- Daar is voldoende geloofwaardigheid in die bewerings van alkoholmisbruik.
- Daar is voldoende bewyse dat Fritz ’n omgewing geskep het wat bevorderlik is vir seksuele teistering, of alternatiewelik, om jong vroue seksueel uit te buit.
Winde sê hy is uiters kwaad oor wat blykbaar verifieerbare gevalle van ernstige seksuele wangedrag deur Fritz is, in omstandighede wat op sigself onvanpas was.
“Dat dit deur iemand is wat die taak gekry het om ons jeug en ons gemeenskappe te beskerm, is vir my onpeilbaar. Dit is ’n skokkende skending van sy ampseed en die beginsels van ons grondwetlike demokrasie,” sê die premier.
“Dit is die skerpste herinnering aan die omvang van geslagsgebaseerde geweld op alle vlakke van ons samelewing, en dat elkeen van ons – van president, tot premier, van uitvoerende hoof, tot pa, ma, broer, suster of vriend – ’n rol het om te speel om dit te beëindig.”
Die bewerings teen Fritz is deur vier klaers by Winde gemaak.
Williams merk in haar verslag op dat sy op die ou end altesaam 18 getuies ondervra het, insluitend die klaers, bykomende getuies, Fritz, en sy eie genomineerde getuies. Tydens die ondersoek is foto's, e-posse, video's, SMS'e en korrespondensie as bewyse deur die klaers ingedien.
Fritz ontken die bewerings teen hom.
Williams het egter bevind dat die individuele klaers se weergawes konsekwent, inherent waarskynlik en stawend is. Volgens haar bevinding dui die bewyse op ’n volgehoue kultuur van die seksuele objektivering van vroue wat in die ministerie werk, onderlê deur ’n onbetwisbare magswanbalans.
Fritz het volgens die verslag sy gesagsposisie misbruik tydens sy interaksies met jong vroulike personeel.
Die beskikbaarheid van alkohol, die druk om te drink en die verwydering van jong vroue uit hul gemaksone het vir Fritz die geleenthede geskep om die beweerde seksuele wangedrag verder moontlik te maak.
Winde sê dit is vir hom kommerwekkend dat Fritz geweier het om enige onvanpaste optrede van sy kant te aanvaar en in hierdie ondersoek gepoog het om die geloofwaardigheid van die klaers as getuies te betwis deur selfs die blaam op sy “slagoffers” te plaas.
Die premier sê in sy verklaring hy wil glashelder daaroor wees dat hy nie sal toelaat dat dit die einde van hierdie saak is nie. Eintlik is dit net die begin.
“Ek is vasbeslote om hierdie oomblik te gebruik om die grootste verandering wat ek kan in die Wes-Kaapse regering en in ons provinsie te bewerkstellig, sodat ek seker maak dat geslagsgebaseerde geweld nêrens plek het om weg te kruip nie.”
Winde het Dinsdag ook met die klaers byeengekom om sy ondersteuning aan te bied. Hy sê daar is volgens hom voldoende bewyse om ’n kriminele ondersoek te regverdig.
’n Opsomming en die gevolgtrekking van die bevindings is hier beskikbaar.