Presidensie gooi koue water oor Solidariteit se opgewondenheid oor Bela-wet

  • 0

Die nimmereindigende getwis en verdeeldheid in die RNE oor die Bela-wet het tot so ’n mate uitgekring dat die presidensie nou uit twee monde oor die wet praat. 

’n Skikking oor die Bela-geskil wat verlede week by Nedlac (Nasionale Ekonomiese Ontwikkeling en Arbeidsraad) tussen die onderskeie partye se hoofrolspelers bereik is, het behoorlik ’n kat in die hoenderhok losgelaat.

Die vakbond Solidariteit, wat een van die partye in die veelbesproke skikking is, het kort daarna in ’n verklaring gespog dat hulle uiteindelik Bela se “slagtande getrek het”.

In die Nedlac-skikkingsooreenkoms word verklaar dat artikels 4 en 5 van Bela nie noodwendig outomaties geïmplementeer sal word nie.

Solidariteit was in die wolke en het dit in ’n verklaring bestempel as ’n oorwinning vir moedertaalonderwys en Afrikaans.  

Solidariteit se vreugdevure het egter skaars vlam gevat toe daar uit verskeie oorde koue water op die vuur gegooi word. Die verdeeldheid in die RNE het spoedig weer geblyk toe adjunkpresident Paul Mashatile ’n verklaring uitgereik het waarin hy hom van die ooreenkoms distansieer.

Dit het tot grootskaalse verwarring in onderwyskringe gelei.

Mashatile het verduidelik dat slegs een party in die RNE die ooreenkoms onderteken het. Dit is boonop onderteken sonder dat hy of president Cyril Ramaphosa kennis gedra het daarvan of toestemming aan iemand in die presidensie gegee het om so ’n ooreenkoms aan te gaan.

Die ooreenkoms, wat deur Siviwe Gwarube, die minister van basiese onderwys, Solidariteit en Nedlac die onderteken is, stel voor dat die omstrede klousules 4 en 5 nie noodwendig dadelik geïmplementeer moet word nie.

Mashatile het gesê behalwe Gwarube, wat van die DA is, was ander partye in die RNE nie by die ooreenkoms ingesluit nie.

“Volgens die verklaring sou slegs een party van die RNE betrokke gewees het in ’n parallelle proses aan die een wat deur die RNE-partye en ondertekenaars van die verklaring van voorneme goedgekeur is,” het die waarnemende woordvoerder van die adjunkpresident, Keith Khoza, gesê.

Ramaphosa het die afgelope naweek in ’n verklaring verder afstand geplaas tussen hom en die ooreenkoms waarmee Solidariteit so in hul skik is.

Ramaphosa sê in ’n verklaring hy het kennis geneem van die skikkingsooreenkoms.

Hy sê egter die Bela-wetsontwerp is op 26 Oktober 2023 deur die sesde demokratiese parlement goedgekeur en hy het op 13 September 2024 tot die wetsontwerp ingestem.

Tydens die openbare ondertekening van die wetsontwerp het hy sy besluit aangekondig om die implementeringsdatum vir artikels 4 en 5 met drie maande uit te stel.

Hy sê die besluit was om partye tyd te gun om te beraadslaag oor die kwessies van toelating en taalbeleid wat in die twee afdelings vervat is en om voorstelle in te dien oor hoe die betwiste elemente in die afdelings opgelos sal word. 

Die ooreenkoms tussen die minister van basiese onderwys en Solidariteit het volgens Ramaphosa geen betrekking, hetsy wetlik of rakende die praktiese uitwerking van die wet, op die inklusiewe veelpartygesprekke wat oor artikels 4 en 5 aan die gang is nie.

“Verder het die ooreenkoms geen invloed op die president se bevoegdhede om uiteindelik ’n besluit oor die inwerkingtreding van die wet te neem nie.”

Hy sê daar moet kennis geneem word dat die Bela-wet behoorlik deur die parlement goedgekeur en deur hom goedgekeur is. Dit is nou wet afgesien van die twee klousules waaroor daar nou verwarring bestaan.

Die volgende stap is dat die president die datum van inwerkingtreding bepaal en dat die nodige regulasies gefinaliseer moet word. Dit sal volgens Ramaphosa sonder onnodige vertraging gedoen word.

Ramaphosa sê hy is gebonde aan die Grondwet en die wet en bly onwrikbaar daarin om transformasie in die onderwyssektor te verseker tot voordeel van huidige en toekomstige geslagte leerders.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top