Pretoria brand na taxi’s oorlog verklaar teen dwelmsmouse

  • 0

Foto’s: YouTube

Pretoria se middestad is Woensdag in chaos gedompel toe taxibestuurders oorlog teen vermeende buitelandse dwelmsmouse verklaar het.

Woedende taxibestuurders het strate wat as toegangsroetes na die middestad lei, blokkeer en winkels is geplunder en aan die brand gesteek. Toegangsroetes na die stad is vroegoggend afgesper en busdienste moes opgeskort word weens die betoging.

Vroeër die week is ’n taxibestuurder tydens ’n bakleiery met vermeende dwelmbase in die middestad doodgeskiet. Taxibestuurders het glo vermeende dwelmsalwe gejaag, waarna ’n skoot afgevuur is. Die taxibestuurder is in die bolyf getref en het op die toneel gesterf.

Die voorval het gemoedere laat opvlam en op sosiale media is daar sterk uitgevaar teen buitelanders wat dwelms na Suid-Afrika smokkel. Dit het die vrees laat ontstaan dat die geweld ook na ander stede in die land kan uitbrei as die polisie nie daadwerklike stappe doen om die dwelmsmokkelaars vas te vat nie.

Videomateriaal van die polisie wat die skare met rubberkoeëls uiteenjaag, is op Twitter gepos.

Van die videomateriaal wat op Twitter geplaas is, toon hoe mense met TV-stelle en ander items op die vlug probeer slaan nadat winkels geplunder is. “Protesaksies is ’n manier om ons ontevredenheid oor sekere aspekte van die regering te kommunikeer, maar vandalisme is doodgewoon krimineel,” het Solomon Harudzibwi getwiet. Verskeie ander mense het met hom saamgestem en wou weet waarom die polisie nie strenger optree teen beide die plunderaars en die dwelmsmouse nie.

Volgens die Sowetan beweer die taxibestuurders dat daar lede van die polisie is, of mense wat hulle as polisiebeamptes voordoen, wat kop in een mus met die dwelmsmouse is.

Die dwelmhandel het tot ’n hewige debat onder sosialemediagebruikers gelei oor Suid-Afrikaners se houding teenoor buitelanders. Sommige mense het nie geskroom om xenofobiese opmerkings te maak nie, terwyl ander daarop gewys het dat die probleem nie soseer by die buitelanders lê nie, maar by die gebrek aan wetstoepassing deur die polisie.

“Moenie dubbele standaarde hier toepas nie; dieselfde polisie laat toe dat Nigeriërs dwelms verkoop, dieselfde regeringsamptenare laat dwelmsmouse in die land toe en maak wins daaruit,” het iemand die publiek se frustrasie op Twitter verwoord.

Die polisie het hul hande vol gehad om op te tree teen mense wat die eiendom van buitelanders in die Pretoriase middestad geplunder en chaos gesaai het. Verkeer is erg ontwrig en talle strate in die middestad en winkels moes gesluit word. Die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, Karen Meyer, het die optrede veroordeel en sê opportuniste buit die situasie uit.

Die Pretoria East Record berig dat verskeie winkels in die middestad aan die brand gesteek is tydens die gewelddadige protes. Betogers het veral winkels naby die hoek van Brown- en Lilian Ngoyistraat geplunder en aan die brand gesteek.

’n Woordvoerder van Tshwane se nooddienste, Charles Mabaso, sê vier mense is vir ligte beserings op die toneel behandel. “Daar is tot dusver sewe winkels wat deur die brande geraak is, waarvan sommige heeltemal afgebrand het.”

Van die winkels wat geplunder en aan die brand gesteek is, behoort glo aan mense wat met dwelms handel dryf.

Wetstoepassingsagente is in die gebied ontplooi, maar van die inwoners sê dit wil voorkom of die taxi-eienaars regeer en dat die wetstoepassers met hulle hande gevou sit.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top