Pretoria spartel om die stad se ligte aan te hou

  • 0

Pretorianers leef in vrees dat Eskom enige dag die stad se krag kan afsny omdat hulle elektrisiteitsrekening aan Eskom met sowat R1,6 miljard agterstallig is.

Eskom het die afgelope week in ’n verklaring gewaarsku hulle oorweeg dit om die hele stad se elektrisiteit af te sny as gevolg daarvan.

Eskom sê daar is reeds verskeie vergaderings met die Stad Tshwane gehou om te verseker dat die betaling van hulle elektrisiteitsrekening nagekom word, maar dit was tevergeefs.

Slegs R68 miljoen van die metro se agterstallige rekening van R1,6 miljard is tot dusver aan Eskom betaal.

In ’n poging om te keer dat Pretoria sonder krag sit, het die burgerregteorganisasie AfriForum Dinsdag ’n brief aan Eskom gestuur waarin hulle versoek dat Eskom alternatiewe moet ondersoek om gelde vanaf die Tshwane-metro in te vorder eerder as om die krag af te sny.

Indien Eskom sy dreigement uitvoer en wel die krag afsny, sal kritieke funksies van die land se administratiewe hoofstad en sy meer as 2,7 miljoen inwoners geraak word. Die stad sê hoewel hy teleurgesteld is met Eskom se benadering, is hy daartoe verbind om sy skuld aan Eskom te betaal.

Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir finansies, Peter Sutton, het erken dat Stad Tshwane vir Eskom R1,6 miljard skuld en sê die munisipaliteit is van plan om dit te betaal.

Sutton het in ’n verklaring gesê die verskuldigde bedrag was slegs vier dae agterstallig, dat die uitstaande bedrag betrekking het op slegs Julie en dat alle vorige skuld betaal is.

“Ons finansiële span betrek Eskom deurentyd oor ’n betalingsplan. Ons verstaan ​​ons verantwoordelikheid om ons rekening te delg,” het hy gesê.

Eskom se Daphne Mokwena het gesê die betaling tot dusver het min gedoen om die massiewe uitstaande saldo op die Stad Tshwane se rekening te delg.

“Die teenstrydige betalings is beide onhoudbaar en werklik onaanvaarbaar aangesien Eskom se finansiële posisie welbekend is. Die stad se aanhoudende mislukking met betalings plaas ’n groot las op ons om voort te gaan om die stad van elektrisiteit te voorsien,” het Mokwena gesê.

AfriForum sê in ’n verklaring hoewel hulle verstaan dat daar ’n ooreenkoms tussen Eskom en die Tshwane-metro is vir die betaling van hierdie rekening, sal dit drastiese negatiewe gevolge inhou vir die inwoners van Pretoria wat wel elke maand getrou hul rekeninge betaal indien die krag afgeskakel word.

“’n Geskil tussen staatsorgane is nie veronderstel om gemeenskappe skade te berokken nie,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid. “AfriForum sal alle moontlike pogings aanwend om met Eskom en die Tshwane-metro in gesprek te tree oor moontlike alternatiewe wat nie die getroue belastingbetaler in die donker gaan laat nie.”

“Dit is onregverdig om inwoners, wat hul rekeninge aan die munisipaliteit betaal, te straf weens die Tshwane-metro se versuim om nie hulle betalingsooreenkoms met Eskom na te kom nie,” sê Sampie Steinberg, van AfriForum.

Pretoria is een van 17 munisipaliteite wat versuim het om hulle betalingsreëlings met Eskom na te kom. Minder as die helfte van die 31 munisipaliteite wat betalingsreëlings met Eskom het, kom hul verpligtinge na om uitstaande rekeninge te vereffen, het die minister van finansies, Enoch Godongwana, in die parlement gesê in sy antwoord op ’n vraag van die EFF.

Net nege van die munisipaliteite wat agterstallig is met hulle skuld is op datum met betalings, terwyl nog vyf slegs gedeeltelike betalings gemaak het, het Godongwana skriftelik geantwoord op ’n vraag deur die EFF se parlementslid in die Nasionale Raad van Provinsies, Andrew Arnolds.

Op die vraag of sulke munisipaliteite se krag afgesny kan word, het die minister gesê dit hang alles af van Eskom se kredietbeheer en skuldbestuursprosesse. Hy sê die kragvoorsiener is op die oomblik met die munisipaliteite wat geraak word in gesprek oor hulle skuld.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top