Terwyl ’n euforie oor Suid-Afrika spoel oor ’n nuwe, beskaafde, moderne en geleerde president, duik skrikwekkende voorvalle van afwykende profete en hul gebreinspoelde volgelinge op in verskeie ondersoeke na seksuele uitbuiting, geldeise en voorspellings van die eindtyd.
’n Makabere verhaal van sulke kultusvergrype ontvou skynbaar nou in die pragtige Oos-Kaapse vallei van eNgcobo in ’n ondersoek na voorvalle van moorde op polisie en die doodskiet van nog sewe sektelede, na bewering midde afskuwelike seksuele vergrype en ’n groot groep aanhangers wat net op die koms van Jesus wag.
Dié gebeure is deel van ’n groeiende ontrafeling van vreemde en dikwels gevaarlike kultusse wat kerklui, psigiaters, maatskaplike werkers en menseregtelui die vraag laat vra: Waarom? Hoekom word hierdie bewerings in Suid-Afrika gemaak? Dis mos ’n Amerikaanse ding: kultusse waar seks, moord, selfdood en uitbuitery ’n rol speel.
Nee. Hier in Suid-Afrika is dit allermins ’n vreemde verskynsel: profete vir of van Jesus of van Satan gedy in die land met sy vele kulture en gelowe. Die groot verskil tussen ryk en arm.
Profete, “gestuurde” leiers, word dan gesien en gehoor in groot aanbiddingsale, klein sinkhuisies in die veld, of onder bome, dikwels in selfontwerpte uniforms, of kledy.
Die Macobo Seven Angels Ministry is, na bewering, so ’n plek – ’n miserabele konkoksie van strukture van baksteen, sink, hout en lap omring van geroeste wrakke en dromme in die dorp Ngcobo.
Uit vervalle sinkhutte is hier verlede week 12 kinders en 21 jong vroue en babas deur die polisie weggeneem – na bewering almal ongeletterde seksslawe.
Na hul pa se dood het sewe broers en hul ma die sekte voortgebou waar mense genooi is om al hul besittings prys te gee, om hul kinders nie skool toe te stuur nie, nie geboortesertifikate aan te vra nie, nie identiteitsdokumente te bekom nie.
Die broers het in luukse voertuie gery, die aanhangers het loswerkies gedoen, die broers betaal, en self lydend gewag op die koms van Jesus waarvoor die broers hulle nou “voorberei” het.
Verlede week het ’n slagting tussen kultuslede en die polisie plaasgevind. Die polisie het reeds 13 mense in aanhouding. Hulle verwag om meer te arresteer.
Vroeër vanjaar is ’n “profeet” in Limpopo skuldig bevind oor sy vreemde genesing van siektes soos kanker deur die insekgif Doom in sy “siek” gemeentelede se gesig te sproei. Lethebo Rubalago (25) het getuig dat hy ’n “opdrag” ontvang het dat Doom alle siektes sal genees. Videomateriaal toon hoe van sy “siekes” in beswyming val en dan weer opstaan.
Tim Omotoso van die Jesus Dominion International Church in Durban is onlangs skuldig bevind op 22 aanklagte van seksuele misdrywe. Sy gemeentelede het groot optogte gehou ter ondersteuning van hul geliefde pastoor.
Godsdiens het wel aanleiding gegee tot ’n baie gevoelige dwaling in Suid-Afrika se grootste kerk, die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk toe ’n sinodale besluit in die sewentigerjare geneem is om apartheid te aanvaar op grond van die sg verdeling van tale (lees rasse) soos na in Genesis 11 verwys word.
Eers in 1998 het dié groot kerk sy dwaling bely.
De tydsgees in Suid-Afrika is ryp vir sulke kultusse, sê Saths Cooper, ’n gesiene sielkundige. Onstuimigheid in die ekonomie en sosiale samelewing, en politieke onsekerheid skep die angs vir mense wat geroepe voel om die tydsgees óf uit te buit óf te interpreteer. Eweseer is daar massas wat graag die profete volg.
In die VSA is kultusvorming ’n bekende verskynsel. Selfdood was ’n verskynsel in die Jim Jones-geval toe hy sy volgelinge in 1978 beveel het om gif met koeldrank te drink. Die Waco-voorval in 1993, toe 76 mense selfdood gepleeg het, oa die leier, David Koresh. Die onlangs oorlede Charles Manson was ’n satanistiese leier wat ook veelvuldige moorde in die 1960’s in Kalifornië gelei het.
’n Meer onlangse gebeurtenis is dié van die Brasiliaan Valentina de Andrade wat die berugte Lineamento Universal Surperior gestig het en aanbeveel het dat kinders wat na 1981 gebore is, weggegee of vermoor moes word; ’n ruimteskip sou opdaag om die lede veilig weg te voer. Hoewel daar baie aanduidings was dat van haar volgelinge by seksmisdaad en in die menslike-orgaanhandel betrokke was, is sy vrygespreek van enige aandadigheid.
Die tragiek in die Suid-Afrikaanse kultusvergrype word vererger deur ontoereikende polisie-optrede. Andersyds word volgelinge dikwels gewaarsku teen uitpraat oor hul bestaan of handelinge. Dis ’n amperse verslawing aan die leier, die sogenaamde geloof, en veral die indoktrinasie dat ’n beter lewe (gewoonlik die dood) op hulle wag. Hierdie kultusse floreer ook op verdagmakery teen die owerheid en ander sektegroepe.
Ngcobo is so ’n rampspoedige verskynsel. Gevaartekens oor die bestaan daarvan is al in 2015 aangemeld, en in 2016 is ’n parlementêre verslag daaroor uitgereik. Niks is betyds gedoen om die ramp af te weer nie. So verslaaf was die meeste lede aan die kultus dat hulle bang was om die Seven Angels se terrein saam met die polisie te verlaat om na plekke van veiligheid geneem te word.
So gedy die donker kant in ’n land wat smag na ontwikkeling.
Buro: MvH