Die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het die publiek na bewering doelbewus mislei toe hulle vroeër vanjaar verduidelik het waarom die geldigheid van rybewyskaarte nie verleng kan word nie.
’n Rybewyskaart moet elke vyf jaar hernu word, wat vir baie mense ’n administratiewe nagmerrie is.
Die organisasie teen belastingmisbruik (Outa) wil hê dit moet na 10 jaar verleng word. Navorsing wat twee jaar gelede vir die RTMC gedoen is, het aanbeveel dat die kaarte elke agt jaar hernu moet word. Die RTMC het egter besluit dat die geldigheid van die kaarte nie verleng gaan word nie.
Volgens Outa se uitvoerende direkteur, Stefanie Fick, is dit duidelik dat die RTMC die publiek doelbewus mislei oor die redes waarom die kaarte nie soos aanbeveel elke agt jaar, pleks van elke vyf jaar hernu moet word nie.
Fick sê sy wonder of dit nie verband hou met die geld wat gemaak word om die kaarte elke vyf jaar te druk nie en eis nou antwoorde.
“Dit is duidelik dat die RTMC die publiek doelbewus mislei oor sy sogenaamde rede om nie die geldigheidstydperk van die bestuurslisensiekaart te verleng nie. Outa bevraagteken nou die motiewe van die RTMC, aangesien die uiteindelike besluit om die geldigheidstydperk te verleng by die minister van vervoer lê, wat op sy beurt nie deur ’n entiteit met gevestigde finansiële belange in die besluit beïnvloed moet word nie. Ons vind die redes wat deur die RTMC aangevoer word, belaglik en dit het geen feitelike basis nie,” sê Fick.
READ:
The RTMC misled the public about the existence of a report showing how “communicable diseases” affected its decision on extending the driving licence card validity period. The Department of Transport says the report doesn’t exist.https://t.co/H5Rax0EeVi pic.twitter.com/bhqW26bX8Q— OUTA (@OUTASA) August 14, 2024
Outa is bekommerd dat die weiering om die kaartgeldigheidstydperk te verleng, gekoppel is aan die tender om ’n nuwe kaartdrukmasjien te koop en die geld wat gemaak moet word uit die herdruk van kaarte elke vyf jaar.
Hierdie tender word bestuur deur ’n ander Departement van Vervoer-entiteit, die bestuurslisensiekaartrekening, wat tot dusver nie daarin geslaag het om die beloofde nuwe masjien te bekom nie.
Outa sê rybewyse is ’n noodsaaklike vereiste en moet op ’n regverdige en goed bestuurde stelsel beskikbaar gestel word aan die publiek.
In plaas daarvan het Suid-Afrika ’n stelsel wat deur die RTMC bestuur word wat blykbaar deurspek is van wanadministrasie, tesame met ’n onaanvaarbaar swak rekord van padveiligheid. Dit is ’n nasionale krisis wat die regering tot dusver nie voldoende kon aanspreek nie
“Tensy staatsbeheerde entiteite soos die RTMC besef dat burgerlikesamelewingsorganisasies nie die vyand is nie, maar met die regering wil saamwerk om positiewe verandering te bewerkstellig, sal niks verander nie. Outa glo die enigste manier om betekenisvolle verandering te bewerkstellig, is vir burgerlikesamelewingsorganisasies en instellings in staatsbesit om sinvol betrokke te raak en saam te werk om oplossings vir die bekommernisse te vind,” sê Fick.
Outa het nou die inhoud van die RTMC se navorsing van 2022 gepubliseer, waar die korporasie aanbeveel het dat lisensiekaartgeldigheid tot agt jaar verleng word.
Daar is al lank oproepe om die geldigheid van Suid-Afrikaanse rybewyskaarte van vyf jaar na tien jaar te verleng deur belanghebbendes soos Outa, die AA en bestuurders in die algemeen.
’n Ander groot bekommernis rondom Suid-Afrika se bestuurslisensiestelsel is die feit dat daar net een masjien in die land is wat die kaarte kan druk en dat dit al baie oud is en onklaar raak.
Die masjien wat tans gebruik word, is sedert 1998 in diens en moes eintlik reeds in ongeveer 2009 vervang gewees het.
Suid-Afrika is tans besig om ’n nuwe drukmasjien aan te skaf, wat ook die bekendstelling van ’n nuwe rybewyskaart sal meebring, maar daar is baie verwarring oor die proses.
- Die volledige verklaring kan hier gelees word.