Publiek se bloed kook oor verbod op warm kos

  • 0

......

“Suid-Afrikaners wat die inperkings op hulle daaglikse vryheid tot dusver redelik gelate aanvaar het, raak al hoe meer kriewelrig namate die landwye inperking voortduur.”

......

Suid-Afrikaners is keelvol vir regulasies wat tydens die huidige ramptoestand uitgevaardig word en oënskynlik geen bydrae lewer om die verspreiding van die koronavirus te bekamp nie. Hulle sê dit veroorsaak slegs groot frustrasies onder die publiek.

Die nuutste regulasie wat die land se mense die hoenders in het, is ’n verbod op die verkoop van gaar hoenders en ander gaar voorbereide kos in kettingwinkels.

Foto: Pixabay.com

Suid-Afrikaners wat die inperkings op hulle daaglikse vryheid tot dusver redelik gelate aanvaar het, raak al hoe meer kriewelrig namate die landwye inperking voortduur. Nog een van die regulasies wat mense teen die mure uitdryf, is die verbod op enige oefening buite die grense van hulle private wonings. Al hoe meer mense wil weet waarom hulle nie soos in ander lande waar inperkings geld, in die wye natuur kan gaan stap, draf of fietsry sonder om met ander mense in aanraking te kom nie.

Die verbod op die koop van drank en sigarette word ook wyd gekritiseer, maar volgens sekere studies is daar wel geldige redes waarom dit tydens die ramptoestand verbied moet word.

......

“Verskeie kenners meen die regering kan slae kry as dit in die hof getoets word. Die verbod beteken ook gesondheidswerkers en ander mense wat noodsaaklike dienste verrig en lang ure werk, mag nie meer vir hulle iewers ’n warm maaltyd by een van die kettingwinkels koop nie.”

......

Dit is veral die verbod op warm gekookte kos wat Suid-Afrikaners behoorlik laat kook van woede. Die rede wat die regering daarvoor aanvoer, is dat hulle glo die beskikbaarheid van warm kos sal toenemende beweging en samekomste van mense meebring.

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, sê as daar toegelaat word dat kettingwinkels gekookte kos verkoop, beteken dit alle plekke wat kos verkoop moet ook toegelaat word om dit te doen en dit sal volgens haar ’n toestroming van mense veroorsaak.

Die regulasie het egter wyer komplikasies wat ook die armes swaar kan tref. ’n Grondwetkenner, advokaat Mark Oppenheimer, het aan Netwerk24 gesê soos die nuwe regulasies nou lyk, maak dit nie saak of jy warm kos uitdeel of verkoop nie, dit bly onwettig. Ingevolge die nuwe regulasies word gekookte warm kos nie meer as ’n noodsaaklike produk gesien nie. Dit raak dus ook nieregeringsorganisasies wat kos aan behoeftige mense in sopkombuise uitdeel.

......

“Wat tabak en alkohol betref, meen sommige daar bestaan tog wel regverdiging vir die verbod daarop tydens die ramptoestand. In die geval van tabak word gesê COVID-19 tas die longe aan en rokers het ’n groter kans om aan COVID-19 te sterf.”

......

Verskeie kenners meen die regering kan slae kry as dit in die hof getoets word. Die verbod beteken ook gesondheidswerkers en ander mense wat noodsaaklike dienste verrig en lang ure werk, mag nie meer vir hulle iewers ’n warm maaltyd by een van die kettingwinkels koop nie.

“Regtigwaar? ’n Moeë gesondheidswerker wat terugkeer van ’n deurnagskof van ’n hospitaal moet verhoed word om ’n ete te kan koop? En mense wat die hele dag onder huisarres is mag nie gaan draf om te keer dat hy van sy kop af raak nie?” het een Facebookgebruiker sy frustrasie verwoord.

Iemand anders skryf op Facebook hy wonder as die winkels nie meer warm kos mag verkoop nie, of varsgebakte brood dan nou ook eers koud moet word voordat dit verkoop word. “Dieselfde geld dan seker ook vir ’n pie? Gaan daar dan ’n SAPS-lid by die betaalpunt staan en die temperatuur check? Ek meen ons moet sekerlik seker maak dat elke sinvolle regulasie tot in detail toegepas word, voordat daar dalk ’n warm broodjie of ’n pie deurglip en die hele land in chaos dompel!”

Wat tabak en alkohol betref, meen sommige daar bestaan tog wel regverdiging vir die verbod daarop tydens die ramptoestand. In die geval van tabak word gesê COVID-19 tas die longe aan en rokers het ’n groter kans om aan COVID-19 te sterf. Rook is ook ’n risikofaktor vir mense wat ventilators benodig en daar is nie eers genoeg ventilators vir nierokers nie.

In die geval van die verbod op die verkoop van alkohol wys die voorstanders van die verbod daarop dat hospitale se ongevalle-afdelings veral oor naweke oorstroom word as gevolg van drankverwante voorvalle. Sedert die ramptoestand het dit aansienlik afgeneem. Hulle sê dit stel hospitale in staat om beter te fokus op COVID-19-gevalle.

Intussen kan Suid-Afrikaners hulle maar gereedmaak dat die staat van inperking in sekere dele van die land langer kan duur as in ander dele van die land. Dlamini-Zuma sê die staat van inperking kan dalk veral in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal veel langer as in ander distrikte voortduur waar daar nie ’n groot getal geïnfekteerdes is nie.

Buro: MvH
  • 0
Top