Queeraktiviste plak in luukse gastehuis in Kampsbaai

  • 0

’n Groep queeraktiviste wat al meer as ’n week ’n luukse huureiendom in Kaapstad se gesogte Kampsbaai beset, gaan van betreding en bedrog aangekla word.

Dit volg nadat hulle ’n ultimatum geïgnoreer het om die perseel verlede Donderdag te ontruim. Die aktiviste het die eiendom deur middel van ’n bekende wêreldwye aanlyn huurorganisasie bespreek en vir drie dae se verblyf betaal.

Nadat die drie dae om was, het hulle eenvoudig in die luukse vakansiehuis aangebly en geweier om dit te verlaat. Hulle voer aan hulle beset die perseel om die aandag te vestig op die grond- en behuisingskwessie in die land en die groot gaping wat daar tussen ryk en arm bestaan.

Die groep sê hulle betwis nie mense se reg om in pragtige ruimtes te leef nie, maar hulle glo almal moet die geleentheid hê om dit te kan doen. ’n Woordvoerder van die groep, Kelly-Eve Koopman, sê hulle optrede is daarop gemik om die kwessie uit te lig en ’n groter dialoog te begin oor die dringende krisisse van veiligheid, grond en behuising.

Die Demokratiese Alliansie (DA) het die onwettige besetting van die gastehuis in ’n verklaring ten sterkste veroordeel. Die DA sê ironies genoeg is die groep besig om met hulle optrede die weerloosheid van die LGBTQIA+-gemeenskap te vererger en homofobie nog meer aan te wakker.

“Hierdie onwettige okkupasie moet ontbloot word vir wat dit is, naamlik misplaaste opportunisme onder die dekmantel van aktivistiese sosiale geregtigheid.” Die DA sê in hulle verklaring daar bestaan talle kanale waarlangs die queergemeenskap se kwesbaarheid aangespreek en belig kan word.

Volgens die aktiviste, wat hulle optrede op sosiale media onder die hutsmerk #WeSeeYou movement aan die groot klok hang, wil baie mense weet waarom hulle op dié manier te werk gegaan het. Hulle het op Twitter en Facebook gesê hulle beset die gastehuis in Kampsbaai in solidariteit met arm mense wat nie blyplek het nie terwyl daar talle luukse eiendomme is wat leegstaan.

[Press Statement - Queer Artivists Occupy Camp’s Bay Mansion] #weseeyou Key Points We are queer, black and coloured...

Posted by We See You on Sunday, September 20, 2020

 

Gaby van Wyk, die besturende direkteur van die agentskap Turnkey 365 wat verantwoordelik is vir die verhuring van die eiendom, sê in ’n verklaring hulle het met siviele regsoptrede begin nadat die groep geweier het om ag te slaan op ’n ultimatum dat hulle die perseel moet verlaat. Hulle vra die hof om die groep uit te sit en verantwoordelik te hou vir die alle koste. Die agentskap sê hulle het simpatie met die saak waarvoor die aktiviste staan en erken hulle reg om binne die wet te protesteer, maar is van plan om hulle mandaat teenoor die eienaar van die gastehuis na te kom en toe te sien dat sy wettige regte beskerm word.

Rapport het die naweek berig die groep beoog om self ook regshulp in te win, maar dit is nie duidelik op watter basis hulle regshulp sou berus nie. Die groep vroue het vroeër op sosiale media gesê hulle wil ’n veilige ruimte skep vir queer mense en het sogenaamde mense van kleur uit die LGBTQIA+-gemeenskap genooi om saam met hulle in die gastehuis in te trek.

Die webwerf cape{town}etc berig die polisie het bevestig dat daar by Kampsbaai se polisiestasie ’n saak teen die besetters geopen is. Niemand is nog in hegtenis geneem of uitgesit nie en die saak word glo ondersoek.

Die publiek se reaksie op die onwettige besetting van die gastehuis was nie juis gunstig nie.

Trisa Hugo, wat ’n gastehuis in Kleinmond bedryf, het op Facebook gesê dit is uiters onbillik teenoor die eienaar, bestuurder en werkers van die gastehuis wat beset word, asook ander gaste wat reeds plek daar bespreek het. “En nou moet ander sukkel om hulle uit te kry. As hulle nou by die betrokke minister gaan uitkamp het, het ek hulle aangehits.”

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top