Die ontvoerders van ’n Kaapse sakeman eis glo ’n losprys van miljoene rand in Bitcoin vir sy vrylating.
Die 65-jarige sakeman Liyaqat Parker is Maandag in die Kaapse woonbuurt Parow ontvoer toe vyf mans hom glo in die parkeerterrein van sy besigheid oorrompel het.
Dit is die vierde sakeman in die Wes-Kaap wat die afgelope twee jaar vir ’n losprys ontvoer is.
Bitcoin is ’n internasionale elektroniese geldeenheid waarvan dit baie moeilik is om die spoor te volg. Netwerk24 berig dat Parker se ontvoerders ’n losprys van byna R50 miljoen in Bitcoin eis, maar volgens News24 beloop die Bitcoin-losprys se waarde sowat R4,3 miljoen. Die gerugte dat Parker se losprys in Bitcoin geëis word, en hoeveel dit beloop, kon nie deur sy familie bevestig word nie. ’n Woordvoerder van die familie, Walid Brown, sê hy is bewus van die gerugte oor die losprys, maar kan dit nie bevestig nie.
Volgens Netwerk24 het die ontvoerders die losprys via ’n e-pos geëis. ’n Woordvoerder van die polisie, Kaptein FC van Wyk, het aan die media gesê daar is geen nuwe verwikkelinge sedert Parker se ontvoering nie en dat die saak “uiters sensitief” is.
Die Moslem Juridiese Raad (MJR) het ook hulle besorgdheid uitgespreek oor Parker se raaiselagtige ontvoering. ’n Woordvoerder van die MJR, Mishka Daries, sê die Moslemraad was geskok om van die ontvoering te hoor.
Die ontvoerde Parker is ’n stigterlid van die Foodprop Group wat verskeie winkelsentrums in die Wes-Kaap besit. Hulle besit onder meer die Brackenfell-winkelsentrum, Cape Gate Lifestyle Centre, Willowbridge Village, Laguna Mall, en verskeie ander groot winkelsentrums en besighede.
Sy familie was die afgelope week skugter om met die media te praat, maar het later ’n desperate verklaring uitgereik waarin hulle vir sy veiligheid pleit.
“Ons pa en broer is ’n bejaarde man en ons doen ’n beroep op enige iemand wat by sy ontvoering betrokke mag wees of iemand ken wat by die misdaad betrokke is om hom ongeskonde vry te laat voordat sy gesondheid versleg.”
Sy familie het hom beskryf as ’n toegewyde gesinsman en ’n gerespekteerde besigheidsman wat sy besigheid oor baie jare deur harde werk opgebou het. Hulle beskryf hom ook as ’n filantroop wat ’n groot bydrae tot sy gemeenskap gelewer het.
Parker se ontvoering het kommer laat ontstaan dat dit ’n tendens is wat besig om in die Kaap pos te vat onder Kaapse besigheidslui. Verlede jaar is nóg ’n Kaapse sakeman, Sadek Zhaun, voor sy besigheid in Soutrivier ontvoer. Hy is uiteindelik in Oktober verlede jaar vrygelaat.
Die Wes-Kaapse LUR belas met gemeenskapsveiligheid Dan Plato het aan die media bevestig hy is bekommerd oor die toename van ontvoerings van sakelui in die Wes-Kaap.
Buro: NB