Rage-feeste dreig om weer superverspreiders van Covid te word

  • 0

Vanjaar se Rage-feeste, waar matrikulante jaarliks in groot getalle saamdrom om die einde van hul skoolloopbaan te vier, is landwyd in die gedrang nadat nog een van die groot Rage-feeste gekanselleer is.

Dit volg nadat die organiseerders van die Ballito Rage-fees Woensdag onverwags aangekondig het dat die fees, wat Dinsdag begin het, gekanselleer is toe 36 mense positief getoets het vir COVID-19 skaars ’n dag nadat die fees begin het.

Die Ballito Rage was die eerste van vier soortgelyke feeste wat vanjaar deur Rage Festivals beplan is.

Volgens Rage Festivals se webwerf vind die Plett Rage van 3 tot 7 Desember in Plettenbergbaai plaas. Die fees was Woensdag steeds op hulle webwerf geadverteer. In die lig van die gebeure in Ballito kan daar waarskynlik aangeneem word dat hierdie en ander sulke feeste nou ook in die gedrang is.

KwaZulu-Natal se premier, Sihle Zikalala, het intussen ’n sterk-bewoorde waarskuwing uitgereik en ’n beroep op ouers en leerders gedoen om nie geleenthede en feesvieringe te organiseer of daaraan deel te neem wat die huidige Covid-protokolle kan verontagsaam en lewens in gevaar kan stel nie.

Hy sê berigte dui daarop dat veral matrieks begin saamtrek het in KwaZulu-Natal vir geleenthede soos Rage en ander bekend as Throw The Pen Away after-parties. Zikalala sê hierdie byeenkomste word dikwels gekenmerk deur alkoholmisbruik en riskante gedrag wat ’n bedreiging vir menselewens inhou, veral nou, in die lig van die nuwe Omikron-variant.

“Ons verwag van ouers om ’n leidende rol te speel in die leiding van hul kinders deur te verseker dat die kinders veilig is om die volgende fase van hul lewens ná matriek te betree. Ons wil die jeug herinner aan die missie van hul huidige generasie, naamlik om COVID-19 te verslaan. Die provinsiale regering van KwaZulu-Natal is verbind tot sy verantwoordelikheid om die lewens van al ons burgers te beskerm en ons doen ’n beroep op elke burger om hulle deel te doen,” het hy gesê.

Die Joburg Rage wat in Johannesburg gehou sou word, is reeds uitgestel tot aanstaande jaar. Daar hang ook ’n vraagteken oor die JBay Rage wat van 15 tot 20 Desember op Jeffreysbaai se kalender is. Daar is nog geen bevestiging dat die fees wel sal voortgaan nie.

Die Ballito-fees het die afgelope Dinsdag geopen met ongekende COVID-19-protokolle van krag, insluitend verpligte inentings vir alle personeel en gaste. Daar was ook voor-aankoms COVID-19-toetse vir alle gaste. ’n Toetsfasiliteit is naby die geleentheidsterrein opgerig en personeeltoetsing het Maandag begin; van die eerste 122 personeel wat getoets is, het nie een positief getoets nie.

Die organiseerders sê in ’n verklaring ten spyte van hierdie uiters streng voorkomingsmaatreëls het dit gou duidelik geword dat die fees weer eens die potensiaal het om ’n superverspreider van die COVID-19-virus te word.

Dinsdag het alle oorblywende personeel en alle gaste COVID-19-toetse by die toetsfasiliteit naby die geleentheidsterrein ondergaan voordat hulle die geleentheid betree het. Tussen 14:00 en 22:00 is 940 gaste en personeel getoets en 32 gaste en vier personeel het positiewe resultate gelewer.

Verlede jaar se geleentheid is wyd beskou as ’n superverspreider, nadat meer as 800 mense met COVID-19 besmet is.

"Alhoewel ons die teleurstelling verstaan ​​wat dit veroorsaak vir diegene wat daarna uitgesien het om die fees te geniet, is dit ongekende tye. Ons waardeer almal se begrip en ondersteuning. Kaartjiehouers sal in die komende dae verdere inligting per e-pos ontvang," het die organiseerders in hulle verklaring gesê.

“Ons neem die veiligheid van al ons kliënte, personeel en verskaffers uiters ernstig op. Dit is om hierdie rede dat die organiseerders van die geleentheid die besluit geneem het om die res van Ballito Rage te kanselleer,” lui die verklaring.

Die organiseerders het ’n ernstige beroep gedoen op alle kaartjiehouers wat verkies om in die area te bly en/of gedurende die vakansietydperk te reis om uiters verantwoordelik te wees, veilig te bly en hul rol te speel in die bekamping van die verspreiding van COVID-19.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top