Ramaphosa bel uiteindelik vir Zelenski

  • 0

Bykans twee maande nadat Rusland Oekraïne binnegeval het, het president Cyril Ramaphosa Woensdagaand uiteindelik ook met die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, gesprek gevoer oor die oorlog in sy land.

Ramaphosa het kort na die inval ’n gesprek gevoer met die Russiese president, Wladimir Poetin. Hy is uit verskeie oorde skerp gekritiseer omdat hy nie ook met Zelenski praat nie.

Suid-Afrika weier steeds om Rusland vir die oorlog in Oekraïne te blameer.

Woensdagaand se gesprek tussen die twee staatshoofde is volgens berigte deur Oekraïne se ambassadeur in die land, Liubov Abravitova, gefasiliteer.

Die oproep het geskied te midde van ’n diplomatieke gekibbel agter die skerms tussen Suid-Afrika en Oekraïense diplomate oor die verhouding tussen die twee lande.

Abravitova het vroeër die maand in ’n video op Twitter gekla omdat die Suid-Afrikaanse regering nog geen poging aangewend het om met haar te vergader oor die Russiese inval in hulle land nie. Suid-Afrika het ontken dat hulle nie met Oekraïne wil praat nie.

In haar boodskap met die hutsmerk #TalkToMe het sy gesê na 45 dae was daar was nog geen vergadering met die Suid-Afrikaanse regering oor die oorlog nie.

Sy het gesê tienduisende mense in Oekraïne is reeds dood, miljoene van die land se mense het uit die land gevlug en nog tien miljoen is haweloos of êrens op die vlug terwyl haar pogings tot ’n gesprek op dowe ore val.

“Julle moet aan die regte kant van die geskiedenis wees. Julle kan nie toelaat dat hierdie brutale oorlog voortgaan nie. Asseblief, staan op vir die mense van Oekraïne,” het sy in haar video gesê.

Woensdagaand se oproep het glo op Suid-Afrika se versoek plaasgevind, maar Zelenski het vir Ramaphosa gebel omdat hy weens die omstandighede in sy land tyd moes inruim om met Ramaphosa te praat.

Ramaphosa het op Twitter gesê hy en Zelenski stem saam oor die behoefte aan ’n onderhandelde einde aan die konflik wat Oekraïne se plek in globale voorsieningskettings beïnvloed het, insluitend sy posisie as ’n groot uitvoerder van voedsel na Afrika.

Hy sê Zelenski verwag ook nouer betrekkinge met Afrika in die toekoms.

Suid-Afrika het reeds drie keer buite stemming gebly in die VN wanneer die wêreld sy stem dik gemaak het teen die Russe se inval.

Zelenski het die gesprek tussen hom en Ramaphosa op Twitter bekend gemaak.

Volgens Oekraïne se ambassadeur in Suid-Afrika was dit die eerste gesprek tussen Ramaphosa en Zelenski in ’n lang tyd. Zelenski het op Twitter gesê die oproep het gesentreer rondom samewerking tussen die twee lande.

"Het ’n telefoongesprek met @CyrilRamaphosa gehad. Vertel van ons weerstand teen Russiese aggressie. Bespreek die bedreiging van ’n wêreldwye voedselkrisis, verdieping van betrekkinge met die Republiek van Suid-Afrika en samewerking binne internasionale organisasies," het Zelenski Woensdagaand getwiet.

Abravitova het verlede week in ’n onderhoud aan Daily Maverick gesê Zelenski sal Ramaphosa aanspoor om Poetin te veroordeel vir sy aggressie teen Oekraïne, wat hierdie week ’n nuwe fase betree het met ’n groot Russiese offensief van sowat 75 000 troepe teen die Donbas-streek in die ooste van Oekraïne.

"Ek dink hy sal ’n beroep op president Ramaphosa doen om Rusland te beskuldig vir wat besig is om te gebeur," het Abravitova toe gesê. “Daar is geen ander manier om dit te doen nie. Dis wat hy vir almal sê. Hy sal dit vir die VSA, vir die Europeërs, vir Indië en China sê. Hy sal dit vir Suid-Afrika en Brasilië sê.

News24 het Donderdag berig Abravitova meen ’n oproep tussen Ramaphosa en Zelenski het ’n sterk sein aan die Russiese president gestuur.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top