Die President breek ’n lansie vir die media

  • 0

Suid-Afrika het meer joernaliste nodig, nie minder nie. Selfs die verlies van ’n enkele joernalis is nie ’n verlies slegs vir die bedryf  nie maar vir die hele land, sê Ramaphosa.

Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief hulde gebring aan die werk wat joernaliste tydens COVID-19 gedoen het.

Hy sê die afgelope ses maande het verskeie eise gestel en in baie lande in die wêreld het die pandemie verskeie burgerlike vryhede ingeperk en sosiale kohesie voor ’n groot uitdaging gestel.

In die lande met sterk  instellings, waaksame regstelsels en ’n robuuste media kon daar verhoed word dat menseregte ondermyn word.

Ramaphosa het in sy weeklikse nuusbrief Suid-Afrikaners aangemoedig om die media te ondersteun omdat dié bedryf noodsaaklik is vir die land se demokrasie. Hy het die media geloof vir die waghondrol wat hy speel en sy burgerlike plig uitvoer om soveel mense moontlik oor die koronavirus ingelig te hou.

Hy sê dit is gedoen te midde van beproewende tye en beperkte hulpbronne. Hy sê die ekonomiese impak op die media weens COVID-19 kan nie ongesiens verbygaan nie. Hy het ’n beroep gedoen op mense om onder meer vir nuusinhoud op die internet te betaal, hul televisielisensies te betaal, skarefinansiering te ondersteun of bloot net ’n koerant te koop. Hy sê alhoewel die regering sal voortgaan om advertensies in publikasies en die uitsaaiwese te plaas, is dit sy hoop dat die privaatsektor ook sy deel sal doen. 

Tydens die pandemie het die media nie slegs sy tradisionele waghondrol vervul nie, maar ook sy burgerlike plig nagekom deur die landwye poging te ondersteun om die verspreiding van die virus te bekamp, het die President gesê.

 “Dit is ses maande sedert die nasionale ramptoestand afgekondig is. Ten spyte van die ongekende aard van die siekte en die geweldige uitdaging waarvoor dit die land met sy 58 miljoen inwoners te staan gebring het tydens die grendeltyd, het ons goed gevaar. Ons het daarin geslaag om die verspreiding van die virus te beperk hoofsaaklik omdat ons die samewerking en deursettingsvermoë van al die land se mense gehad het,” sê Ramaphosa.

Die President sê die rol wat die media hierin gespeel het, moenie onderskat word nie. “Ons is groot dank verskuldig aan die land se hardwerkende en toegewyde joernaliste. Hulle het ons mense ingelig gehou deur middel van sleutelboodskappe oor die aard van die siekte soos om sosiale afstand te handhaaf en gesonde higiëne toe te pas, naamlik gereeld hande te was.”

Hy het ook die media geprys vir die rol wat hulle gespeel het om korrupsie aan die lig te bring en sê dit sou waarskynlik nooit aan die lig gekom het as dit nie vir die media was nie. Daardeur het hulle ’n nasionale debat oor korrupsie ontketen wat aanleiding gegee het tot verskeie hoëprofielondersoeke en so die publiek se vertroue gewen. “Hulle moes dit onder moeilike omstandighede doen en dikwels met beperkte bronne tot hul beskikking.”

Ramaphosa sê ’n vrye media is nie ’n doel op sigself nie. Dit is ’n manier waarop ’n demokrasie beveilig en in stand gehou word.

Teen hierdie agtergrond is dit volgens die President jammer om te sien dat die mediabedryf ook soos ander bedrywe in die grendeltyd swaar getref is.

“Ons het ons mediaveterane met hulle wye ervaring en institusionele geheue nodig  om krities te rapporteer en ingeligte analises te doen. Terselfdertyd benodig ons meer jong joernaliste in die professie wat tegnologies goed geskool is en op hoogte is met nuwe tendense in die bedryf,” het Ramaphosa gesê.  

Ramaphosa sê terwyl daar begin word met die groot taak om die land se ekonomie weer op te bou is die mediabedryf meer nodig as ooit.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top