Ramaphosa daag Musk uit om iets aan Suid-Afrika terug te gee – miljardêr kap terug

  • 0

Die Amerikaanse tegnologiemiljardêr Elon Musk en president Cyril Ramaphosa het mekaar oor Suid-Afrika se rassebeleid en die omstrede Starlink-lisensievereistes aangevat, met Musk wat die land van rassisme teenoor wit mense en Asiërs beskuldig.

Ramaphosa het Musk uitgedaag om sy Suid-Afrikaanse wortels te onthou en iets terug te gee aan die land waar hy grootgeword het. Musk het egter nie op die beroep gereageer soos Ramaphosa moontlik gehoop het nie en Suid-Afrika daarvan beskuldig dat dit “superrassisties teenoor wit mense en Asiërs” is.

Die woordewisseling tussen die twee het die voortslepende spanning oor Musk se satellietinternetdiens, Starlink, en Suid-Afrika se beleid van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) opnuut op die spits gedryf.

Ramaphosa het die uitdaging aan Musk gerig tydens ’n onderhoud met Jonathan Karl van ABC News in Silicon Valley, Kalifornië, waar hy ’n hoëvlakafvaardiging lei om Amerikaanse tegnologiebeleggings na Suid-Afrika te lok.

Op ’n vraag wat hy vir Musk sou sê indien hulle mekaar sou ontmoet, het Ramaphosa gesê die miljardêr behoort te onthou waar hy vandaan kom en ’n bydrae te lewer tot die ontwikkeling van die land en sy mense.

Volgens Ramaphosa het Musk ’n groot deel van sy grondliggende kennis en opvoeding in Suid-Afrika ontvang. Hy het aangevoer dat die geleenthede wat Musk as wit kind tydens apartheid geniet het, deel gevorm het van die grondslag waarop sy latere internasionale sukses gebou is.

Hy het die ongelykhede van die destydse onderwysstelsel as voorbeeld genoem en gesê die apartheidsregering het R12 aan die opvoeding van ’n wit kind bestee vir elke R1 wat aan dié van ’n swart kind bestee is.

Ramaphosa het aangevoer dat Musk se bevoorregte opvoedkundige agtergrond hom moontlik verhinder om die volle omvang van die ongelykhede wat apartheid veroorsaak het, te verstaan.

Musk het Dinsdag (17 November) op sy sosialemediaplatform X teruggekap en Suid-Afrika beskuldig van uiterste rassisme teenoor wit mense en Asiërs.

Die uitval is die jongste hoofstuk in Musk se openbare stryd met die Suid-Afrikaanse regering oor die lisensiëring van Starlink, wat deur sy maatskappy SpaceX bedryf word.

Musk kritiseer Suid-Afrika se SEB-wetgewing reeds geruime tyd en beweer dat Starlink nie ’n bedryfslisensie kan kry nie omdat hy nie aan die land se eienaarskapsvereistes voldoen nie.

Hy het die vereiste dat telekommunikasiemaatskappye minstens 30% van hul aandele aan histories benadeelde groepe moet toeken, as diskriminerend bestempel en onder meer daarna as “apartheid 2.0” verwys.

Die regering verwerp dié beskuldigings en hou vol dat die regulasies nie teen Musk of Starlink gemik is nie, maar daarop gerig is om die ekonomiese ongelykhede van apartheid reg te stel.

Die geskil het ook spanning binne die RNE veroorsaak. Die DA se minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Solly Malatsi, het voorgestel dat alternatiewe beleggingsprogramme as plaasvervanger vir direkte swart aandele-eienaarskap aanvaar word.

Die voorstel het egter teenstand ontlok en die bestaande regulasies is nog nie gewysig nie. Sakeliga het intussen die 30%-eienaarskapsvereiste in die kommunikasiesektor in die hof begin betwis.

Ramaphosa se uitdaging aan Musk kom op ’n tydstip waaneer Suid-Afrika juis probeer om die Amerikaanse tegnologiesektor se vertroue en beleggings te wen.

Die President lei vandeesweek ’n afvaardiging na Silicon Valley met verteenwoordigers van die regering, sakewêreld, universiteite, navorsingsinstellings en die tegnologiesektor.

Die program sluit gesprekke met internasionale tegnologiemaatskappye soos Google, Microsoft en Cisco, asook Stanford-universiteit, in.

Die gesprekke fokus onder meer op beleggings in datasentrums, KI, digitale vaardighede, robotika en kuberveiligheid.

Die regering wil Suid-Afrika as ’n aantreklike bestemming vir tegnologiebeleggings bemark en die land se rol in Afrika se digitale ekonomie versterk.

Die ironie is dat Ramaphosa Amerikaanse tegnologiereuse probeer oorreed om in Suid-Afrika te belê terwyl een van die wêreld se invloedrykste tegnologie-entrepreneurs, wat juis in Suid-Afrika gebore is en grootgeword het, hom in ’n openbare stryd met die regering bevind.

Of Musk ooit op Ramaphosa se beroep gaan reageer deur in sy geboorteland te belê, is ’n ander saak. Vir eers lyk dit of die twee eerder besig is om mekaar oor Suid-Afrika se verlede en hede aan te vat.

Lokprent deur Gerd Altmann van Pixabay

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top