Ramaphosa en Cele moet skuld dra vir bloedbad, sê politieke partye en burgerregte-organisasies

  • 0

Politieke partye en burgerregte-organisasies in Suid-Afrika eis opnuut dat die minister van polisie, Bheki Cele, se kop moet waai na die dramatiese toename in misdaad volgens die statistiek wat verlede Vrydag bekendgemaak is.

Verskeie opposisiepartye het hul oproep aan president Cyril Ramaphosa herhaal om Cele af te dank, terwyl Ramaphosa self ook blameer word vir wat sommige as ’n bloedbad bestempel.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het Maandag op Twitter aan Ramaphosa gesê misdaad in die land is buite beheer en dit is tyd om skoon te maak. “O, en kry ’n regte minister van polisie. Een wat die vaardighede en politieke wil het om misdaad werklik aan te pak,” het Outa getwiet.

Ian Cameron van die burgerregte-organisasie Action Society SA sê Suid-Afrika is ’n bloedbad en daar is geen ander manier om dit te beskryf nie. Volgens hom het Cele die oorlog teen misdaad heeltemal verloor en het die land al hoe meer gewelddadig geword.

Die SAPD-jaarverslag toon dat die polisie slegs 14,5% van moorde en 10,43% van gewapende rooftogte oplos. Die polisie is 30% minder geneig om moorde op te los en 39% minder geneig om gewapende rooftogte op te los as toe Ramaphosa in 2018 president geword het.

Die polisieministerie het Vrydag die kwartaallikse misdaadstatistieke voorgelê wat ’n toename in misdaadsyfers van Oktober tot Desember 2022 toon.

Moorde het laat verlede jaar oor drie maande alleen met 10% toegeneem. Daar is tussen Oktober en Desember 7 555 moorde gepleeg.

Die leier van die Vryheidsfront, Pieter Groenewald, sê in ’n verklaring dat Suid-Afrika soos met die energiekrisis sit  met ’n misdaadprobleem wat rampspoedige vlakke bereik het en dringende aandag vereis voordat dit soos met Eskom te laat is om te red.

Altesame 27 066 mense is verlede jaar van Januarie tot Desember in Suid-Afrika vermoor. Dit is 2 256 per maand of 76 elke dag. Elke ander misdaadkategorie is ewe skokkend.

Groenewald sê die vraag is of Ramaphosa bereid sal wees om op te tree, en of hy ook net sal toekyk terwyl misdaad verder buite beheer toeneem, soos hy toegekyk het hoe Eskom op sy wagbeurt verval.

Alle misdaad in die kategorie waar misdaad teen die persoon gemik is (kontakmisdaad), het skerp toegeneem teenoor die ooreenstemmende tydperk ’n jaar gelede.

Dit sluit in moord (7 555, 10,1% meer), seksuele oortredings (9,6%), poging tot moord (24,3%), aanranding met die doel om ernstig te beseer (8,7%), aanranding (12%), roof (21,2%) en gewapende roof (10,8%). Die gemiddelde toename is 11,6%.

Die DA het in hulle reaksie gesê die jongste misdaadstatistieke onthul die onverpoosde slagting van Suid-Afrika se burgers. Vir die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis het moorde elke dag meer as 80 moorde en verkragtings meer as 135 verkragtings.

“In watter ander land in die wêreld sal ’n minister van polisie steeds sy werk onder sulke omstandighede behou?” vra die DA se skaduminister van polisie, Andrew Whitfield, in sy verklaring.

Whitfield sê Suid-Afrika het nie sedert die aanbreek van demokrasie in 1994 al ooit so ’n gewelddadige, moorddadige en bloedige oorlog teen misdaad soos vandag gehad nie. “Dit is ’n oorlog wat heeltemal verlore gaan as gevolg van ’n vakuum in misdaadintelligensie, swak opgeleide polisiebeamptes en polisiestasies met gebrekkige hulpbronne regoor die land.”

Van die ergste statistieke wat aan die lig gebring is, sluit in:

  • 7 555 moorde (82,1 per dag) (toegeneem vanaf 74 per dag)
  • 15 545 seksuele aanrandings (169 per dag) (toegeneem vanaf 154 per dag)
  • 50 582 aanranding met die doel om ernstig te beseer (550 per dag) (toename vanaf 505 per dag)
  • 37 829 gewelddadige rooftogte (411,2 per dag) (toegeneem vanaf 371 per dag).
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top