Die naderende 30 Junie-ultimatum wat deur antiimmigrantegroepe gestel is, het Suid-Afrika op ’n mespunt geplaas, met president Ramaphosa en minister Gayton McKenzie wat gister (Dinsdag) op Jeugdag ’n dringende beroep op Suid-Afrikaners gedoen het om nie die reg in eie hande te neem nie.
Tydens die amptelike viering van die 50ste herdenking van die Soweto-opstand van 1976 het Ramaphosa in sy toespraak by Nasrec in Johannesburg gewaarsku dat daar pogings is om die immigrasiekwessie te gebruik om die land te destabiliseer.
Sy opmerkings volg te midde van toenemende spanning rondom die 30 Junie-sperdatum wat deur groepe soos March and March bevorder word. Die groepe eis dat ongedokumenteerde buitelanders teen daardie datum Suid-Afrika moet verlaat.
Ramaphosa het die ultimatum as “onnodig” beskryf en beklemtoon dat slegs die staat die bevoegdheid het om immigrasiewette af te dwing.
YOUTH DAY | President Cyril Ramaphosa says: “Even as we recognise the challenge of illegal immigration and undocumented migrants in our country, which we are taking decisive action to address, our problems are in the main our own problems.” pic.twitter.com/wb8fQukpMm
— SABC News (@SABCNews) June 16, 2026
“Daar is ’n opsetlike bedoeling om die land te destabiliseer deur immigrasie-uitdagings as wapen te gebruik. Ons sal dit nie toelaat nie,” het hy gesê.
Hy het erken dat baie Suid-Afrikaners gefrustreerd is oor hoë werkloosheid, misdaad, swak grensbeheer en die druk wat immigrasie op openbare dienste plaas. Volgens hom mag dié frustrasies egter nie aanleiding gee tot xenofobie, geweld of vigilante-optrede nie.
Hy het terselfdertyd probeer wys dat die regering wel besig is om op te tree. Hy het ’n aantal maatreëls uitgelig wat reeds geld, of beplan word, waaronder tronkstraf vir werkgewers wat doelbewus ongedokumenteerde immigrante aanstel, die instelling van spesiale deportasiehowe om uitsettingsprosesse te versnel, die ontwikkeling van ’n biometriese register vir beter identifikasie van persone in die land, en verskerpte grensbeheer, sowel as gereelde inspeksies by werkplekke.
Ramaphosa se waarskuwing het gekom op ’n dag wat oorspronklik bedoel was om die opoffering van die Soweto-jeug van 1976 te herdenk. In plaas daarvan het die immigrasiekrisis grootliks die openbare diskoers oorheers en die fokus verskuif na die uitdagings waarmee vandag se jong Suid-Afrikaners worstel, waaronder werkloosheid, armoede en ’n groeiende gevoel van ekonomiese uitsluiting.
President @CyrilRamaphosa arrives at the Hector Pieterson Memorial Site in Soweto, Johannesburg, ahead of the wreath-laying ceremony commemorating the 50th Anniversary of the 1976 Youth Uprising.
As South Africa reflects on the events of 16 June 1976, the nation remembers the… pic.twitter.com/e3Viu5g5BO
— The Presidency 🇿🇦 (@PresidencyZA) June 16, 2026
By ’n afsonderlike byeenkoms het Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur en leier van die Patriotic Alliance (PA), ’n soortgelyke boodskap uitgedra. McKenzie, wat in die verlede bekendheid verwerf het met sy harde “Abahambe”-veldtog teen onwettige immigrasie, het jongmense gewaarsku om nie by enige selfhelpaksies betrokke te raak nie.
“As jy onwettige buitelanders wil verwyder, moenie die jeug betrek nie. Dit is die werk van wetstoepassingsowerhede,” het hy gesê.
[WATCH] "If you want to remove illegal foreign nationals, don't involve the youth. Use your own children," Mckenzie warns those who threaten to remove illegal foreigners on June 30. He says that is the work of law enforcement authorities.#Newzroom405 pic.twitter.com/6SP79AvWbf
— Newzroom Afrika (@Newzroom405) June 16, 2026
McKenzie se standpunt het egter gemengde reaksie ontlok. Kritici meen sy huidige houding staan in skerp kontras met sy vorige retoriek en beskuldig hom van ’n politieke U-draai noudat hy deel van die regering is. Sy ondersteuners voer daarteenoor aan dat hy bloot verantwoordelike leierskap toon deur die oppergesag van die reg bo populistiese sentiment te plaas.
Die spanning rondom die 30 Junie-sperdatum het reeds verreikende gevolge begin hê. Berigte dui daarop dat duisende buitelanders, veral uit Malawi, Nigerië en ander Afrika-lande, die afgelope weke na sentra soos Durban gestroom het uit vrees vir moontlike geweld. Sommige hoop om deur hul regerings gerepatrieer te word indien die situasie verder sou versleg.
Taxi council SANTACO has weighed in on migration issues in the country, stressing that government must apply stricter measures to ensure foreigners are in the country legally. https://t.co/G4bzi9n6O5
— Eyewitness News (@ewnupdates) June 16, 2026
Menseregte-organisasies waarsku dat die situasie reeds besig is om in ’n humanitêre krisis te ontwikkel. Daar is verskeie berigte van plaaslike protesaksies en van intimidasie en dreigemente teenoor buitelanders.
Die gevolge strek egter verder as Suid-Afrika se grense. Verskeie kunstenaars en rolspelers in die vermaaklikheidsbedryf meld dat hulle reeds werksgeleenthede en optredes elders in Afrika verloor het weens groeiende anti-Suid-Afrikaanse sentiment wat met xenofobie verbind word.
Openbare mening oor die kwessie bly diep verdeeld. In baie gemeenskappe is daar woede dat die regering volgens inwoners te stadig optree om onwettige immigrasie aan te spreek. Kritici wys op die voortdurende probleme by Binnelandse Sake, die agterstande in dokumentverwerking en die gebrek aan doeltreffende grensbeheer.
Susidina wena @CyrilRamaphosa if you and your cadres did your jobs we wouldn't be here https://t.co/gSFlXLEOCh
— Duchess ya ma Mpondomise (@Ntombekhaya_) June 16, 2026
Aan die ander kant steun sakegroepe, menseregte-organisasies en talle burgerlike organisasies die regering se oproep tot kalmte. Hulle waarsku dat vigilante-optrede en massa-uitsettings ernstige ekonomiese skade kan veroorsaak en die risiko van wydverspreide geweld verhoog.
Met minder as twee weke oor voordat die omstrede sperdatum aanbreek, bly die atmosfeer gespanne. Die regering hou vol dat wet en orde sal seëvier, terwyl veiligheidsdienste na bewering op verhoogde gereedheid geplaas is. Die groot vraag is nou of die staat daarin sal slaag om die groeiende frustrasie van groot getalle Suid-Afrikaners te bestuur sonder dat dit in nog ’n uitbarsting van xenofobiese geweld ontaard.
