Suid-Afrikaners se oë is nou gerig op president Cyril Ramaphosa se volgende politieke skuiwe nadat hy Maandag daarin geslaag het om die aanslag teen sy leierskap in eie geledere te oorleef.
Hy is tydens die ANC se 55ste beleidskonferensie by Nasrec in Johannesburg met ’n gemaklike meerderheid van 579 stemme vir ’n tweede termyn as ANC-president verkies. Ramaphosa het met 2 476 stemme gewen teen Zweli Mkhize se 1 897 stemme.
Hoewel die Ramaphosa-kamp daarin kon slaag om vyf van die topseweposisies in te palm, was dit nie ’n volledige oorwinning vir Ramaphosa nie. Paul Mashatile, wat nie deur die president se kamp ondersteun is nie, is bokant Oscar Mabuyane en Ronald Lamola tot adjunkpresident verkies. Nomvula Mokonyane wat as eerste adjunksekretaris verkies is, was die enigste uitgesproke RET-lid wat die topsewe gehaal het.
Good morning Comrades, I wish to assure you that the communication I received from the acting SG of the ANC does not affect my ability to stand. If nominated by branches of the ANC, I am still allowed stand for nomination and I will avail myself.
Malibongwe!#ANC55— Dr Dlamini Zuma (@DlaminiZuma) December 16, 2022
Politieke waarnemers meen Maandag se resultate sal opskuddings in beide die kabinet en elders in die Luthuli-huis tot gevolg hê. Dit bied ’n gulde geleentheid aan Ramaphosa om ontslae te raak van die ou hout in sy kabinet.
Nkosazana Dlamini-Zuma, wat tydens die vorige beleidskonferensie naelskraap teen Ramaphosa verloor het, en Lindiwe Sisulu, wat ook jare lank lid is van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK), se politieke loopbane in die ANC is ná hierdie week se konferensie waarskynlik finaal daarmee heen.
Albei vroue het hulle oë daarop gehad om Ramaphosa te verslaan en die leierskap by hom oor te neem. Hulle het sleg tweede gekom en kon nie eers die nominasielys op die stembriefies haal nie.
Dlamini-Zuma het tot en met die aanvang van die konferensie gesê sy sal haarself verkiesbaar stel as president indien sy van die vloer benoem word maar het haar nie beskikbaar gestel, soos wat sy beloof het, toe sy wel genomineer word nie.
#ANC55 National Elective Conference Announcement Results – Newly Elected President, Comrade Cyril Ramaphosa #ANC55Conference pic.twitter.com/8zI9fyjYZm
— African National Congress #ANCNC55 (@MYANC) December 19, 2022
Sisulu se aspirasie om ten minste die topsewe te haal, het ook misluk toe sy nie genoeg steun van die vloer kon kry om as tesourier-generaal genomineer te word nie.
Albei die vroue sal waarskynlik tydens Ramaphosa se volgende kabinetskommeling vroeg in die nuwe jaar die trekpas kry en hulle tassies as minister moet pak.
Een van die vrae waaroor daar Maandag wyd bespiegel is, is hoe lank dit gaan duur voordat Paul Mashatile ook die adjunkpresident van die land gaan word noudat hy tweede in bevel van die ANC is.
Die posisie van die huidige ANC-woordvoerder Pule Mabe lyk ook onhoudbaar nadat hy hom onsuksesvol vir die tesourier-generaalposisie onder die Zweli Mkhize-lys beywer het. Hy het Mkhize uitdruklik ondersteun in die wedloop teen Ramaphosa.
“Laat ek dit op rekord sê, ek het my beste werk gedoen as die woordvoerder van die ANC. Die party moet nou nuwe hande inbring,” het hy Dinsdag by Nasrec aan joernaliste gesê.
KwaZulu-Natal wat die meeste afgevaardigdes by Nasrec het en Zweli Mkhize vir die ANC-presidentskap gesteun het, kon nie een lid van die provinsie in die topsewe verkies kry nie.
Paul Mashatile, wat nie deur die president se kamp ondersteun is nie, is bokant Oscar Mabuyane en Ronald Lamola tot adjunkpresident verkies. Mashatile het 2 178 stemme gekry, vergeleke met Mabuyane se 1 858 en Lamola se 315.
Gwede Mantashe is as nasionale voorsitter herkies. Hy het die posisie van nasionale voorsitter gewen met 2 062 stemme teenoor David Masondo se 230 en Stanley Mathabatha se 2 018 stemme, terwyl Fikile Mbalula die belangrike amp van sekretaris-generaal sal beklee. Sy eerste adjunk-sekretaris sal Nomvula Mokonyane wees, en die tweede adjunk sal Maropene Ramokgopa wees.
Ramaphosa se ander bondgenoot Gwen Ramokgopa, wat as ANC-tesourier verkies is, sal ’n reusetaak hê om die organisasie se boeke te laat klop in die aanloop tot 2024 se verkiesing, aangesien die party se sakke leeg is. Daar is dikwels nie eers genoeg geld om die personeel se salarisse te betaal nie.
Of Ramaphosa en sy nuwe span daarin gaan slaag om ’n einde te bring aan die voortdurende faksiegevegte in die organisasie en of die week se konferensie eerder daardie verskille op die spits gaan dryf, is iets wat Suid-Afrikaners in die volgende weke en maande met groot belangstelling sal dophou.
Aan die een kant sal Ramaphosa steeds ingeperk word deur opposisiefaksiebelange in die party se NUK, van wie sommige ’n baie duister verlede het, terwyl hy meer as in die verlede sal kan staatmaak op die steun van sy onmiddellike binnekring in die topsewe.