President Cyril Ramaphosa het erken dat die krisis waarin Eskom hom bevind, die gevolg is van die verwoestende impak wat staatskaping oor baie jare gehad het. Hy gee ook toe dat beurtkrag die gevolg van die regering se eie beleidsfoute is.
Dit volg nadat daar ’n storm losgebars het om die kop van een van Eskom se raadslede, Busisiwe Mavuso, wat verlede week uit ’n vergadering van die parlementêre oorsigkomitee, Skoor, gestorm het. Sy het die skuld vir die voortslepende probleme by Eskom vierkantig voor die deur van die ANC-regering gelê. Sy het die vergadering verlaat nadat die voorsitter, Mkhuleko Hlengwa, haar voor stok gekry het oor haar uitlating.
Sy het gesê die ANC-regering moet die skuld kry vir die “Eskom-gemors”, en nie die huidige direksie en bestuur of André de Ruyter nie.
Mavuso, wat ook uitvoerende hoof van Business Leadership SA is, se optrede het groot reaksie onder Suid-Afrikaners uitgelok. Sommige het haar lof toegeswaai vir haar optrede, terwyl ander haar gekritiseer het.
Die Departement van Openbare Ondernemings sê Mavuso se optrede was betreurenswaardig en onbetaamlik vir ’n raadslid. Sy hou egter vol dat die huidige raad nie aanspreeklik gehou kan word vir dit wat vóór sy termyn verkeerd geloop het nie en dat die ANC-regering die blaam moet dra.
Sonder om te verwys na Vrydag se onderonsie in die parlement of om haar by die naam te noem, het Ramaphosa Maandag in sy weeklikse nuusbrief feitlik in soveel woorde erken sy was reg. Hy het in die bresse getree vir Eskom se direksie en sê die beurtkrag wat ons nou ervaar, is die gevolg van beleidsfoute en die impak van staatskaping oor baie jare.
It is difficult and unacceptable for South Africans to endure load-shedding. But we are doing everything in our means to ensure that, like state capture, it soon becomes a thing of the past. https://t.co/WHg16iT8tt pic.twitter.com/3w2OCIS42D
— Cyril Ramaphosa 🇿🇦 (@CyrilRamaphosa) April 25, 2022
Hy sê vir jare is die bestaande kragstasies nie behoorlik onderhou nie en dat daar onvoldoende belegging was in die tegniese vaardighede wat nodig is om kragsentrales te bedryf en in stand te hou.
“Sodoende is ons die direksie en bestuur van Eskom ons volle ondersteuning verskuldig terwyl hulle werk om die situasie om te draai. Hulle moet die ligte aanhou terwyl hulle Eskom herbou as ’n lewensvatbare entiteit wat sy ontwikkelingsmandaat as ’n staatsonderneming vervul.”
Ramaphosa sê miljarde rande wat vir kritieke operasionele doeleindes nodig was by Eskom, is na private sakke herlei.
Hy sê Eskom se groot skuldlas, insluitend meer as R36 miljard se uitstaande munisipale skuld, ondermyn die kragvoorsiener se vermoë om sy instandhouding, infrastruktuurbou en ander bedrywighede te verbeter.
Die DA-leier, John Steenhuisen, het hom ook by Mavuso geskaar. “Ek is by haar! Soos George Orwell gesê het, ‘Tydens tye van universele bedrog word die vertel van die waarheid ’n revolusionêre daad’," het Steenhuisen op Twitter gesê.
Hy sê sy het die probleem perfek gediagnoseer – dit is die ANC-beleid van kaderontplooiing, staatsmonopolie en korrupsie wat tot die ineenstorting van Eskom en ander staatsondersteunde entiteite gelei het.
Volgens Steenhuisen is sy merkwaardig sleg deur Skoor behandel. “As jy nie die waarheid in die parlement kan vertel nie, waar anders kan jy dit vertel?” het hy op Twitter gevra.
I’m with her!
As George Orwell said "During times of universal deceit, telling the truth becomes a revolutionary act."
Ms Mavuso diagnosed the problem perfectly - it is the ANC policies of cadre deployment, state monopoly and corruption that led to the collapse of ESKOM / SOEs. pic.twitter.com/uJO60tNBMq
— John Steenhuisen MP (@jsteenhuisen) April 23, 2022
Ramaphosa sê in sy nuusbrief beurtkrag kom die land se ekonomie duur te staan en veroorsaak groot frustrasie onder alle Suid-Afrikaners en skep swaarkry vir huishoudings en besighede.
Hy sê die land ervaar al meer as ’n dekade periodieke kragtekorte. “Ons is egter vasbeslote dat dit nie in die toekoms deel van ons lewens moet bly wees nie. Om hierdie probleem op te los, moet daar tot die wortels daarvan deurgedring word,” het Ramaphosa gesê.
“Suid-Afrika se vloot steenkoolkragstasies is oud en hul werkverrigting verswak. Ten spyte van waarskuwings van energiekenners oor dreigende energietekorte byna twee dekades gelede, was daar ’n vertraging in die ingebruikneming van nuwe opwekkingskapasiteit. Toe bouwerk aan Medupi-kragstasie in Limpopo in 2007 begin is, was dit die eerste kragstasie wat Eskom in meer as 20 jaar gebou het. Medupi is daarna geteister deur vertragings, koste-oorskryding en onklaarraking as gevolg van ontwerpprobleme, met baie van hierdie uitdagings wat verband hou met bewerings van korrupsie.”