Ramaphosa erken beurtkrag is lank nie verby

  • 0

President Cyril Ramaphosa het erken dat Suid-Afrikaners maar vir lief sal moet neem met die feit dat beurtkrag vir die afsienbare toekoms deel van hulle daaglikse bestaan sal wees.

Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê gegewe die onvoorspelbare prestasie van Eskom se vloot steenkoolkragstasies, beurtkrag nie op kort termyn uitgeskakel sal kan word nie.

“Dit is die ongelukkige werklikheid van ons situasie, wat ’n lang geskiedenis gehad het,” sê Ramaphosa.

Dit is in skrille kontras met ’n uitspraak van hom in 2015 toe hy gesê het beurtkrag sou oor 18 maande tot twee jaar iets van die verlede wees asof dit nooit gebeur het nie.

Die President se erkenning plaas ook ’n demper op sy energiereaksieplan wat onlangs deur hom aangekondig is maar volgens alle aanduidings nie op dreef kan kom nie.

Ramaphosa gee in sy nuusbrief toe dat die afgelope twee weke vir elke persoon in Suid-Afrika uiters frustrerend was en dat die land se mense ontstoke is. “Die wydverspreide openbare woede is heeltemal geregverdig,” sê hy.

Met Eskom wat gedwing is om weer beurtkrag te implementeer, moes individue, huishoudings en besighede die afgelope tyd vir tot vier uur op ’n slag met kragonderbrekings worstel.

Dit het verskriklike gevolge vir byna elke deel van die samelewing, van onderwys tot openbare veiligheid tot die verskaffing van gesondheidsdienste. Groot en klein besighede verloor geld en die energiekrisis stel investering en die land se ekonomiese herstel in gevaar, sê Ramaphosa.

“Daar is ’n gevoel van wanhoop wanneer dit lyk of die situasie nie verbeter nie en dat daar blykbaar geen einde aan hierdie krisis in sig is nie.”

Volens hom word daar egter vordering gemaak met die implementering van die bykomende aksies wat hy in Julie aangekondig het, alhoewel die gevolge dalk nie onmiddellik gevoel word nie.

Hy sê die regering se doelwit vir die onmiddellike toekoms is om die frekwensie en erns van beurtkrag te verminder deur kragstasie-onderbrekings aan te spreek.

Dit is ’n aansienlike uitdaging gegewe die gemiddelde ouderdom van kragstasies, en dat kritieke instandhouding in die verlede nie met die nodige tussenposes onderneem is nie.

Die Nasionale Elektrisiteitskrisiskomitee wat hy in Julie aangestel het, gee aandag aan die wetgewende en beleidshervormings wat nodig is om doeltreffender kragvoorsiening te vestig, het Ramaphosa in sy nuusbrief beloof.

Hy sê Eskom implementeer dringend maatreëls om aanlegprestasie te verbeter, wat ’n prioriteit is totdat nuwegenerasiekragprojekte in werking gestel word.

“Dit spreek die kritieke kwessie van steenkoolvoorsiening aan, insluitende samewerking met Transnet oor die vervoer van steenkool en monitering van die konsekwentheid van die verskaffing van steenkoolmyne na stasies. Eskom spreek ook die swak gehalte van steenkool aan, wat dikwels tot onderbrekings lei. Mense met ondervinding in die bestuur van kragstasies word teruggebring om te help met aanlegbedryf, bestuur en mentorskap.”

Ramaphosa het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om saam te staan ​​om die druk op die nasionale netwerk te verlig. Hy sê dit beteken om elektrisiteit spaarsamig te gebruik, onwettige verbindings aan te meld en te betaal vir die elektrisiteit wat gebruik word. Besighede, huishoudings en staatsdepartemente wat Eskom geld  skuld, moet opdok sodat Eskom beter in staat is om die kritieke instandhouding te onderneem wat nodig is om die ligte te hou, het hy gesê.

Hy sê terwyl beurtkrag steeds ervaar word, is daar ’n groot versoeking om moed op te gee dat die kragprobleem ooit opgelos sal word, maar as daar verby die mees onmiddellike krisis gekyk word, is daar werklike tekens van vordering en goeie redes om optimisties te wees.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top