’n Belangrike aankondiging deur president Cyril Ramaphosa oor maniere om die land se elektrisiteitskrisis aan te spreek word nou enige dag verwag.
Die President is volgens berigte op die punt om ’n energienoodtoestand aan te kondig. Dit sal glo deel wees van ’n “omvattende stel aksies” wat daarop gemik is om die land se toenemende kragonderbrekingsprobleme op te los.
Die vermoede is dat hy die land binne ’n dag of wat, soos tydens die Covid-pandemie, sal toespreek om die publiek in te lig oor die regering se planne om die huidige krisis te bowe te kom.
Dit volg na indringende samesprekings die afgelope twee weke met verskeie rolspelers, onder andere Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter.
Ramaphosa het reeds Maandag in sy weeklikse nuusbrief daarop gesinspeel dat daar iets in die pyplyn is.
Hy het gesê daar is geen rede waarom ’n land soos Suid-Afrika, met die vaardighede, vermoëns en hulpbronne tot sy beskikking, ’n tekort aan elektrisiteit moet verduur nie.
Over the past two weeks, we have been working with the relevant Ministers and senior officials on a range of additional measures to accelerate all efforts to increase our electricity supply. https://t.co/twFGhH4V6a pic.twitter.com/zhUT3iHVQR
— Cyril Ramaphosa 🇿🇦 (@CyrilRamaphosa) July 11, 2022
Hy sê die afgelope twee weke is daar saam met die betrokke ministers en senior amptenare gewerk aan ’n reeks bykomende maatreëls om alle pogings om die land se elektrisiteitsvoorsiening te verhoog, te versnel.
“Ons sal binnekort die gedetailleerde werk en konsultasies voltooi wat nodig is om hierdie verdere maatreëls te finaliseer. Ons sal dan in die komende dae ’n omvattende stel aksies aankondig om baie vinniger vordering te bewerkstellig met die aanpak van beurtkrag,” het Ramaphosa Maandag gesê.
Hy sê terwyl die maatreëls wat reeds getref is, die voorsiening van betroubare en bekostigbare elektrisiteit in die toekoms sal verseker, word daar bykomende maatreëls oorweeg wat nou reeds getref kan word om daardie doelwit vinniger te bereik.
“Die boodskap is duidelik: Dit is nie tyd vir ‘besigheid soos gewoonlik’ nie. Ons moet met vrymoedigheid optree om beurtkrag iets van die verlede te maak,” het Ramaphosa gesê.
Die DA het die berigte dat Ramaphosa op die punt staan om ’n energienoodtoestand te verklaar, versigtig in ’n verklaring verwelkom.
The DA notes reports that Ramaphosa is to declare an energy emergency that we have long called for to respond to the electricity crisis.
In Parliament, we will ensure that a multi-party committee is set up to enforce the implementation of deliverables.https://t.co/OLaGfps4K5
— Democratic Alliance (@Our_DA) July 13, 2022
Die DA sê die minste wat hulle verwag, is ’n plan met ’n vasgestelde tydsraamwerk wat ’n duidelike aanduiding sal gee wanneer nuwe generasiekapasiteit aanlyn gebring sal word.
Die party sê hoewel die President se verwagte aankondiging langer geneem het as wat nodig is, met inagneming van die verwoestende impak wat beurtkrag alreeds op die ekonomie en mense se lewensomstandighede het, verwelkom hulle dit. Hulle sê dit het die kabinet presies 63 dae geneem sedert hulle gevra is om ’n elektrisiteitsnoodreaksieplan uit te vaardig om op die elektrisiteitskrisis te reageer en op te tree.
Intussen het die provinsiale regering in die Wes-Kaap se kabinet sy teleurstelling uitgespreek dat minister Dlamini-Zuma steeds ’n versoek om ’n gekoördineerde rampbestuursbenadering tot die beurtkragkrisis ignoreer.
Die Wes-Kaapse kabinet het die afgelope week ’n spesiale vergadering gehou oor die beurtkragsituasie en die impak wat dit op die provinsie het.
“Ons is diep bekommerd en gefrustreerd oor die huidige beurtkrag en die negatiewe impak wat dit op die provinsie het en almal wat daagliks die ontwrigtings moet hanteer. Ons is baie bewus van mense se frustrasies, woede en vrees, want Eskom kan nie duidelike antwoorde gee oor wanneer beurtkrag opgelos sal word nie. Daar is ook nie enige gekoördineerde benadering van die nasionale regering om die ergste impak van hierdie krisis te versag nie,” het Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, in ’n verklaring gesê.
Bredell het gesê hy het op 30 Junie aan Nkosazana Dlamini-Zuma, die nasionale minister van samewerkende regering en tradisionele sake, geskryf en die erns van die situasie beklemtoon toe Eskom die eerste keer fase 6-beurtkrag aangekondig het. Bredell het in sy brief gesê Eskom is ’n nasionale uitdaging, maar die impak word op plaaslike vlak ervaar. As sodanig is ’n nasionaal gekoördineerde rampbestuurbenadering noodsaaklik om die situasie te versag.
“In hierdie stadium het ons geen terugvoer van minister Dlamini-Zuma ontvang nie, of enige aanduiding dat die Nasionale Rampbestuursentrum geaktiveer is nie,” het Bredell gesê.