President Cyril Ramaphosa se erkenning dat DA-munisipaliteite beter as ANC-munisipaliteite regeer word en dat die ANC by die DA moet gaan leer hoe om dit te doen, het wye reaksie onder Suid-Afrikaners uitgelok.
Sommige politieke ontleders het Ramaphosa se oproep verwelkom as 'n pragmatiese stap wat wys dat die ANC bereid is om van opponente te leer. Dit word gesien as 'n poging om die party se beeld te verbeter na jare van kritiek oor korrupsie en swak dienslewering.
Sommige ANC-lede en ondersteuners het Ramaphosa se lof vir die DA egter gekritiseer, aangesien dit as 'n erkenning van swakheid in ANC-bestuurde munisipaliteite gesien word.
Dit is ongekend dat ‘n leier van die ANC erken dat die DA op talle plekke beter as sy eie party regeer.
Op sosiale media, veral op X, het gebruikers gemengde reaksies getoon. Sommige het Ramaphosa se eerlikheid geprys, terwyl ander hom van politieke opportunisme beskuldig het.
Ramaphosa het die opmerkings gemaak by die FNB-stadion in Soweto, waar hy meer as 40 000 partyraadslede van regoor die land toegespreek het.
[LIVE NOW] ANC Councillors ROLL CALL https://t.co/YyZ9zU2Mga
— ANC - African National Congress (@MYANC) September 15, 2025
Hy het gesê die ANC moet sy tekortkominge in oënskou neem en het beklemtoon dat dit "pynlik" is om te erken dat sommige van die land se bes bestuurde munisipaliteite deur die DA regeer word.
Volgens Ramaphosa is daar niks verkeerd daarmee om te gaan kyk wat munisipaliteite soos Kaapstad en Stellenbosch reg doen en by hulle te leer hoe om suksesvol te wees nie.
Ramaphosa se opmerkings geskied in die aanloop tot voorbereiding vir volgende jaar se plaaslike verkiesings, waar dienslewering 'n sentrale kwessie sal wees. Ramaphosa het 'n nuwe aksieplan vir dienslewering bekendgestel wat fokus op verbeterde bestuur, deursigtigheid en samewerking tussen munisipaliteite, veral in die lig van die ANC se tanende steun in onlangse verkiesings weens swak dienslewering in baie gebiede.
Hy sê dit is pynlik om elke keer wanneer die ouditeur-generaal aan die kabinet verslag doen en hulle hul verslag indien, te sien die munisipaliteite wat die beste vaar, is nie ANC-beheerde munisipaliteite nie, maar dikwels DA-beheerde munisipaliteite.
Volgens Ramaphosa het ANC-raadslede die middele en die geleentheid om die koers van die land se ontwikkeling radikaal te verander. “Die toekoms word gebou waar mense woon en werk. Dit word op plaaslike vlak gebou,” het hy gesê.
“The councillors of our country, the councillors of our movement, have the means and the opportunity to radically change the course of our country’s development. The future is built where people live and work. It is built at local level.” #ANCCouncillorsRollCall… https://t.co/Vv64uM8yOj pic.twitter.com/RLioAmWTuj
— ANC - African National Congress (@MYANC) September 15, 2025
Die DA het Ramaphosa se vingerwysing na sy eie party op X gedeel en gesê die DA kry dinge gedoen.
🚨"Those municipalities that do best are not ANC-controlled municipalities... they are often DA-controlled municipalities." - Cyril Ramaphosa, ANC President
The DA gets things done! 🇿🇦#DAdelivers pic.twitter.com/4NnvqgJB1J
— Democratic Alliance (@Our_DA) September 15, 2025
Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het ook op X reageer en Ramaphosa bedank dat hy die DA-verskil raakgesien het.
Hy sê dis duidelik waarom dit so is. “Daar is 'n party in die regering in Kaapstad wat verbind is tot openbare diens, tot die groei van die ekonomie, tot aanstellings gebaseer op meriete eerder as ras of ideologie, en tot integriteit met openbare fondse.”
🇿🇦👏 Thanks, Mr President, for noticing the DA difference. The President @CyrilRamaphosa asks “what could it be” that explains this difference?
The answer is clear: a party in government in Cape Town that is committed to public service, to growing the economy, to appointments… pic.twitter.com/DC0cxqL9Nu
— Geordin Hill-Lewis (@geordinhl) September 15, 2025
Die ANC het in onlangse jare aansienlike steun verloor in plaaslike verkiesings weens kwessies soos kragonderbrekings, waterkrisisse en korrupsie in munisipaliteite soos eThekwini en Johannesburg. Die 2021 plaaslike verkiesings het getoon dat die ANC se dominansie afneem, met koalisies wat in baie metro's ontstaan het.
Baie ANC-bestuurde munisipaliteite ontvang swak ouditresultate van die ouditeur-generaal, met miljarde rand wat jaarliks verlore gaan weens korrupsie en swak finansiële bestuur.
Die opkoms van koalisieregerings in munisipaliteite het die ANC gedwing om meer samewerkend te wees, maar dit veroorsaak ook spanning met ander partye, soos die EFF en DA.
Die ANC beplan om hulle aksieplan oor die komende maande uit te rol, met spesifieke teikens vir munisipaliteite om dienslewering voor die 2026-verkiesings te verbeter.
Ramaphosa het aangedui dat daar gereelde monitering en verslagdoening sal wees om vordering te meet.
Politieke ontleders verwag dat die ANC se veldtogboodskap vir 2026 swaar sal leun op dienslewering en pogings om korrupsie te bekamp, maar die party sal harde werk moet insit om kiesers se vertroue te herwin.
