Ramaphosa geprys en gekap nadat hy regter skors

  • 0

Na ’n uitgerekte sage van meer as ’n dekade se bewerings van wangedrag teen die Wes-Kaapse regter-president John Hlophe is die omstrede regter uiteindelik Woensdag deur president Cyril Ramaphosa uit sy amp geskors.

Hlope se skorsing het onmiddellik uiteenlopende reaksies op sosiale media uitgelok. Ondersteuners van die Zuma-faksie in die ANC wat van Ramaphosa ontslae wil raak, beweer Hlope se skorsing is die gevolg van ’n politieke besluit om Ramaphosa te beskerm.

Die geskorste ANC-lid Carl Niehaus het op Facebook gesê dieselfde modus operandi word gevolg om van Hlophe ontslae te raak as wat die geval is om die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, uit haar pos te verwyder. “Ons leef in ’n korrupte Mafia-staat, met ’n Mafia Don as president!” het Niehaus uitgevaar teen die besluit.

Niehaus beweer die tydsberekening van  Hlophe se skorsing hou verband met die feit dat die onafhanklike paneel se verslag oor die Phala Phala-aangeleentheid waarskynlik na die Wes-Kaapse afdeling van die Hooggeregshof verwys gaan word nadat die parlement Dinsdag besluit het om dit nie te aanvaar nie.

Sommige ander meen egter Hlophe moes as lankal geskors gewees het en dat dit heeltemal te lank geneem het om hom te skors.

’n Volbank van die Konstitusionele Hof het reeds in 2008 ’n eenparige klag van growwe wangedrag teen Hlophe gelê nadat hy na bewering die Konstitusionele Hof-regters Bess Nkabinde en Chris Jafta genader het in ’n poging om die hof onbehoorlik te beïnvloed om besluite te neem wat gunstig sou wees vir die destydse president, Jacob Zuma.

Hlophe het na bewering noue bande met Zuma gehad. Sedertdien het hy, te midde van uitgerekte beraadslagings en vertragings in die tribunaalproses, rustig voortgegaan met sy werk as  regter-president.

Die presidensie se kantoor sê in ’n verklaring wat Woensdag uitgereik is, Ramaphosa het op advies van die Regterlike Dienstekommissie (RDK) en ingevolge artikel 177(3) van die Grondwet besluit om Hlophe van sy pligte te skors hangende ’n besluit van die nasionale vergadering soos vervat in artikel 177 van die Grondwet.

Ten einde kontinuïteit en stabiliteit in die werk van die Afdelingshooggeregshof te verseker, is die skorsing, wat onmiddellik van krag is, op voorwaarde dat Hlophe alle gedeeltelik aangehoorde sake en ​​uitsprake wat voorbehou is, sal voltooi.

Ramaphosa het die RDK-verslag op 27 Julie 2022 reeds ontvang. “Weens die lang geskiedenis en kompleksiteit van die saak het president Ramaphosa tyd geneem om al die permutasies van die RDK-aanbevelings noukeurig te oorweeg, insluitend die verkryging en leiding van ’n onafhanklike regsmening,” lui die verklaring wat deur sy kantoor uitgereik is.

Die president se kantoor sê hy besef ten volle dat dit nodig is om regter-president Hlophe se regte te balanseer met dié van die publiek en die belange van die regbank in sy geheel.

Artikel 177(3) van die Grondwet bepaal dat die president, op advies van die RDK, ’n regter kan skors wat die onderwerp is van ’n prosedure ingevolge subartikel (1) wat handel oor die verwydering van ’n regter wat skuldig bevind word aan growwe wangedrag.

Die Geregtelike Gedragstribunaal (JCT) het tot die gevolgtrekking gekom dat Hlophe die bepalings van artikel 165 van die Grondwet oortree het deur onbehoorlik te probeer om die twee regters van die Konstitusionele Hof te beïnvloed om hul ampseed te skend.

Die JCT het volgens die President se verklaring vasgestel dat regter Hlophe se gedrag die onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid en doeltreffendheid van die Konstitusionele Hof ernstig bedreig en daarmee inmeng en die publiek se vertroue in die regstelsel verder ondermyn het.

Die RDK het die saak na die parlement verwys vir die nasionale vergadering om vervolgingsverrigtinge teen regter-president Hlophe in te stel.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top