Ramaphosa gryp in oor Reserwebank

  • 0

’n Ekonomiese storm wat die land duur te staan kan kom, broei in die ANC se binnekring oor die toekoms van die Reserwebank.

Die jongste skermutseling het ontstaan toe die party se algemene sekretaris, Ace Magashule, aangekondig het dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) besluit het die Reserwebank se mandaat moet drasties uitgebrei word.

Magashule se stelling het skerp reaksie uitgelok. Dit is summier deur senior figure in die party ontken. Die voortdurende dubbelpratery vanuit die ANC se binnekring het  president Cyril Ramaphosa gedwing om Donderdag ’n lyn in die sand te trek en die reserwebank se onafhanklikheid te bevestig.

Ramaphosa, wat gekritiseer is oor sy stilswye tot dusver, het in ’n verklaring gesê die beleid ten opsigte van die Reserwebank bly onveranderd.

Hy het diegene wat verantwoordelik is vir die dubbele boodskappe, oor die vingers getik sonder om Magashule by die naam te noem. Ramaphosa sê die onlangse openbare rusies oor die Reserwebank se mandaat dra by tot die ondermyning van die vertroue wat die land se burgers en beleggers in die ekonomie het.

Magashule het ná Ramaphosa se verklaring teruggekrabbel en beweer dat die aanvanklike verklaring op sy Twitter-rekening nie sy handewerk was nie. Hy beweer dit is deur ’n kuberkraker daarop geplaas. Sy verskoning word egter met groot skeptisisme deur die publiek en lede van die media bejeën en is op sosiale media as ’n grap bestempel.

Om verder tot die verwarring by te dra het oudpresident Zuma ook van hom op Twitter laat hoor. Zuma het ’n besluit van die ANC se Nasrec-vergadering op Twitter geplaas wat sê die Reserwebank se mandaat moet wel verander en dat die bank uitsluitlik deur die staat besit moet word.

Die verdeeldheid in die ANC oor die Reserwebank se toekoms het die waarde van die rand tot op sy laagste vlak in jare laat daal.

Die voortdurende uitsprake deur diegene wat nog lojaal is teenoor Zuma maak dit al hoe moeiliker vir Ramaphosa om stil te bly en eenheid in die ANC te probeer bewerkstellig.

Die voormalige premier van Gauteng, Sam Shilowa, het aan Radio 702 gesê die ANC se leierskap gebruik nie die geleentheid wat die kiesers die party in die afgelope verkiesing gegee het om Suid-Afrikaners hoop te gee nie.

Shilowa sê die ANC is te veel gefokus op interne geskille in plaas daarvan om aandag te gee aan die ernstige probleme wat die land in die gesig staar.

“Dit is een ding vir die ANC om gemengde boodskappe te stuur, maar dit is iets anders as die regering se uitvoerende gesag self betrokke raak by sulke onversoenbare boodskappe.”

Die minister van finansies, Tito Mboweni, en die ANC se hoof van ekonomiese transformasie, Enoch Godongwana, het Magashule se aanvanklike stelling dat die Reserwebank se mandaat verander gaan word, ten sterkste verwerp.

Mboweni, wat die land se benarde boeke moet laat klop, het sonder omhaal van woorde sy misnoeë op Twitter te kenne gegee.

Die entrepreneur Jimmy Sosa het op Twitter gesê tydens Thabo Mbeki se presidentskap was daar slegs vier mense wat toegelaat is om uitsprake te maak wat die land se ekonomie raak, naamlik die president, die minister van finansies, die president van die Reserwebank en die minister van arbeid. Die rede daarvoor was om te verhoed dat daar wankommunikasie plaasvind oor ekonomiese kwessies soos wat tans die geval is.

Ekonome waarsku dat die huidige dubbelpratery oor ekonomiese kwessies die land duur te staan kan kom en Ramaphosa se pogings om groter beleggings te lok ernstig kan benadeel.

Die politieke ontleder Sithembule Mbete het aan Netwerk24 gesê Ramaphosa sal nie suksesvol wees met sy eenheidsprojek as hy nie sy voet neersit en sy stem dik maak teen diegene wat nog lojaal is aan Zuma nie. Hy sê dit is onrealisties om te verwag dat die Zuma-faksie na die verkiesing sou stilbly of verdwyn.

Hy sê Zuma floreer deur chaos te saai, en mense soos Magashule wat deel is van die Zuma-faksie, buit dit uit.

Die Reserwebank het ook vure probeer doodslaan en op Twitter ontken dat daar enige planne is om aan die bank se mandaat te torring. Die bank se mandaat word duidelik in die Grondwet omskryf, het die Reserwebank getwiet.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top