Die politieke storm rondom Cyril Ramaphosa se Phala Phala-krisis het Dinsdag verder verdiep nadat hy Maandagaand duidelik gemaak het dat hy nie van plan is om te bedank nie, ondanks toenemende druk van sommige opposisiepartye en die moontlikheid van ’n formele afsettingsproses in die parlement.
Ramaphosa se besluit om aan te bly beteken dat die land waarskynlik maande van politieke onsekerheid tegemoet gaan. Die saak plaas nie net die President onder druk nie, maar toets ook die stabiliteit van die brose RNE wat ná die 2024-verkiesing gevorm is.
In ’n kort maar ferm toespraak vanaf die Uniegebou het Ramaphosa gesê hy bly verbind tot sy amp en die Grondwet, en dat hy die onafhanklike paneelverslag oor die Phala Phala-voorval op hersiening (“judicial review”) sal neem. Volgens hom is daar geen regsgrond wat hom verplig om uit te tree nie.
President @CyrilRamaphosa addresses the nation on the judgment of the Constitutional Court.
The President confirms his decision to take the independent panel's report on review, on the advice of his legal team, on grounds including misconception of mandate, grave errors of law… pic.twitter.com/uZM0ppUsd0
— The Presidency 🇿🇦 (@PresidencyZA) May 11, 2026
“Ek wil dit dus met respek duidelik maak dat ek nie gaan bedank nie,” het hy gesê. “Om dit nou te doen, sal beteken om ’n proses wat deur die Grondwet omskryf word, vooruit te loop.”
I therefore respectfully want to make it clear that I will not resign.
To do so would be to pre-empt a process defined by the Constitution.
To do so would be to give credence to a panel report that unfortunately has grave flaws.
To do so would be to abdicate the…
— Cyril Ramaphosa 🇿🇦 (@CyrilRamaphosa) May 11, 2026
Die aankondiging volg enkele dae nadat die Konstitusionele Hof beslis het dat die parlement ongrondwetlik opgetree het toe dit die artikel 89-proses teen Ramaphosa in 2022 gestop het. Die uitspraak beteken dat die parlement nou ’n afsettingskomitee moet aanstel om Ramaphosa se optrede in die Phala Phala-saak te ondersoek.
Politieke ontleders meen dat ’n uitgerekte afsettingsproses die ANC verder kan verdeel en spanning tussen RNE-vennote kan verhoog. Die proses kom boonop op ’n tydstip wanneer die land reeds worstel met swak ekonomiese groei, hoë werkloosheid, infrastruktuurkrisisse en kommer oor misdaad.
Die moontlikheid van ’n langdurige regs- en parlementêre stryd kan ook beleggersvertroue knou, veral omdat Suid-Afrika later vanjaar plaaslike verkiesings tegemoet gaan.
Teen Dinsdagmiddag het reaksies uit verskeie politieke oorde ingestroom.
Political parties want the Constitutional Court’s orders regarding the Phala-Phala matter to be implemented without delay, despite the decision by President Cyril Ramaphosa to take the report of the Independent Panel on judicial review.#news #ConstitutionalCourt #PhalaPhala… pic.twitter.com/0qTWMbOT3x
— IOL News (@IOL) May 12, 2026
Die DA het gesê Ramaphosa se besluit om die paneelverslag te laat hersien, mag nie gebruik word om aanspreeklikheid te vertraag nie. Die party se leier, Geordin Hill-Lewis, het in ’n verklaring gesê die parlement moet dringend regsadvies inwin oor of die afsettingskomitee kan voortgaan terwyl die hersiening hangende is.
“Hierdie saak moet wettig, deursigtig en met die erns wat dit verdien hanteer word,” het hy gesê. Volgens die DA bly dit “’n ANC-gemaakte krisis” wat spruit uit onbeantwoorde vrae oor Ramaphosa se optrede.
📢 Phala Phala: This remains an ANC-made crisis, rooted in serious unanswered questions about the President’s conduct and the ANC’s long record of shielding its own leaders from accountability.
The DA will continue to be guided by the Constitution: https://t.co/qQXqHCTp3c pic.twitter.com/NuDh25YzL2
— Democratic Alliance (@Our_DA) May 11, 2026
ActionSA het intussen geëis dat die parlement onmiddellik met die artikel 89-proses voortgaan. Die party se parlementêre hoofsweep, Lerato Ngobeni, het in haar verklaring gesê litigasie kan nie as ’n “skild teen politieke aanspreeklikheid” dien nie.
Volgens haar moet partye binne die RNE nou besluit of hulle die Grondwet en die publiek dien, of bloot hul posisies in die regering probeer beskerm.
Die PAC het ook beklemtoon dat die parlement sy grondwetlike pligte sonder inmenging moet uitvoer. Die party sê Suid-Afrika se demokrasie word versterk wanneer instellings onafhanklik funksioneer.
PAC MEDIA STATEMENT.
The Pan Africanist Congress of Azania (PAC) notes the address by President Cyril Ramaphosa regarding the recent Constitutional Court judgment on the Section 89 impeachment process.
The judgment has made it clear that the parliamentary process must proceed… pic.twitter.com/Sumx7VVxuU
— Pan Africanist Congress of Azania (PAC) (@MyPAConline) May 12, 2026
Ander opposisiepartye, waaronder die EFF, MK en die African Transformation Movement (ATM), dring steeds aan op Ramaphosa se onmiddellike bedanking.
Binne die ANC bly steun vir Ramaphosa egter sterk. Senior ANC-leiers het Dinsdag aangevoer dat Ramaphosa die reg het om die verslag te laat hersien en dat die hofuitspraak nie beteken hy is skuldig aan enige oortreding nie.
Die krisis plaas die parlement nou in die middel van ’n delikate grondwetlike en politieke proses. Speaker Thoko Didiza het reeds aangedui dat die proses om ’n afsettingskomitee saam te stel, binnekort sal begin.
Indien die komitee uiteindelik aanbeveel dat Ramaphosa verwyder word, sal ’n tweederdemeerderheid in die Nasionale Vergadering nodig wees om hom uit sy amp te verwyder, iets wat tans polities moeilik lyk.
Selfs al oorleef Ramaphosa die proses, meen ontleders die Phala Phala-sage kan sy politieke nalatenskap permanent beskadig. Vir miljoene Suid-Afrikaners wek die saak herinneringe aan vorige skandale waarin politieke leiers daarvan beskuldig is dat hulle aanspreeklikheid probeer ontduik.
Die komende weke sal nou bepaal of Ramaphosa daarin slaag om sy gesag te behou, en of die Phala Phala-krisis die grootste politieke bedreiging van sy presidentskap word.

