Die woorde “daadkragtig” en “kragdadig” sal nie sommer met pres Cyril Ramaphosa geassosieer word nie. Op die Nederlandse webwerf Onze Taal word die definisie van die twee woorde soortgelyk aangedui: “energiek”, “flink” en “deurtastend”.
Oor Ramaphosa sou jy inderdaad meestal kon sê dat hy “deurtastend” optree en nie halsoorkop besluite neem soos wat die geval met sy voorganger, Jacob Zuma, was nie. Zuma het ’n reputasie ontwikkel dat hy sommer oornag – onnadenkend en sonder om oorleg te pleeg – sy kabinet sou verander.
Hierteenoor word daar meermale oor Ramaphosa gesê dat hy weer té veel en té lank oorleg pleeg; dat hy prosesse tot in lengte van dae hul gang laat gaan; en soms word kritiek teen hom uitgespreek – ten regte of onregverdiglik – dat hy net eenvoudig nie oor die vermoë beskik om op ’n besliste wyse besluite te neem en op te tree nie. Overgesetsynde: dat hy nie “energiek” en “flink” voorkom nie.
Dit is wat Suid-Afrikaners se frustrasie oor maande laat opbou het soos wat die land se energiekrisis vererger het met die deurentydse toepassing van beurtkrag deur die kragvoorsiener Eskom (tot waar gevrees is dat mense uiteindelik vir die grootste deel van die dag sonder krag sal moet klaarkom). En dit hier met die aanvang van die winter. Toe gelukkig nie.
Die situasie bly egter kommerwekkend – nie slegs oor die vernalating van instandhouding oor die jare heen nie, maar ook oor voortgesette swak bestuur by sommige kragstasies en vrotsige vakmanskap. Dit is nou indien daar nie ook, soos wat inderdaad die geval is, doelbewuste, kwaadwillige aksies ter verlamming van kragstasies deur personeel gepleeg word of diefstal van kabels of onderdele geskied nie. André de Ruyter, wat aangestel is om die nutsmaatskappy in die ná-Zuma era reg te ruk, en ander senior bestuurslede verwys na die gebeure as niks minder nie as geteikende sabotasie.
Dit is teen hierdie agtergrond dat daar geruime tyd oproepe was dat die Ramaphosa-regering die kragsituasie tot ’n noodtoestand moet verklaar. Nie almal was egter ten gunste hiervan nie, uit vrees dat dit aan die regering te veel magte sal verleen – ’n oorblyfsel van die angstigheid oor die magte wat ingevolge die afkondiging van ’n rampstaat gedurende die hoogty van die Covid-pandemie aan die regering toegestaan is.
Ramaphosa het hierdie week egter ’n einde aan die gissings gemaak oor wat uiteindelik die regering se plan van aksie gaan wees. Soos hy gedurende die pandemie gereeld gedoen het, het hy die land oor televisie toegespreek. Dit is deur sosiale media “familiebyeenkomste” genoem. “Mede-Suid-Afrikaners”, soos hy landsgenote gewoonlik aanspreek, het nou weer penregop gesit om te hoor wat die roete is wat Ramaphosa beplan om die kragkrisis tot ’n einde te bring.
Nou weet hulle dat ’n kragkrisiskomitee bestaande uit die kabinetslede wat met elektrisiteitsvoorsiening en staatsentiteite te doen het, asook – let wel – die Suid-Afrikaanse Polisiediens deel van die komitee sal uitmaak (omdat misdaadsindikate heeltyd op die kragstasies toeslaan). Huishoudings gaan ook aangemoedig en toegelaat word om sonkragpanele aan te bring wat hulle terselfdertyd in staat sal stel om surpluskrag aan Eskom te verkoop.
’n Bevestiging van ’n kernaspek van sy leierskapstyl – wye gesprekvoering met belanghebbendes – is die feit dat hy ten spyte van vooraf kritiek bevestig het dat voormalige werkers van Eskom (aanlegbestuurders, ingenieurs) uit die buiteland teruggelok gaan word. Dit moet help om broodnodige kundigheid tot Eskom se beskikking te stel sodat ’n behoorlike regrukaksie ’n werklikheid kan word.
Die President se plan is deur Eskom in ’n mediaverklaring verwelkom. Hulle glo die plan sal op die lang duur ’n einde aan beurtkrag kan bring. Ook politieke en ekonomiese kommentators klink opvallend (selfs oormatig) optimisties oor die regrukpoging: “Ramaphosa verdien lof vir die wyse waarop hy stap vir stap die gemors van sy voorganger begin regstel deur deeglike beraadslaging met sakeleiers in ál die kernsektore en ook met die aanstelling van deskundiges op die gebied van infrastruktuur en ekonomiese ontwikkelingsbeleid,” skryf Roelof Botha van die Optimum Beleggingsgroep op Netwerk24. “Sy hantering van die kragkrisis is nóg ’n bewys van sy vasbeslotenheid om kundigheid in die private sektor by die ekonomiese herstelproses in te trek.”
Hierdie soort lofsang sal ongetwyfeld Ramaphosa se selfbeeld goed doen; hom ’n welverdiende huppel in die stap gee. Dit volg op ’n veronderstelde politieke nederlaag met die verkiesing van ’n nuwe provinsiale leierskap in KwaZulu-Natal wat hom nie noodwendig goedgesind is nie. Intussen het hy uiteindelik bes moes gee deur vrae van die Openbare Beskermer te beantwoord oor die duistere besonderhede van ’n rooftog van miljoene dollar wat op sy wildsplaas gebeur het, nie by die polisie aangemeld is nie en tot groot verleentheid kan lei indien bevind word dat hy hierdeur die wet oortree het.
Uit die bloute toe boonop die bedekte (of was dit eintlik ’n openlike?) aanval deur oudpres Thabo Mbeki op die Ramaphosa-administrasie oor wat Mbeki beskou as dié se “planloosheid” wat die ekonomie betref. Hierdie soort vingerwysery geskied nie sommer nie, weens die ongeskrewe reël dat oudstaatshoofde hul opvolgers die ruimte moet bied om hul eie stempel af te druk. Maar Mbeki kon dit duidelik nie meer inhou nie – of dalk het sy frustrasie oorgeborrel omdat hy dalk nie in persoonlike gesprekke tot Ramaphosa kon deurdring nie, wie weet? – en derhalwe het hy ’n roudiens vir ’n senior ANC-leier, Jessie Duarte, gebruik om ’n pleidooi vir ’n plan te lewer. Die voortgesette afwesigheid daarvan, meen hy, voorspel ’n eiesoortige Arabiese Lente vir die republiek aan die voetenent van Afrika.
Ramaphosa het nou met die energieplan sy openbare aansien, vlakke van respek en leierskapstyl ’n versterkingsinspuiting gegee. Onderweg na ’n nasionale verkiesingskonferensie van die ANC word dit beskou as ’n geleentheid vir die partyleier om sy kanse op ’n tweede termyn verdere stukrag te gee. Uiteindelik dui sy (langverwagte) aankondiging van die kragplan heel moontlik veral daarop dat ’n staatshoof nie noodwendig “daadkragtig” of “kragdadig” hoef op te tree om op beslissende of kragtige wyse leiding te gee nie. Maar dalk sal dit juis nodig wees om te verseker dat die plan tot spoedige en suksesvolle uitvoering kom.