Ramaphosa loop ’n bloutjie by die konstitusionele hof

  • 0

Nuwe druk gaan op Cyril Ramaphosa geplaas word om oop kaarte te speel oor die diefstal van miljoene rand by sy Phala Phala-wildsplaas nadat hy Woensdag ’n bloutjie in die Konstitusionele Hof geloop het oor die saak.

Ramaphosa het die hof gevra om die bevinding van die artikel 89-paneel van ondersoek na die gebeure op Phala Phala, dat hy moontlik by onwettige optrede betrokke was, onwettig te verklaar en tersyde te stel.

Hy het aansoek gedoen om direkte toegang tot die Konstitusionele Hof weens die ernstige aard van die aanbevelings wat in die verslag vervat is.

Die Konstitusionele Hof het egter beslis dat “geen saak [...] gemaak [is] vir eksklusiewe jurisdiksie of direkte toegang nie en die hoofaansoek is van die hand gewys,” lui die kort uitspraak waarin sy aansoek Woensdag eenparig van die hand gewys is.

Die hof sê daar is geen rede waarom hulle die saak regstreeks moes aanhoor en hy nie eers by ’n laer hof kon aansoek doen nie.

Die leier van die DA, John Steenhuisen, sê Ramaphosa is nou grondwetlik en polities diep in die moeilikheid na dié beslissing.

Steenhuisen het in sy reaksie gesê hierdie hofaansoek was die grondslag waarop die ANC die artikel 89-verslag probeer afskud het waarin bevind is dat Ramaphosa ’n saak het om te beantwoord en dat ’n volledige vervolgingsondersoek deur die parlement moet voortgaan.

“Die parlement moet nou die regte ding doen en voortgaan met ’n ondersoek, hetsy deur ’n ad hoc- of ander meganisme. Die President het nou die deksel wyd oopgeskiet,” het Steenhuisen op Twitter gesê.

Steenhuisen is egter uit sommige oorde daarvan beskuldig dat hy die publiek mislei, aangesien die hof nie enge bevinding gemaak het oor die meriete van Ramaphosa se saak rakende die Phala Phala-kwessie nie. Dit beteken slegs dat hy direkte toegang tot die Konstitusionele Hof geweier is en hy hom steeds tot ’n laer hof soos die Hooggeregshof kan wend om sy saak te laat aanhoor.

Die verwagting is dat Ramaphosa hom nou tot die Wes-Kaapse Hooggeregshof sal wend om uitsluitsel daaroor te kry.

Die Nasionale Vergadering (NV) het in Desember gestem om die artikel 89-paneel van ondersoek se bevindings te verwerp wat daarop gemik was om Ramaphosa aanspreeklik te hou vir sy beweerde onwettige optrede rakende die diefstal by sy wildplaas.

Die speaker van die NV,  Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het toe ook die African Transformation Movement (ATM) se versoek, om ’n geheime stemming daaroor toe te laat, afgekeur. Dit het beteken parlementslede wat van hul party se standpunt verskil het, dit in die openbaar moes verklaar.

Altesaam 214 uit die 400 parlementslede het uiteindelik in die parlement teen die aanvaarding van die verslag gestem. Slegs vyf ANC-lede in die parlement het teen hulle party se koukusbesluit gestem om die verslag te verwerp en saam met die opposisie ja gestem vir die aanvaarding daarvan.

Dit het die weg gebaan vir Ramaphosa om in Desember as die ANC se president herkies te word en het gekeer dat hy deur die parlement in ’n staat van beskuldiging geplaas kon word.

Daar kan egter nou verwag word dat daar nuwe druk vanuit die opposisie op hom geplaas sal word.

Die president van die ATM, Zungula Vuyo, wat die Phala Pahla-kwessie teen Ramaphosa in die parlement gedryf het, het ook op Twitter koning gekraai omdat die Konstitusionele Hof Ramaphosa se aansoek verwerp het.

Die ATM sê in ’n verklaring hulle verwelkom die uitspraak en dat dit verreikende implikasies het. Volgens die party beteken dit dat die NV se verwerping van die artikel 89-verslag oor Phala Phala irrasioneel was.

Die ATM sê in hulle verklaring  hulle sien reikhalsend uit na die beslissing van die Wes-Kaapse Hooggeregshof oor die saak waarheen Ramaphosa hom waarskynlik nou sal wend voordat hulle op hul volgende skuif besluit.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top