Ramaphosa moet nou oop kaarte speel oor Digital Vibes-skandaal

  • 0

Daar word sterk druk op president Cyril Ramaphosa uitgeoefen deur opposisiepartye om die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se verslag oor Digital Vibes so gou as moontlik aan die parlement beskikbaar te stel.

Ramaphosa het Woensdagaand in ’n verklaring bekend gemaak dat die voormalige minister van gesondheid, Zweli Mkhize, Digital Vibes en ander nou eers die geleentheid sal kry om op die SOE se verslag te reageer voor dit aan die publiek bekend gemaak word.

Die SOE se hoofondersoeker na die skandaal, Johnny le Roux, het vroeër  aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gesê die SOE het tydens hulle ondersoek getuienis ingewin wat daarop neerkom dat Mkhize na bewering moontlik misdade kon gepleeg het.

Die hoof van die SOE, Andy Mothibi, het ook daarop gesinspeel dat Mkhize sowel as senior amptenare van die Departement van Gesondheid moontlike vervolging in die gesig staar in verband met die tenderskandaal.

Ramaphosa het reeds vroeg in Julie ’n verdoemende verslag oor die skandaal van die SOE ontvang.

Daar is glo onder meer bevind dat miljoene rand rande vermors is as gevolg van die Digital Vibes-kontrak en dat Mkhize strafregtelik aanspreeklik gehou moet word.

Die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, Philip van Staden, sê in ’n verklaring dit is byna ’n maand sedert die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid ’n besluit geneem het om te vra dat Ramaphosa die SOE se verslag aan die komitee beskikbaar moet stel.

Die vorige komiteevoorsitter, Sibongiseni Dhlomo, nou die adjunkminister van gesondheid, het tydens die vergadering van die portefeuljekomitee op 4 Augustus 2021 onderneem om die komitee se besluit uit te voer.

Hy sou ’n skrywe rig aan die speaker van die parlement om te versoek dat die speaker die President moet versoek om die verslag aan die portefeuljekomitee beskikbaar te stel. Die inhoud van die verslag sou dan bepaal of die komitee ’n vergadering met die SOE moet aanvra. Die betrokke notule is tydens die vergadering op 18 Augustus 2021 goedgekeur.

Van Staden sê dit is tans onseker of hierdie opdrag wel uitgevoer is en die VF Plus het reeds tydens die afgelope week se komiteesitting die nuwe voorsitter, Kenneth Jacobs, versoek om aan die komitee verslag te doen oor hierdie aangeleentheid.

Hy sê dit is uiters noodsaaklik dat hierdie verslag nou dadelik beskikbaar gestel word. Die vertraging van die proses is volgens hom straks ’n aanduiding dat die verslag inligting bevat oor meer prominente persone wat by die korrupsieskandaal betrokke is as wat aanvanklik vermoed is en dat dit dalk hoë ANC-lede kan insluit.

“Die VF Plus gaan nie verdere verskonings aanvaar dat die President se proses nog aan die gang is en dat mense wat in die verslag geïmpliseer word, eers die geleentheid gegun moet word om hul kant van die saak te stel nie.”

Volgens  Van Staden was daar voldoende geleentheid hiervoor in die portefeuljekomitee vir gesondheid. “’n Voorbeeld is Zweli Mkhize wat drie geleenthede gehad het om sy saak te stel en dit elke keer van die hand gewys het.”

Hy sê die VF Plus sal nie toelaat dat hierdie saak onder die mat ingevee word nie. “Pres Ramaphosa se weerhouding van die verslag van die publiek en die parlement is onaanvaarbaar en laat talle rooi ligte aangaan.”

Ramaphosa sê in sy verklaring hy het reeds die versekering gegee dat hy die publiek op hoogte sal hou van die ontwikkelinge rakende die skandaal met betrekking tot inligting wat onderhewig aan vervolging, siviele stappe of dissiplinêre verrigtinge is.

"In die belang van billikheid en ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting – en as gevolg van ’n aantal aansoeke om die verslag te sien – het die Presidensie kennisgewings aan alle partye gestuur, sodat hulle die geleentheid kry om beswaar te maak teen die publikasie daarvan of ’n gedeelte daarvan.

"Elkeen van hulle sal die inligting ontvang wat hulle benodig om hul besluit te kan neem, aangesien dit hul eie belange raak."

Die SOE het ook ’n aantal persone na die presidensie verwys teen wie daar dissiplinêr opgetree moet word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top