Ramaphosa moet volgende maand aan Zondo verduidelik

  • 0

Suid-Afrika sal volgende maand uit die perd se bek hoor hoeveel beweerde kennis president Cyril Ramaphosa van staatskaping gehad het terwyl die land rot en kaal besteel is. Daar word reeds lank gegis tot watter mate hy vermoedelik bewus was van wat in die regering aangaan terwyl nommer twee was. Daar word gevra hoe dit moontlik is dat hy nie daarvan kennis gedra het terwyl hy deel van die ANC se binnekring was nie.

Regter Raymond Zondo het Woensdag bekendgemaak dat Ramaphosa vier dae lank voor die kommissie sal getuig. Die kommissie, wat binnekort sy werksaamhede moet afhandel, kan dit nie afsluit sonder getuienis van president Ramaphosa en die ANC nie.

Ramaphosa se bereidwilligheid om voor die kommissie te getuig is in skrille kontras met die houding van sy voorganger, Jacob Zuma, wat weier om verder voor die kommissie te getuig ondanks ’n beslissing van die Konstitusionele Hof dat hy dit moet doen.

Die Konstitusionele Hof sal Donderdag die Zondo-kommissie se aansoek aanhoor dat Zuma strafregtelik vervolg moet word oor sy weiering om weer voor die kommissie te verskyn. Suid-Afrikaners is gevra om oranje te dra as simboliese teken dat Zuma in die tronk hoort weens sy minagting van die Grondwet. Oranje is die kleur van die oorpakke wat gevangenes in die tronk dra.

Daar heers groot belangstelling vir Ramaphosa se verskyning voor die kommissie. Hy sal vrae moet beantwoord vanuit beide sy posisie as president van die land en as president van die ANC. Hy sal waarskynlik ook moet verduidelik hoeveel kennis van staatskaping hy as adjunkpresident van beide die land en die ANC na bewering gehad het terwyl korrupsie hoogty gevier het in Suid-Afrika. Verskeie hooggeplaaste lede van die regering en die ANC is die afgelope aantal maande voor die Zondo-kommissie daarby geïmpliseer.

Regter Zondo het verlede jaar sy misnoeë te kenne gegee omdat daar nie genoeg getuies na vore kom met inligting nie. Die burgerregteorganisasie AfriForum het Maandag ook  ’n formele aansoek by die kommissie ingedien waarin hulle vra dat Ramaphosa gedagvaar word om voor die kommissie te verskyn.

AfriForum vra spesifiek dat Ramaphosa oor die ANC se kaderontplooiingsbeleid ondervra word en versoek ook dat AfriForum die geleentheid gegun word om voorleggings in dié verband aan die kommissie te lewer en self ook vir Ramaphosa te kruisondervra.

Die aansoek spruit uit die feit dat Ramaphosa van 2013 tot 2016 die voorsitter van die ANC se komitee oor kaderontplooiing was. Gedurende hierdie tyd is verskeie individue wat vandag van korrupsie en staatskaping beskuldig word, op grond van hulle lojaliteit teenoor die ANC in sleutelposisies aangestel.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê in ’n verklaring dat die ANC se kaderontplooiingsbeleid waarskynlik die grootste bydraende faktor tot korrupsie en staatskaping is.

“Die ANC is uitgesproke oor sy benadering dat lojaliteit aan die party ’n bepalende faktor is wanneer dit by aanstellings in sleutelposisies in die regering kom. Dit dra oënskynlik selfs meer gewig as meriete en die vermoë om die werk te doen. Waaroor daar egter geheimsinnigheid heers, is presies wat hierdie komitee se doen en late is, asook watter individue op grond van hulle lojaliteit aan die party in sleutelposisies aangestel is,” sê Roets. Hy sê hierdie beleid gaan nie slegs oor ontplooiings in sleutelposisies nie, maar ook oor die herontplooiing van partylojaliste.

Individue met betrekking tot wie AfriForum vrae aan president Ramaphosa wil stel, sluit die volgende in: Brian Molefe, Dudu Myeni, Pravin Gordhan, Lucky Montana, Jeff Radebe, Joseph Phungula, Sifiso Buthelezi, Thuli Madonsela, Kady Muteba, Patello Lebbaka, Francois van Eeden, Lynette Brown, Nicholas Linnel, Nhlanhla Nene en Modise Motloba.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top