President Cyril Ramaphosa kan ’n sug van verligting slaak nadat die parlement Dinsdag teen die aanvaarding van die artikel 89-verslag gestem het wat bevind het dat hy moontlik die Grondwet oortree het.
Ramaphosa sal dus nie nou deur die parlement in ’n staat van beskuldiging geplaas kan word nie en kan sy volle aandag skenk aan die komende naweek se ANC-beleidskonferensie waar hy opnuut om sy politieke oorlewing sal moet veg.
Altesaam 214 uit die 400 parlementslede het teen die aanvaarding van die verslag gestem. Slegs vyf ANC-lede in die parlement het teen hul party se koukusbesluit gestem om die verslag te verwerp en saam met die opposisie ja gestem vir die aanvaarding daarvan.
Nkosazana Dlamini-Zuma was die eerste lid van die ANC wat teen die ANC se koukusbesluit gestem het. “As ’n gedissiplineerde lid van die ANC stem ek ja!” het sy onder groot gejuig van die EFF gesê.
Pravin Gordhan, wat langs haar gesit het en direk na haar sy stem verklaar het, het gesê as ’n gedissiplineerde lid van die ANC stem hy nee en het hy hom so by die Ramaphosa-kamp geskaar.
Zweli Mkhize, wat hom as ANC-president verkiesbaar gestel het tydens die komende naweek se ANC-beleidskonferensie, was afwesig tydens Dinsdag se stemmery in die parlement.
Alle opposisie-LP’s, behalwe Good se twee, Cope se Willie Madisha en Al Jamah-ah se Ganief Hendricks, het ja gestem. Patricia de Lille van Good en haar kollega Brett Herron het buite stemming gebly.
DA-leier John Steenhuisen het in sy toespraak gesê daar word nie gestem om ’n president onskuldig of skuldig aan ’n oortreding te bevind nie. “Ons weeg nie bewyse op om tot ’n uitspraak te kom nie. Dit gebeur eers later. Vandag gaan bloot daaroor om ’n behoorlike proses sy gang te laat gaan. Dit gaan daaroor om te erken – soos die skrywers van die verslag gedoen het – dat die groot leemtes in die storie rondom die versteekte en gesteelde dollars verdere ondersoek regverdig. ’n Ondersoek wat deur ’n komitee van hierdie vergadering onderneem moet word,” het Steenhuisen gesê.
Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, het gesê dit is doodgewoon gesonde verstand om Ramaphosa te vra of hy aan alle regulasies oor die buitelandse valuta voldoen het, en waarom die geld in sy meubels weggesteek was.
Die mense van Suid-Afrika het antwoorde op hierdie vrae nodig, maar Ramaphosa skop die mense in die tande en ag die ANC se belange belangriker as die belange van die land, het Groenewald gesê.
Groenewald sê hy het Ramaphosa tydens ’n vroeëre debat genooi om die mense van Suid-Afrika in sy vertroue te neem, maar Ramaphosa het besluit om dit nie te doen nie. Groenewald sê Ramaphosa moet die Grondwet respekteer, en as dit die geval is, sou hy hom beskikbaar stel om aan die Nasionale Vergadering verantwoording te doen.
ACDP-leier Kenneth Meshoe het gesê sy party sal ook die aanvaarding van die paneel se verslag ondersteun. Hy sê dit is teleurstellend dat ANC-parlementslede met tugstappe gedreig is indien hulle die aanvaarding van die verslag sou ondersteun en dit betreur dat die versoek om ’n geheime stemming nie toegestaan is nie.
EFF-leier Julius Malema het gesê Ramaphosa urineer op die Grondwet en het hom bestempel as ’n vyand van die Grondwet. Hy sê die President sal as ’n “grondwetlike misdadiger” behandel word.
Malema sê Ramaphosa vermy verantwoordbaarheid soos ’n voortvlugtige en spoeg in die gesig van die vryhede waarvoor mense geveg en gesterf het.
Ronald Lamola, minister van justisie, het gesê Ramaphosa het die volste reg om die verslag te hersien en het ontken dat die ANC Ramaphosa nie aanspreeklik hou vir sy dade nie.
“As die ANC stem ons nie saam met die aanvaarding van die verslag nie.” Lamola sê daar kan net met ’n vervolgingsproses begin word as daar voldoende bewyse bestaan. Die paneel self het gesê daar is nie voldoende bewyse nie, het Lamola gesê.