Terwyl Suid-Afrikaners gebuk gaan onder die ergste beurtkrag ooit, het president Cyril Ramaphosa die land Maandag in sy weeklikse nuusbrief probeer oortuig dat daar duidelike vordering gemaak word om dit te verminder en uiteindelik tot ’n einde te bring. Hy het lesers daaraan herinner dat die regering uit die staanspoor gesê het dat beurtkrag nie oornag opgelos sal word nie.
A year has passed since we launched the Energy Action Plan to resolve the loadshedding crisis, and we are now able to report significant progress in several areas. https://t.co/F4Ld369NGu pic.twitter.com/b2HJjq0rGG
— Cyril Ramaphosa ???????? (@CyrilRamaphosa) July 31, 2023
Hy sê die wintermaande kom binnekort tot ’n einde en alhoewel beurtkrag voortgegaan het soos verwag is, kon daarin geslaag word om die ergste scenario te voorkom deur die werkverrigting van Eskom se kragstasies te stabiliseer en die vraag te verminder.
Eskom het Sondag beurtkrag na fase 4 verhoog tot Maandagoggend om 5.00, waarna beurtkrag na fase 2 afgegradeer en om 16:00 die middag beëindig sou word.
Huishoudings en besighede is aangesê om voor te berei om hierdie afwisselende stadiums van kragonderbrekings die komende week te verduur.
’n Jaar het verloop sedert die energie-aksieplan bekendgestel is om die beurtkragkrisis op te los. Volgens Ramaphosa kan daar nou beduidende vordering op verskeie gebiede gerapporteer word.
’n Gedetailleerde verslag is Maandag vrygestel wat die werk uiteensit wat gedoen is om die werkverrigting van Eskom se kragstasies te verbeter, die bou van nuwe opwekkingskapasiteit te versnel en regulatoriese hervormings in te stel om die elektrisiteitsektor te transformeer.
Volgens die verslag toon Eskom se opwekkingsvloot steeds volgehoue verbetering. Onbeplande verliese is volgens die verslag die afgelope twee maande tot minder as 16 000 MW verminder, teenoor meer as 18 000 MW voorheen. “Beplande instandhouding is gedurende die winterperiode verminder, met Eskom wat aansienlike instandhouding in die maande voor die winter onderneem het.
“As ons vorentoe kyk, word beskadigde eenhede by die Kusile- en Medupi-kragstasies op ’n bespoedigde basis weer in diens geneem. In kombinasie verteenwoordig hierdie eenhede meer as 3 000 MW se kapasiteit,” sê Ramaphosa..
Die Eskom-skuldverligtingspakket wat deur die minister van finansies aangekondig is, sal volgens hom nodige investering in instandhouding en uitbreiding van die transmissienetwerk moontlik maak.
“Sedert die bekendstelling van die energie-aksieplan het ons gewerk om soveel moontlik krag by die netwerk te voeg.”
Eskom het volgens die vorderingsverslag byna 400 MW van maatskappye met ekstra beskikbare kapasiteit ontsluit, en ’n verdere 600 MW is tans in die kontrakteringsproses. ’n Bykomende 400 MW is van Cahora Bassa in Mosambiek verkry.
“Ons is besig om vinnig die verkryging van nuwe generasiekapasiteit van hernubare energie, gas en batteryberging te verkry. Later vanjaar sal die eerste drie projekte van die noodkragprogram na verwagting by die netwerk aansluit. Ook later vanjaar behoort ongeveer 2 300 MW van die mees onlangse projekte van die onafhanklikekragprodusenteprogram vir hernubare energie in aanbou te wees.”
Een van die belangrikste bydraes tot die energie-aksieplan was volgens hom die byvoeging deur huishoudings en besighede van sonkrag op die dak.
“Dit is bemoedigend om te sien dat meer munisipaliteite klante toelaat om elektrisiteit in die netwerk in te voer wanneer hulle surpluselektrisiteit het. Dit sal nog ’n aansporing bied vir groot en klein besighede om in alternatiewe energiebronne te belê.”
Reguleringsveranderinge het gehelp om private investering in nuwe opwekkingskapasiteit ’n hupstoot te gee, het Ramaphosa gesê. Hierdie veranderinge sluit in die verwydering van die lisensiëringsdrempel vir opwekkingsfasiliteite en die vinnige afhandeling van projekgoedkeurings en -registrasie.
“Hierdie werk het ’n massiewe oplewing in private investering in elektrisiteitsopwekking moontlik gemaak, met ’n pyplyn van meer as 10 000 MW se nuwe kapasiteit wat later vanjaar aan die netwerk gekoppel sal begin word.”
Ramaphosa sê om te verseker dat die land nooit weer kragtekorte ervaar nie, implementeer die regering fundamentele hervormings om ’n mededingende elektrisiteitsmark en ’n onafhanklike nasionale netwerkoperateur te skep.
hy het ook aangekondig dat daar vandeesweek ’n webwerf bekendgestel word wat Suid-Afrikaners aanmoedig om betrokke te raak by energiesbesparing en waar hulle die werk van die Nasionale Energiekrisiskomitee kan dophou en kan sien hoe om hul verbruik te verminder en op energierekeninge te bespaar.