Cyril Ramaphosa
Foto: YouTube
President Cyril Ramaphosa het hom opnuut daartoe verbind om die foute van die verlede reg te maak en saam met alle Suid-Afrikaners te werk om ’n beter toekoms vir almal te skep.
Die President het Donderdag tydens sy repliek in die debat oor sy staatsrede gesê politieke leiers en partye moet hulle weerhou van verklarings wat ander rassegroepe, taalgroepe of godsdiensgroepe in die land verkleineer of beledig.
Met verwysing na die komende verkiesing het Ramaphosa gesê dit maak nie saak hoe robuus die verkiesingsveldtog gaan wees nie, maar diegene wat aan die verkiesing deelneem moet uitlatings vermy wat die land verdeel.
Die debat is gekenmerk deur skerp kritiek van veral opposisiepartye oor die chaos waarin Eskom verkeer. Die President is gekasty oor die Eskom-krisis en dat hy vroeër die week gesê het hy is geskok toe die jongste vlaag beurtkrag die land getref het.
Ramaphosa het aangekondig dat ’n spesiale komitee in die parlement op die been gebring gaan word om toesig te hou oor die bedrywighede van Eskom. Die President het in sy repliek op die debat oor die staatsrede gesê dié komitee sal daagliks aan hom verslag doen. Adjunkpresident David Mabuza sal aan hoof van dié komitee staan.
Ramaphosa het ook die beskuldigings verwerp dat hy sy kamerade uitverkoop het toe apartheid hoogty gevier en hulle onder die wreedheid van die nasionale regering gebuk gegaan het. Die leier van COPE, Mosiuoa Lekota, het dié bewering gemaak tydens die staatsrede-debat. Die ANC het in ’n verklaring gesê hulle verwerp Lekota se bewerings met die minagting wat dit verdien.
Die EFF het voorgestel dat ’n kommissie van ondersoek aangestel word om die bewerings te ondersoek, maar heelwat politieke kommentators is van mening dat Lekota opportunisties is en dat dit ’n manier is om Ramaphosa verdag te maak by die kiesers voor die verkiesing. Dr Piet Croucamp van die Noordwes-Universiteit het op RSG gesê Lekota is besig met ’n gevaarlike spel omdat dit in die hande speel van die Zuma-faksie in die ANC wat alles in hulle vermoë sal doen om van Ramaphosa ontslae te raak.
Die TV-joernalis Annika Larsen het ’n videogreep op Twitter geplaas waar die ANC Ramaphosa staande toejuig toe hy ontken het dat hy ooit ’n spioen was of sy mense verraai het.
https://twitter.com/AnnikaLarsen1/status/1096024346206920706
Aan die einde van sy repliek het die President hom tot die Suid-Afrikaanse publiek gewend en hulle die versekering gegee dat hy en sy party hulle belange op die hart dra.
“Ons het julle frustrasies gevoel en julle oproep vir verandering ter harte geneem.”
Die President het sy toespraak afgesluit met ’n aanhaling van die Nigeriese digter en skrywer Ben Okri waar hy van ’n nuwe politieke orde droom.
REPLY ON THE DEBATE ON STATE OF THE NATION ADDRESS
We dream of a new politics that will renew the world under their weary suspicious gaze. There’s always a new way, a better way that’s not been tried before." - Ben Okri
The President concludes #SONA2019 #GrowSouthAfrica pic.twitter.com/Sr3K0V9oYh
— African National Congress (@MYANC) February 14, 2019
Donderdag se debat was die laaste debat oor die President se staatsrede tydens die termyn van die vyfde demokraties verkose parlement. Oor minder as drie maande sal Suid-Afrikaners op 8 Mei ’n nuwe parlement kies 25 jaar nadat die eerste demokratiese verkiesing gehou is.
Buro: NB