Ramaphosa positief oor ekonomiese vooruitsigte

  • 0

Suid-Afrika hoop om ten spyte van COVID-19-beperkings steeds daarin te slaag om in die komende maande groot internasionale beleggings na die land te lok.

Die vierde Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie, wat hierdie maand sou plaasvind, is uitgestel tot Maart volgende jaar. President Cyril Ramaphosa is egter vasbeslote om voort te gaan met sy ambisieuse beleggingsveldtog om buitelandse beleggers na die land te lok.

Ramaphosa sê in sy jongste nuusbrief aan die nasie selfs die geweld en vernietiging wat in Julie in dele van KwaZulu-Natal en Gauteng plaasgevind het, kon maatskappye nie afskrik om voort te gaan om hul verpligtinge na te kom en te soek na beleggingsgeleenthede in Suid-Afrika nie.

Hy sê in die afgelope jaar alleen het byna R120 miljard se beleggings die land ingevloei by wyse van projekte of uitbreidings. Dit beteken dat sowat 38% van die totale beleggingsverpligtinge – of R290 miljard – tot op hede in die ekonomie ingevloei het. Sommige beleggings is egter weens COVID-19 vertraag, veral in sektore wat swaar getref is, soos eiendomsontwikkeling en toerisme.

Dit wil voorkom of die gety besig is om in ’n positiewe rigting te draai. Twee weke gelede is Toyota se uitgebreide produksielyn in eThekwini bekendgestel wat Suid-Afrika se eerste plaaslik-vervaardigde hibriede motor sal vervaardig.

Hierdie belegging was die resultaat van ’n verbintenis van R2,4 miljard wat die maatskappy by die 2019 Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie gemaak het. Ook in KwaZulu-Natal brei Tetra Pak sy bedrywighede uit met ’n belegging van R500 miljoen.

Suid-Afrika het onlangs ook ’n aanvanklike verbintenis van sowat R131 miljard verkry om ’n billike oorgang na ’n laekoolstof-ekonomie te finansier deur in hernubare energie, groen waterstof en elektriese voertuie te belê.

Hierdie verbintenis deur die VSA, die VK, Frankryk, Duitsland en die Europese Unie is in ooreenstemming met die Parys-ooreenkoms, wat ryker lande verplig om skoon lug in die ontwikkelende wêreld te ondersteun.

Hierdie energiebeleggings sal die land ook help om die uitmergelende beurtkrag wat die land tans ervaar, te oorkom, aangesien nuwe kragopwekkingskapasiteit geaktiveer word, sê Ramaphosa in sy nuusbrief.

“Verskeie nuwe beleggings in datasentrums en ondersese kabels sal nie net nuwe investering inbring nie, maar sal die infrastruktuur verskaf wat nodig is vir die groei van tegnologie- en telekommunikasiebedrywe.”

Op farmaseutiese gebied is daar ook opwindende nuwe vooruitsigte vir groei, sê Ramaphosa. Aspen Pharmacare het onlangs sy uitbreiding van R3,4 miljard bekendgestel wat hy by die 2018-beleggingskonferensie aangekondig het. Hierdie belegging het Aspen se Gqeberha-vervaardigingsfasiliteit omskep in een van die grootste wêreldwye vervaardigingsentrums vir algemenenarkosemiddels en het ook voorsiening gemaak vir kapasiteit van meer as 100 miljoen dosisse van die Johnson & Johnson Covid-entstof wat onder kontrak vervaardig word.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het Suid-Afrika ook gekies om ’n mRNA-entstofvervaardigingsentrum saam met die Biovac-instituut te huisves, wat ’n openbaresektor-privaatsektor-vennootskap met die regering is.

Die Suid-Afrikaans-gebore Patrick Soon-Shiong en sy maatskappy NantWorks het onlangs ’n ambisieuse inisiatief aangekondig om kapasiteit vir gevorderde gesondheidsorg in Afrika te bou. Benewens die beleggings wat dit sal bring, sal hierdie ontwikkelings ook bydra tot Suid-Afrika se gesamentlike ambisie met die res van Afrika om 60% van die vasteland se entstofbehoeftes teen 2040 te vervaardig.

Ramaphosa sê Suid-Afrika het nou 13 spesiale ekonomiese sones regoor die land wat beleggers van geteikende beleggingsaansporings, voorkeurbelastingkoerse en uitvoersteun voorsien.

Dit bied ’n aantreklike vervaardigingsbasis vir maatskappye wat in beide plaaslike en internasionale markte wil voorsien. Hul waarde het verder toegeneem met die vestiging van die Afrikakontinentvryhandelsgebied (AfCFTA) wat amptelik aan die begin van die jaar begin handel dryf het.

Energie is nog ’n groeigebied. Die 25 voorkeurbieërs in die vyfde ronde van die land se hernubare-energie-program sal na verwagting saam sowat R50 miljard in die ekonomie belê. Die verhoging van die lisensiëringsdrempel vir ingebedde opwekking tot 100 megawatt sal waarskynlik tot aansienlike private investering in kragopwekkingsprojekte lei.

’n Belangrike deel van die huidige beleggingsveldtog is volgens Ramaphosa die verreikende strukturele hervormings wat onderneem word op gebiede soos energie, telekommunikasie, water en hawens en spoorweë. Hy sê hierdie hervormings sal doeltreffendheid en mededingendheid verbeter, die koste van sake doen in Suid-Afrika verlaag en groter private investering in ons ekonomiese infrastruktuur aanmoedig.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top