Ramaphosa probeer walgooi teen kritiek oor Oekraïne

  • 0

President Cyril Ramaphosa het Maandag probeer walgooi teen kritiek op die regering se louwarm standpunt oor die oorlog in Oekraïne.

Die ANC-regering word uit verskeie oorde gekritiseer omdat Suid-Afrika buite stemming gebly het toe die Verenigde Nasies (VN) verlede week ’n resolusie aanvaar het waarin Rusland veroordeel word omdat hy Oekraïne binnegeval het.

Politieke opposisiepartye, burgerlike organisasies en verskeie Suid-Afrikaanse meningsvormers beskuldig Ramaphosa en die ANC-regering daarvan dat die land hom aan die verkeerde kant van die geskiedenis bevind omdat hulle Rusland nie saam met die oorgrote meerderheid lande in die wêreld veroordeel vir die oorlog nie.

Ramaphosa skryf in sy weeklikse nuusbrief Suid-Afrika het buite stemming gebly omdat die resolusie nie die oproep tot betekenisvolle onderhandelings om die geskil op te los op die voorgrond gestel het nie.

Hy ontken dat die land hom aan die verkeerde kant van die geskiedenis bevind en sê Suid-Afrika is stewig aan die kant van vrede in ’n tyd waar nog ’n oorlog iets is wat die wêreld nie nodig het of kan bekostig nie.

Ramaphosa se verduideliking het weinig aftrek by die opposisie gekry. Die DA sê in ’n verklaring dat die ANC-regering sedert die inval, skaars tien dae gelede, verskeie kere bollemakiesie geslaan oor sy standpunt. “Eers wou die regering nie standpunt inneem nie, toe het die Departement vir Internasionale Betrekkinge en Samewerking (DIRCO) – tereg – die inval veroordeel, waarna president Cyril Ramaphosa die DIRCO-minister Naledi Pandor se standpunt verwerp het.

“Slegs ure later het drie ANC-regeringsverteenwoordigers – die minister van verdediging en militêre veterane Thandi Modise, die hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), generaal Rudzani Maphwanya, en die direkteur-generaal van die Departement van Verdediging en Militêre Veterane se spesiale adviseur, Tsepe Motumi – ’n skemerkelkie bygewoon wat aangebied is deur die Russiese ambassadeur in Suid-Afrika, Ilja Rogatsjof, en die Russiese verdedigingsattaché, kolonel Dmitriy Priimatsjoek.”

Die DA sê om alles te vererger het Suid-Afrika ook buite stemming gebly tydens die VN se Algemene Vergadering-stemming om die inval te veroordeel.

Die DA het ’n aanlyn petisie geloods waarin gevra word dat die Suid-Afrikaanse regering ’n beslissende standpunt oor die Russiese inval in die Oekraïne inneem.

Meer as 5 000 mense het teen Maandag die DA se petisie onderteken.

ActionSA het ook die regering se houding oor die Russiese inval ten sterkste veroordeel en bestempel dit in ’n verklaring as skandalig.

Die party sê die weiering om hierdie oorlog te veroordeel plaas Suid-Afrika aan die verkeerde kant van die geskiedenis tesame met ’n lys lande wat bekend is vir hul menseregteskendings en minagting van demokratiese en vryemarkbeginsels, insluitend China, Kuba en Noord-Korea.

Ook die politieke kommentator en uitgewer van Vrye Weekblad, Max du Preez, het in sy Maandag-rubriek uitgevaar teen die regering se weiering om ’n Russiese onttrekking of skietstaking te eis. Hy het ook reageer op die regeringslui se bywoning van die skemeronthaal by die Russiese ambassade.

Hy sê dit is immoreel, irrasioneel, roekeloos en veragtelik. “Die regering en die ANC vergoeilik nie net massamoord nie, hulle skaar Suid-Afrika agter ’n megalomaniese tiran wat sy kritici laat vermoor of opsluit en geen vrye spraak in sy land duld nie.”

Volgens Ramaphosa bly Suid-Afrika egter daartoe verbind om die menseregte en fundamentele vryhede te bevorder, “nie net van ons eie mense nie, maar vir die mense van Palestina, Wes-Sahara, Afganistan, Sirië en regoor Afrika en die wêreld”.

Hy het die hoop uitgespreek dat onderhandelinge tussen Rusland en Oekraïne positiewe uitkomste sal oplewer wat die weg vir ’n einde aan die konflik sal baan.

“Al verloop die tempo van onderhandelinge stadig, is daar nietemin vordering. Elke poging van die internasionale gemeenskap moet daarop gerig wees om hierdie samesprekings te ondersteun en om die twee kante bymekaar te bring.”

Die President sê Suid-Afrika is baie bemoedig deur die woorde van die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, wat verlede week gesê het hy sal alles in sy vermoë doen om by te dra tot ’n onmiddellike staking van vyandelikhede en dringende onderhandelinge vir vrede.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top