Ramaphosa, ras en die apartheidspoke wat tot ruste moet kom

  • 0

’n Maand voordat Suid-Afrikaners vanjaar hul Versoeningsdag vier, is die land die afgelope week opnuut deur die spoke van die verlede herbesoek (om die titel van Leon Wessels se onlangs-verskene boek Encountering apartheid’s ghosts hier vryelik in te span).

In reaksie hierop het pres Cyril Ramaphosa gister in ’n vraag-en-antwoord-sessie van die Nasionale Vergadering gesê Suid-Afrika dra steeds die letsels van sy “aaklige verlede” van rasseverdeeldheid en -konflik.

Die nuutste brandpunt was Brackenfell in Kaapstad se noordelike voorstede, waar hoofsaaklik swart ondersteuners van die EFF deur meestal wit, maar ook bruin ouers en gemeenskapslede die skrik op die lyf gejaag is. Wat tot die gebeure aanleiding gegee het, was ’n matriekafskeid waarheen glo slegs wit graad 12’s van die Hoërskool Brackenfell genooi was. Dit het die EFF genoop om na die skool op te trek om hul ontevredenheid daaroor te kenne te gee, maar omdat dit saamgeval het met die afskop van die matriekeindeksamen, het ouers en gemeenskapslede die protesteerders trompop geloop.

...
Die geweldstonele was afstootlik; die taalgebruik was nie vir beskaafde geselskap bedoel nie.
...

Die geweldstonele was afstootlik; die taalgebruik was nie vir beskaafde geselskap bedoel nie.

Enkele weke gelede het rassespanning 1 154 km verder in Senekal in die Vrystaat oorgekook by die hofverskyning van die beskuldigdes wat aangekla is van die moord op ’n 22-jarige plaasbestuurder, Brendin Horner. Hier was dit lede van die landbougemeenskap, sommige gewapen, wat hul woede oor plaasaanvalle kom demonstreer het; die uiteinde was ’n brandende polisiepatrollievoertuig en die beskadiging van die hofgebou. Maar wat in hierdie geval maklik in ’n rasseslagveld kon ontaard het, is deur kalm polisie-optrede omgekeer in ’n voorbeeld van suksesvolle konflikhantering.

Ramaphosa gister: “Terselfdertyd moet ons erkenning gee daaraan dat die situasie in Senekal gou ontlont is, die reg toegelaat is om sy beloop te neem en dat die rasseretoriek wat met die protesaksies gepaard gegaan het, deur organisasies en individue van oor die samelewing heen veroordeel is.”

Die insident in Senekal, sowel as dié in Brackenfell, dui op hoeveel van die land se verlede nog vandag teenwoordig is, het die President ook gesê, maar beklemtoon dat dit lankal nie meer ’n weerspieëling van die breër Suid-Afrikaanse werklikheid is nie.

Hier is ’n opsomming van opposisiepartye se insette in die NV-bespreking:

  • Die VF Plus-LP Tamarin Breedt het Ramaphosa daarop gewys dat voedselsekerheid in gevaar gestel word “as boere nie voldoende beskerm word nie”.
  • Die EFF-LP Omphile Maotwe het namens haar leier, Julius Malema, aangevoer dat plaasmoorde “om politieke en ekonomiese redes oordryf word”; syfers wat sy ter stawing van haar standpunt voorgehou het, is dat slegs 49 uit die meer as 21 000 moorde wat in 2019-20 in Suid-Afrika gepleeg is, as plaasmoorde beskryf word.
  • Die DA-leier John Steenhuisen het die oorsake van rassespanning op die regering se brood gesmeer omdat dié “steeds Suid-Afrikaners op grond van ras verdeel” deur beleide soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging en ook raskwotas. Is Ramaphosa bereid om ’n einde te maak aan hierdie beleide wat die land in twee skeur? wou Steenhuisen weet.

Die President het nie sy “verbasing en skok” weggesteek oor die feit dat “diegene wat deur die vorige regime [op grond van ras] bevoordeel is, ook dié is wat woedend is daaroor dat voorheen benadeeldes bemagtig word” nie. Die “onderdrukkende apartheidsregime het een ras bo die ander gestel en een ras bo die ander bevoordeel,” was sy verweer. Nou vereis die Grondwet van die “demokratiese regering” dat stappe gedoen moet word om voorheen benadeeldes op gelyke voet met die voorheen bevoordeeldes te bring. Niks hieraan behoort as rassisties of diskriminerend beskou te word nie.

...
Miskien sou die President ook die nuutste werkloosheidsyfers aan Steenhuisen kon voorhou, wat op dieselfde dag deur Statistieke Suid-Afrika bekendgemaak is: Dié is ook uiteindelik ’n oorblyfsel van die verlede.
...

Miskien sou die President ook die nuutste werkloosheidsyfers aan Steenhuisen kon voorhou, wat op dieselfde dag deur Statistieke Suid-Afrika bekendgemaak is: Dié is ook uiteindelik ’n oorblyfsel van die verlede. Die syfer het nou met 7,5 persentasiepunte in die derde kwartaal van 2020 tot 30,8% gestyg. En wie maak die grootste deel van dié groep uit? Swart mense – en bepaald swart jeugdiges.

Ramaphosa het dus goeie rede gehad om in sy antwoord op die vraag oor rasseverdeeldheid verder te benadruk dat die regering daarop ingestel is om die materiële ongelykheid tussen wit en swart Suid-Afrikaners te verminder. “Op dié wyse sal ons die omstandighede vir blywende versoening en eenheid in ons land verbeter,” glo hy.

Maar dit is ’n taak wat nie slegs aan die regering opgelê is nie. Die hele samelewing het ’n rol te speel om ’n einde te bring aan enige vorm van rassisme, rasseverdeeldheid en rasse-ongelykheid. “Ons moet deurentyd rassistiese houdings konfronteer en alle voorvalle van rassistiese gedrag veroordeel,” was Ramaphosa se pleidooi aan sy landsgenote. En ook ’n teregwysing aan diegene wat rassespanning lewend wil hou, dat hulle moet weet “hulle verteenwoordig ’n verskralende minderheid”.

Om die verdelings van die verlede te oorkom, is die weg waarop die land besluit het, het Ramaphosa gesê: “Dit bly Suid-Afrika se grootste en belangrikste uitdaging.”

Die dag wanneer sukses hiermee behaal word, is die dag dat Wessels se “apartheidspoke” uiteindelik tot ruste sal kom.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top