President Cyril Ramaphosa het ’n knuppel in die hoenderhok gegooi met sy aankondiging dat die ANC die Grondwet wil verander om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak.
Suid-Afrikaners het uiteenlopend reageer op Ramaphosa se aankondiging terwyl daar steeds landswye verhore plaasvind om die publiek se mening daaroor te toets.
Sommige kommentators meen dit is niks anders as ’n verkiesingsfoefie om kiesers te paai in die aanloop tot volgende jaar se verkiesing nie, terwyl ander meen dit kan die land se ekonomie ernstige skade berokken en groter onsekerheid tot gevolg hê oor eiendomsreg in Suid-Afrika.
Die politieke kommentator Max du Preez het op Twitter gesê die openbare verhore kan nou netsowel laat vaar word aangesien die uitkoms daarvan reeds deur Ramaphosa aangekondig is.
Du Preez se twiet is met ’n stortvloed kommentare op sy Twitter-rekening begroet deur veral EFF-ondersteuners wat hom geroskam het en die ekonomiese gevolge daarvan as onbelangrik afmaak.
“Dit is tipies van die EFF om my met twiets te bombardeer. Te hel met die rand, te hel met stygende werkloosheid, te hel met die ekonomie en beleggings, ons wil nóú grond hê,” het Du Preez die algemene gevoel onder EFF-ondersteuners opgesom.
This is typical of the EFF Twitter army's barrage of tweets to me - to hell with the rand, to hell with unemployment rising, to hell with the economy and investment, we want our land now 👇 https://t.co/NsQDnbILZp
— Max du Preez (@MaxduPreez) August 1, 2018
Ramaphosa se aankondiging volg kort op die hakke van die jongste werkloosheidsyfers deur Statistiek Suid-Afrika wat ’n drastiese styging in Suid-Afrika toon die afgelope kwartaal. Ekonome meen dit hou direk verband met die onsekerheid oor eiendomsreg.
Volgens Ramaphosa moet daar duidelikheid kom oor grondonteiening sonder vergoeding. Hy sê al hoe meer mense stem saam dat die Grondwet soos dit tans staan nie grondonteiening sonder vergoeding verhinder nie. Volgens die president sal ’n omvattende grondhervormingsprogram ekonomiese groei aanwakker en miljoene meer Suid-Afrikaners in staat sel om aktief aan die land se ekonomie deel te neem. Die president se volledige verklaring kan hier gelees word.
Die leier van die DA, Mmusi Maimane, het Ramaphosa se aankondiging ’n roekelose en onverantwoordelike daad genoem. Hy sê Ramaphosa se aankondiging is ’n bewys dat die ANC homself bo landsbelang stel en nie in staat is om te verander nie, ongeag wie die partyleier is. Maimane se volledige verklaring kan hier gelees word.
Floyd Shivambu van die EFF het op Twitter gespog dat Ramaphosa se aankondiging om Artikel 25 van die Grondwet te verander om grond sonder vergoeding te onteien, daarop dui dat die ANC gekapituleer en onder die leierskap van die EFF ingegee het vir die massas se eise.
The announcement by Ramaphosa that section 25 of the Constitution of South Africa will be amended to permit for expropriation without compensation represents capitulation and surrendering to the demands of the PEOPLE. The PEOPLE under the leadership of the EFF, have spoken.
— Floyd Shivambu (@FloydShivambu) July 31, 2018
AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, het getwiet dat eiendomsreg in Suid-Afrika verder bedreig word na Ramaphosa se aankondiging. Hy het ’n videogreep op Twitter geplaas waarin hy buitelandse beleggers waarsku en hulp vra rakende die regerende party se voorneme om die Grondwet te wysig.
Property rights under threat in South Africa: Here is @afriforum's video message to warn international investors and request help regarding the SA government's plan for #ExpropriationWithoutCompensation Please retweet to spread the massage. Also send it to all investors you know. pic.twitter.com/btI4sEuaPC
— Kallie Kriel (@kalliekriel) August 1, 2018
Die meeste politieke waarnemers is dit eens dat Ramaphosa se aankondiging daarop gemik is om steun onder die massas te wen vir aanstaande jaar se algemene verkiesing. Volgens Max du Preez bevind Ramaphosa hom tussen die duiwel en die diepsee. Du Preez meen die president wil dalk ’n kompromis bereik deur Artikel 25 van die Grondwet te wysig om die populiste soos die EFF se gemoedere te kalmeer sonder om die deur oop te maak vir roekelose grondonteiening.
Die groot vraag wat tans in die lug hang en die onsekerheid oor grondbesit in Suid-Afrika opnuut in die kollig plaas, is hoe die bewoording gaan lyk van die Grondwetwysiging wat die ANC in gedagte het en watter effek dit op die land se ekonomie en buitelandse vertroue gaan hê.
Buro: NB