President Cyril Ramaphosa sê hy is bereid om sy volle samewerking aan die openbare beskermer (OB) te gee met haar ondersoek oor bewerings dat hy vir die parlement gejok het.
Die presidensie het bevestig dat Ramaphosa ’n kennisgewing van die OB, Busisiwe Mkhwebane, ontvang het oor haar ondersoek na bewerings dat hy in die parlement gejok het oor ’n R500 000-skenking van Bosasa.
Presidency confirms receipt of notice from Public Protector [Audio] pic.twitter.com/0mXwGC35LQ
— PresidencyZA (@PresidencyZA) June 12, 2019
Die OB se ondersoek volg nadat die DA en die EFF in November verlede jaar klagtes by haar kantoor ingedien het. Dit was nadat Ramaphosa aan die parlement gesê het die geld wat deur Bosasa betaal is, was konsultasiegeld wat sy seun Andile by Bosasa verdien het.
Ramaphosa het tien dae later erken dat hy die parlement “onopsetlik” verkeerd ingelig het. Die betaling het nie verband gehou met sy seun se werk vir Bosasa nie, maar was ʼn skenking om met sy verkiesingsveldtog as ANC-president te help. Die skenking van R500 000 waaroor die ondersoek handel, is gemaak deur Gavin Watson, destydse uitvoerende hoof van Bosasa.
Die DA het met regstappe teen Mkhwebane gedreig indien die verslag nie teen die einde van die week bekend gemaak word nie.
Volgens die kennisgewing wat aan Ramaphosa uitgereik is, het hy in ooreenstemming met die Wet op die Openbare Beskermer tien dae om op die OB se verslag te reageer. Hy het aan die OB teruggeskryf en gevra vir ʼn verlenging van tien dae. Mkhwebane het die President uitstel tot 21 Junie gegee.
Volgens sy woordvoerder, Khusela Diko, het hy ook besluit om sy reg uit te oefen en eers die klaer, naamlik die DA-leier, Mmusi Maimane, en ander getuies te kruisondervra oor die klagte wat teen hom ingedien is.
Ramaphosa se seun het reeds vroeër vanjaar ontken dat hy enigiets met die betrokke R500 000 te doen gehad het. Ramaphosa het ook opdrag gegee dat die geld teruggegee word nadat dit aan die lig gekom het dat dit van Watson afkomstig was.
In sy aanvanklike antwoord aan die OB het Ramaphosa gesê die geld is intussen in ʼn trustrekening gestort hangende die ondersoek na Bosasa.
In sy voorlegging aan die OB vroeër vanjaar het Ramaphosa gesê hy het besluit om die geld terug te betaal na onthullings voor die Zondo-kommissie oor staatskaping.
Ramaphosa se opponente en ondersteuners reageer uiteenlopend oor die skenking. Sy opponente hou vol hy het die parlement mislei, terwyl sy ondersteuners sê hy kan nie verantwoordelik gehou word vir verkeerde inligting aan die parlement as hy nie van die feite bewus was nie en dat hy die feite reggestel het nadat dit onder sy aandag gekom het.
................................
Intussen het die kabinet Donderdag met ʼn driedaagse lekgotla (bosberaad) begin om die regering se program vir die volgende vyf jaar te beplan.
The 3-day #CabinetLekgotla is attended by President @CyrilRamaphosa, Deputy President @DDMabuza, Ministers, Deputy Ministers, Premiers, Directors-General and other Senior Government Officials and will discuss the programme of action of government for the next five years. pic.twitter.com/iZJfqig2kg
— PresidencyZA (@PresidencyZA) June 12, 2019
Die lekgotla word ook bygewoon deur adjunkpresident David Mabuza, premiers van die onderskeie provinsies, direkteurs-generaal en ander senior regeringsamptenare.
Buro: MvH