Ramaphosa se brief oor plaasmoorde lok wye reaksie

  • 0

Die landbou-organisasie Agri SA en die burgerregte-organisasie AfriForum het uiteenlopend reageer op president Cyril Ramaphosa se reaksie op die moord van Brendin Horner en die onlangse gebeure in Senekal.

Agri SA verwelkom Ramaphosa se betuiging van medelye en leedwese teenoor die familie van wyle Brendin Horner en alle ander slagoffers van misdaad. AfriForum sê in hulle reaksie briewe oor plaasmoorde is nie voldoende om dié krisis op te los nie.

Dit volg nadat Ramaphosa Maandag in sy weeklikse aanlyn nuusbrief die moord op Horner veroordeel het. 

Agri SA se president, Pierre Vercueil, sê in ’n verklaring sy organisasie verwelkom ook die President se erkenning dat misdaad besig is om die land uitmekaar te skeur en dat dit ’n ernstige grondwetlike bedreiging inhou.

Hy sê Suid-Afrika is in ’n bose kringloop van misdaad vasgevang. Dit raak alle mense in die land uiters negatief. Die vlakke van geweld en brutaliteit waarmee landelike misdaad gepaardgaan, is volgens Agri SA onaanvaarbaar en alles moet in die stryd gewerp word om misdaad te bekamp.

“Die handhawing van wet en orde in die land moet geprioritiseer word en daarom word die praktiese stappe wat in die President se nuusbrief voorgestel word verwelkom. Ons stem saam dat die sukses van die hersiene landelike beveiligingstrategie op groter koördinasie en beter kommunikasie tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), landbou-organisasies en gemeenskappe, berus,” sê Christo van der Rheede, Agri SA se uitvoerende direkteur.

Hoewel AfriForum dit ook verwelkom dat Ramaphosa die voorval aangespreek het en dit as ’n stap in die regte rigting beskou, doen dit volgens hulle nie weg met die skade wat Ramaphosa self aangerig het toe hy op ’n internasionale platform ontken het dat plaasmoorde in Suid-Afrika plaasvind nie.

AfriForum sê in hulle verklaring dit doen ook nie weg met die skade wat Bheki Cele, die minister van polisie, vroeër aangerig het in sy neerhalende opmerkings teenoor boere nie.

Tydens die onlangse vergadering tussen georganiseerde landbou en die nasionale kommissaris van polisie is daar ’n hand van vriendskap na mekaar uitgereik. Die polisie het onder andere onderneem om misdade in landelike gebiede proaktief en reaktief te prioritiseer. Tydens die gesprek is veral gefokus op die beter implementering van verskeie elemente van die strategie. Agri SA het opnuut sy steun daaraan toegesê.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê op sy beurt dit is goed en wel dat die President sê dat daar beter samewerking tussen die polisie en die burgerlike samelewing moet wees, maar die werklikheid is dat die forums wat daarvoor voorsiening moet maak, nie funksioneer nie.

“Die feit dat Bheki Cele bekend gemaak het dat een van die verdagtes al 16 keer in hegtenis geneem is, is wat AfriForum betref aanduidend dat die strafregstelsel wanfunksioneel is en bevestig verder dat ’n meer holistiese en omvattende reaksie nodig is,” het Roets gesê.

Beide Agri SA en AfriForum het die belangrikheid van landbou in Suid-Afrika beklemtoon. Agri SA sê landbou speel  ’n enorme rol om op ’n volgehoue basis in landelike ontwikkeling te belê.

“Agri SA steek weer sy hand uit om op ’n gekoördineerde en pragmatiese wyse beleggings te weeg te bring, ekonomiese groei te bewerkstellig, opkomende boere by te staan en landelike ekonomieë aan die gang te kry ten einde die lewensgehalte van alle mense in die platteland te verbeter en welvaartskepping op ’n inklusiewe basis teweeg te bring,” lui hulle verklaring verder.

AfriForum meen egter senior politici, ook in die ANC, dra met hulle uitsprake daartoe by dat  geweld teenoor boere geromantiseer word. Hulle sê slagoffers word gereeld blameer vir hierdie misdade en daar word beweer dat boere hul gedrag en ingesteldheid moet verander as hulle wil hê dat plaasmoorde moet ophou.

“Dit alles dui daarop dat ’n groot deel van die krisis by die ingesteldheid en traak-my-nie-agtige houding van die regering lê. Om briewe hieroor te publiseer gaan geen verskil maak as dit nie opgevolg word met daadwerklike optrede binne die regering om die regering se ingesteldheid te verander nie. Daar moet ook daadwerklike optrede op grondvlak wees om mense te beveilig,” sê AfriForum.

  • 0
Top