President Cyril Ramaphosa se plan om Suid-Afrika met ’n nasionale aksieplan vir KI op ’n nuwe tegnologiese koers te plaas is dalk meer ambisieus as wat dit prakties uitvoerbaar is. Dit skep ook talle vrae oor die tegnologiese sprong wat hy hoop die land moet maak, terwyl basiese infrastruktuur, onderwys en staatsdienste steeds onder druk is.
Ramaphosa het verlede Vrydag (20 November) aan die einde van sy werkbesoek aan Silicon Valley in Kalifornië aangekondig dat die regering binne 90 dae ’n konkrete nasionale KI-aksieplan moet ontwikkel.
In ’n toespraak aan ministers, senior regeringsamptenare, sakeleiers, beleggers, navorsers, akademici en studente het Ramaphosa gesê die plan sal fokus op die gebruik van KI om openbare dienste te verbeter, beleggings in KI-infrastruktuur te lok, plaaslike vermoëns te bou en die land voor te berei vir die risiko's en ontwrigtings wat met die tegnologie gepaardgaan.
“Ek het besluit dat ons binne die volgende 90 dae ’n konkrete nasionale KI-aksieplan moet ontwikkel,” het Ramaphosa aan die afvaardiging gesê.
Die President beplan om die sleutelelemente van die program in sy staatsrede in Februarie 2027 uiteen te sit.
Daarmee wil hy Suid-Afrika binne drie maande op ’n nuwe tegnologiese koers plaas, maar gebrekkige infrastruktuur, ’n tekort aan vaardighede en vrae oor die regering se eie vermoë om KI verantwoordelik te bestuur, kan die plan se uitvoering bemoeilik.
Ramaphosa se aankondiging volg op gesprekke met internasionale tegnologiemaatskappye, beleggers, navorsers en entrepreneurs. Hy wil hê Suid-Afrika moet nie bloot ’n verbruiker van nuwe tegnologie wees nie, maar ’n belangrike KI-sentrum vir Afrika word.
Die plan sal op vier prioriteite fokus: die gebruik van KI om staatsdienste te verbeter, die lok van beleggings in tegnologiese infrastruktuur, die ontwikkeling van plaaslike kundigheid en die bestuur van die risiko's wat met die tegnologie gepaardgaan.
Sulke toepassings vereis egter betroubare internettoegang, elektrisiteit, behoorlike databestuur en mense wat weet hoe om die tegnologie verantwoordelik te gebruik.
Kenners waarsku dit is juis waar Suid-Afrika se grootste struikelblokke lê. In talle landelike gebiede is internettoegang beperk, baie skole beskik nie oor voldoende rekenaars nie en staatsinstellings sukkel reeds om bestaande tegnologiese stelsels behoorlik te bestuur.
Een van Ramaphosa se doelwitte is om internasionale beleggings in datasentrums en KI-rekenaarinfrastruktuur te lok. Hy meen Suid-Afrika se potensiaal vir hernubare energie en die hervorming van die energiesektor kan help om dié beleggings aan te moedig.
Datasentrums verg egter groot hoeveelhede elektrisiteit en water. Die uitbreiding daarvan kan dus nuwe druk op skaars hulpbronne plaas. Die vraag is of Suid-Afrika genoeg betroubare energie en water het om dié tegnologiese ambisie volhoubaar te ondersteun sonder om plaaslike gemeenskappe en ander gebruikers te benadeel.
KI hou ook ernstige implikasies vir werksgeleenthede in. Die Internasionale Monetêre Fonds waarsku dat ongeveer 40% van poste wêreldwyd in ’n mindere of meerdere mate aan KI blootgestel kan word.
Ramaphosa wil hê dat opleiding, heropleiding en lewenslange leer deel van die plan moet wees. Maar dit sal min help as die meeste Suid-Afrikaners nie toegang tot die nodige digitale hulpmiddels en opleiding het nie.
Daar is boonop vrae oor die regering se eie vermoë om KI verantwoordelik te bestuur. Suid-Afrika se vorige konsep- nasionale KI-beleid is in April vanjaar teruggetrek nadat ontdek is dat verskeie akademiese verwysings daarin fiktief was en moontlik deur KI gegenereer is.
Kommunikasie- en digitale tegnologieë-minister Solly Malatsi het die dokument laat terugtrek sodat dit hersien kon word. ’n Hersiene konsepbeleid word vir Januarie 2027 vir openbare kommentaar beplan.
Terwyl die regering die koördinering van die nasionale aksieplan sal lei, het Ramaphosa beklemtoon dat die sukses daarvan sal afhang van die betrokkenheid van besigheid, universiteite, navorsers, entrepreneurs en jongmense.
Sy besoek aan Silicon Valley het gewys dat Suid-Afrika die geleentheid wil gebruik om ’n groter rol in die nuwe tegnologie-ekonomie te speel. Internasionale vennootskappe en ambisieuse aankondigings alleen is egter nie ’n waarborg van vooruitgang nie.
Sonder betroubare infrastruktuur, behoorlike opleiding en doeltreffende bestuur kan Suid-Afrika maklik die tegnologiewedloop betree sonder dat die meeste van sy inwoners ooit die voordele daarvan ervaar.
- Lokprent deur Gordon Johnson van Pixabay
