President Cyril Ramaphosa se regrukplan om die land se energiekrisis te oorkom, is met gemengde gevoelens deur politieke partye en energiekenners ontvang.
Die reaksies op Dinsdagaand se aankondiging wissel van “’n benoude sprong in die regte rigting” tot “te min te laat”.
Die DA sê Ramaphosa se vyfpunt-energieplan is direk uit die DA-handboek, terwyl die Vryheidsfront Plus sê dit is te min te laat.
Die energiebeleidskenner Anton Eberhard sê die ingrypings wat deur president Ramaphosa aangekondig is om kragonderbrekings in Suid-Afrika te beëindig, kan dalk oor drie jaar vrugte afwerp maar slegs as dit met dringendheid en doelmatig geïmplementeer word.
Eberhard het op Twitter gesê as die aanbevelings wat reeds in 2015 en weer in 2019 aan die regering gemaak is, geïmplementeer sou word, sou die land nie nou beurtkrag gehad het nie.
9/ Will the interventions announced by President Ramaphosa end power cuts in South Africa? Maybe. In 3 yrs time. But only if implemented with urgency snd purpose.
(If recommendations made in 2015 and again in 2019 were implemented then we would not be having load-shedding now).— Anton Eberhard (@AntonEberhard) July 25, 2022
Volgens die onafhanklike politikus Mmusi Maimane van die One South Africa-beweging het Ramaphosa reeds te veel leë beloftes in die verlede gemaak waarvan daar niks gekom het nie. Maimane sê hierdie plan is net nóg een en Ramaphosa is ’n man vol planne maar weinig dade. Volgens Maimane het die meeste mense hulle vertroue in Ramaphosa se baie planne verloor.
“In another 18 months to two years, you will forget the challenges that we had with relation to power and energy and Eskom ever happened.”
- Cyril Ramaphosa, 2 September 2015
— Mmusi Maimane (@MmusiMaimane) July 26, 2022
Die DA sê in hulle verklaring noudat ’n energieplan aangekondig is om die elektrisiteitkrisis te hanteer, sal die DA Ramaphosa se regering aanspreeklik hou vir die verbintenisse wat gemaak is om nuwe opwekkingskapasiteit by te voeg.
In die medium- tot langtermyn behoort Ramaphosa se regering volgens die DA uit die pad te bly van diegene wat hierdie gemors wil regmaak en in staat is om dit te doen.
Die DA sê hulle is gereed en bereid om by te dra tot enige opregte nasionale poging wat daarop gemik is om die energiekrisis te hanteer en Suid-Afrika weer aan die werk te kry. “Die president sal ons ondersteuning hê in die implementering van die energieplan solank hy verbind bly tot deursigtige en verantwoordbare implementering van die plan met die dringendheid wat vereis word.”
Die VF Plus se leier, Pieter Groenewald, sê hulle het nog altyd die mening gehuldig dat ’n noodtoestand of ramp nie nodig is om die land se kragkrisis te hanteer nie. President Cyril Ramaphosa se besluit om nie een aan te kondig nie, was volgens hulle die regte besluit.
Groenewald sê in sy verklaring die stappe wat president Ramaphosa aangekondig het, is stappe wat al lankal gedoen moes gewees het. “Eskom se kragkrisis het nie oornag ontstaan nie, maar het oor ’n aantal jare ontwikkel.”
The steps that President Ramaphosa announced are steps that should have been taken a long time ago already. #Eskom's power crisis did not arise overnight, but developed over the course of a number of years. https://t.co/TdlhDMb3On
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) July 26, 2022
Een van die stappe wat nou gedoen word, en wat die VF Plus al lank voorstaan, is om die private sektor by kragvoorsiening te betrek deur van die beperkende regulasies in daardie verband op te hef, het Groenewald gesê.
Die VF Plus is van mening dat die private sektor se betrokkenheid kan verhoed dat die land in die toekoms weer in ’n soortgelyke krisis gedompel word.
“Die plan wat die president aangekondig het, is egter te min te laat. Dit laat onvermydelik ook die vraag ontstaan of die regering in staat is om die plan te implementeer en uit te voer,” het Groenewald gesê.
Solidariteit het die regering se plan om die kragkrisis in Suid-Afrika aan te pak, verwelkom. “Volgens Solidariteit verteenwoordig die plan, wat talle van Solidariteit se onlangse voorstelle eggo, ’n sprong in die regte rigting,” het hulle in ’n verklaring gesê.
Enige plan, ongeag hoe goed, moet steeds behoorlik geïmplementeer word.
Ons hou nou die regering met ʼn valkoog dop om te vir seker dat hulle hierdie beloftes nakom. @Beeld_Nuus @BokRadio @BosveldStereo @JacaNews @EWNAfrikaans @Netwerk24 @sabcnuus https://t.co/zakvAOgy3z— Solidariteit (@solidariteit) July 25, 2022
Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is die regering se skuif na ’n meer gedesentraliseerde stelsel vir kragopwekking die enigste werkbare en volhoubare oplossing tot Suid-Afrika se kragkrisis.
“Soos ook in Solidariteit se vroeëre plan uiteengesit, is die aanmoediging en fasilitering van kleinskaalse kragopwekking op ’n groot skaal van kardinale belang om ons kragnetwerk te stabiliseer,” sê Hermann. “Deur deregulering en die verwydering van regulatoriese hindernisse bevry ons die privaatsektor en gemeenskappe om skeppende en veerkragtige oplossings vir die krisis te bied.”
Solidariteit sê ook dat hulle fokus nou skuif na die implementering van die plan wat die regering aangekondig het.
“Enige plan, ongeag hoe goed, moet steeds behoorlik geïmplementeer word. Baie van hierdie voorstelle gaan loodreg teen die regering se staatsgesentreerde DNS en derhalwe sal daar ’n groot versoeking wees om terug te val op daardie uitgediende model. Ons hou nou die regering met ʼn valkoog dop om te verseker dat hulle hierdie beloftes nakom,” het Hermann gesê.