Duisende gevangenes in Suid-Afrikaanse tronke gaan danksy begenadiging deur president Cyril Ramaphosa vroeër vrygelaat word, maar nie almal dink dít is ’n goeie idee nie.
Ramaphosa se aankondiging op Versoeningsdag dat meer as 14 000 misdadigers in die tronk of op parool as ’n gebaar van versoening vroeër vrygelaat gaan word, het skerp kritiek van onder andere die Demokratiese Alliansie (DA) uitgelok.
Cyril Ramaphosa (Foto: [CC BY 2.0], via Wikimedia Commons)
Gevangenes wat vonnisse uitdien vir moord, poging tot moord, gewapende roof, seksuele oorredings, opstoking, kindermishandeling en huishoudelike geweld sal nie in aanmerking kom vir die president se kwytskelding nie. Ook nie gevangenes wat lewenslange vonnisse opgelê is, of ingevolge die wet op geestelike gesondheid aangehou word nie.
Daar is tans meer as 165 000 mense in Suid-Afrikaanse tronke waarvan omtrent nege persent hiervoor in aanmerking sal kom.
14 467 prisoners given a presidential pardon..
So now we have 14 000 criminals back on the street to terrorise citizens.
How many will there be terrorizing communities and their families and the society as whole.All the effort of police to catch them and they get pardoned.
— SA Politics 🇿🇦 (@SA___Politics) December 16, 2019
Die DA se skadu-minister van justisie en korrektiewe dienste, Glynnis Breytenbach, sê Ramaphosa se aankondiging om kwytskelding te verleen aan sekere kategorieë kriminele is ’n klap in die gesig van diegene wat slagoffers van misdaad was.
Breytenbach het die aankondiging dat duisende veroordeelde misdadigers vroeër vrygelaat gaan word in ’n verklarings as “bisar” en “onverantwoordelik” beskryf.
The slap in the face that this reckless, foolhardy approach represents to the literally thousands of South Africans who fall victim to crime on a daily basis, cannot be overstated. - Glynnis Breytenbach https://t.co/8g5ntnAZb7
— Democratic Alliance (@Our_DA) December 17, 2019
Volgens die regering is die meeste gevangenes wat kwytgeskeld gaan word, reeds op parool en onderhewig aan korrektiewe toesig, of is reeds vrygelaat op mediese parool. Dit is nie uniek aan Suid-Afrika nie en verskeie ander lande staan ook kwytskelding onder sekere omstandighede toe.
Thabo Mbeki en Jacob Zuma het ook, onderskeidelik in 2005 en 2012, presidensiële kwytskeldings toegestaan. Dit sal vanjaar die eerste keer wees dat Ramaphosa hierdie presidensiële prerogatief uitoefen.
Volgens regeringswoordvoerders het slegs sowat 0.25 persent van diegene wat deur Mbeki en Zuma kwytgeskeld is, weer agter tralies beland.
...........
“Volgens die regering is die meeste gevangenes wat kwytgeskeld gaan word, reeds op parool en onderhewig aan korrektiewe toesig, of is reeds vrygelaat op mediese parool.”
...........
Breytenbach sê een van die persone wat as gevolg van Ramaphosa se “onregverdige besluit” sal baat, is Kanya Cekeshe, die #FeesMustFall-aktivis wat ’n polisievoertuig aan die brand gesteek het tydens ’n studenteprotesaksie. Nóg ’n kandidaat is die AbaThembu-koning, Dalindyebo, wat ’n vonnis van twaalf jaar uitdien vir ernstige oortredings, waaronder brandstigting, strafbare manslag, aanranding en menseroof.
Breytenbach sê Suid-Afrikaners het rede om woedend te wees en dat Ramaphosa die skuld moet kry as misdadigers wat vrygelaat word, terugval en weer oortree.
Volgens Netwerk24 is een gevangene wat Ramaphosa nié gaan kwytskeld nie, Vicky Momberg wat ’n vonnis van twee jaar in die Johannesburgse gevangenis uitdien. Sy is daarvan skuldig bevind dat sy ’n polisieman in 2016 herhaaldelik die k-woord toegesnou het.
Momberg is verlede maand weer in hegtenis geneem nadat sy haar borgvoorwaardes herhaaldelik oortree het. Daardeur het sy haarself blykbaar in die voet geskiet omdat dié oortredings haar diskwalifiseer om in aanmerking te kom vir ’n verminderde vonnis.
Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, sê elke gevangene wat vir kwytskelding kwalifiseer, se saak sal afsonderlik beoordeel word. Hy sê benewens die departement van korrektiewe dienste sal die polisie en die departement van binnelandse sake ook by die proses betrokke wees.
Buro: MvH