President Cyril Ramaphosa het vir die tweede keer binne ’n week ’n lansie gebreek vir die media. Hy het joernaliste aangemoedig om sonder vrees verslag te doen en voort te gaan om korrupsie en ander vergrype aan die kaak te stel.
Ramaphosa het Maandag in sy gereelde nuusbrief gesê die Suid-Afrikaanse media het ’n deurslaggewende rol gespeel om die omvang van staatskaping oop te vlek wat deur selfsugtige korrupte individue of entiteite gepleeg is. “Hulle het volgehou om daaroor te rapporteer in weerwil van die intimidasie wat hulle in die gesig moes staar, disinformasie en persoonlike aanvalle wat hulle moes verduur,” het die President in sy nuusbrief geskryf.
Verlede week het Ramaphosa ook in sy getuienis voor die Zondo-kommissie lof gehad vir die media en die rol wat hulle gespeel het om staatskaping oop te vlek.
In sy nuusbrief doen Ramaphosa ’n beroep op joernaliste om hul geloofwaardigheid te behou en nie toe te laat dat hulle of hul mediahuise gebruik word vir politieke gevegte om sekere belange te bevorder nie. Hy sê onakkurate en vals berigte sal tot gevolg hê dat die publiek vertroue in die betrokke instelling sal verloor.
From The Desk of The President - Monday, 03 May 2021 - https://t.co/CyEoyd8YkD
As we conclude Freedom Month, we recall how far we have come from the days where social protest by artists attracted banning orders, and critical reporting by journalists risked imprisonment pic.twitter.com/DSMnWET7E9— Presidency | South Africa 🇿🇦 (@PresidencyZA) May 3, 2021
Dit was Maandag die herdenking van wêreldwye mediavryheidsdag. Ramaphosa sê die media se rol is vandag belangriker as ooit tevore, te midde van die stryd teen COVID-19. Hy het die media gevra om ook verslag te doen oor kwessies wat bydra tot menslike ontwikkeling. Dit sluit in geslagsgeweld, misdaad en dwelmmisbruik.
Hy sê dit is in almal wat lief is vir die land se beste belang dat die media ondersteun word en nie verhinder word om hulle werk te doen nie.
“Laat ons as ’n gemeenskap saamwerk om jaloers te waak oor ons land se mediavryheid. Dit is hard bekom en iets waarsonder ons nie kan klaarkom nie.”
Tydens Ramaphosa se verskyning voor die Zondo-kommissie verlede week het advokaat Alec Freund van die kommissie se ondersoekspan uit ’n artikel van die Sunday Times van 2011 voorgelees waarin senior ANC-bronne aangehaal is dat kabinetslede deur die broers Gupta na Saxonwold ontbied word en hoe bang hulle vir die broers was. Hy wou by Ramaphosa weet waarom die ANC in die parlement geweier het om dit te ondersoek, waarop Ramaphosa moes erken dat hulle hulle plig versuim het. Hy is ook daarop gewys dat een van die ANC se topleiers, Gwede Mantashe, gesê het die artikel was rassisties, waarop Ramaphosa weer moes erken die ANC was blind as hy nou terugkyk.
Vrye Weekblad se redakteur, Max du Preez, noem dit in sy digitale koerant ’n Ramaphosa-systap wat Danie Gerber sou jaloers maak: “Hy loof die media se ‘fenomenale rol’ en ‘patriotiese optrede’ deur staatskaping te ontbloot. Dit is waarom die vryheid van die media deur almal beskerm moet word.”
Du Preez het Maandag in sy eie nuusbrief geskryf Ramaphosa moes dalk maar erken het dat hy sy oë dig toegeknyp het en Zuma en die Guptas en Kie miljarde der miljarde laat steel het, want hy het geweet Zuma se termyn sou in 2018 tot ’n einde kom en dan kon hy oorneem en regmaak. Al het dit Suid-Afrika meer as R1 triljoen gekos en die meeste instellings verwoes.
Hy sê egter ook mense wat ongeduldig met Ramaphosa raak, moet dink hoe Suid-Afrika vandag onder Nkosazana Dlamini-Zuma as president sou gelyk het. “Ons moet Cyril by sy woord hou,” sê Du Preez in sy nuusbrief. “Sy eerste toets is op hande: Gaan Ace Magashule en sy soort senior ANC-skelms dié week wegkom met hulle weiering om ‘terug te staan’?”