Ramaphosa se nuwe kabinet is goeie én slegte nuus

  • 0

President Cyril Ramaphosa se nuwe kabinet bevat positiewe sowel as negatiewe elemente. Ramaphosa se eerste kabinet wat laat Maandagaand aangekondig is, het uiteenlopende reaksies onder Suid-Afrikaners ontlok.

Die meeste kommentators bestempel dit as ’n kompromis tussen die verskillende faksies in die ANC. Aan die een kant wil Ramaphosa eenheid in die partye behou en aan die ander kant het hy ontslae geraak van sommige Zuma-aanstellings wat die land groot skade berokken het.

Die leier van die amptelike opposisie, Mmusi Maimane het in ’n verklaring gesê Ramaphosa het ’n dodelike kompromis aangegaan deur die omstrede David Mabuza as adjunk-president van die land aan te stel.

Mabuza word by verskeie skandale betrek en is volgens die DA-leier ’n bedreiging vir die geveg teen korrupsie wat hoog op Ramaphosa se agenda is.

Die EFF meen Ramaphosa het onder druk van ANC-faksies geswig omdat baie van Zuma se ondersteuners steeds in die kabinet is. Een van hulle is die hoogs omstrede Bathabile Dlamini wat verantwoordelik was vir die chaos by die departement van maatskaplike ontwikkeling se toelaag-uitbetalings. Sy is nou minister in die presidensie belas met vrouesake.

Goeie nuus is dat Pravin Gordhan, Derek Hanekom en Nhlanhla Nene wat almal deur Zuma in die pad gesteek is, weer terug is in die kabinet. Nene wat sy pos as minister van finansies terug het behoort sakevertroue te help herstel. Gordhan se taak sal wees om die semi-staatsondernemings soos Eskom, die Suid-Afrikaanse Lugdiens en PRASA of die nasionale departement van vervoer, wat almal onder staatskaping gebuk gaan, te probeer regruk.

Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald sê die kabinetskommeling bevat goeie en slegte elemente. Groenewald meen die nuwe kabinet is ’n duidelike aanduiding dat Ramaphosa deur die ANC gevange gehou word en nie werklik sy eie stempel op die land kan afdruk nie.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die afdankings van ministers soos Mosebenzi Zwane as minister van mineralebronne en Lynne Brown by openbare ondernemings verwelkom. Des van Rooyen wat deur Zuma aangestel is as minister van finansies maar slegs drie dae in die pos was voordat hy na druk uit die ANC self verskuif is na samewerkende regering, se afdanking uit die kabinet is ook allerweë verwelkom.

Ramaphosa het nie, soos wat daar gehoop is, sy kabinet verklein nie. Hy het egter aangedui dat dit wel in die afsienbare toekoms sal gebeur. Ontleders hoop dit sal hom in staat stel om van die ander Zuma-lojaliste ontslae te raak.

Gewone Suid-Afrikaners se reaksie op sosiale media was verdeeld oor die samestelling van die nuwe kabinet. Die meeste meen Ramaphosa het nie veel van ’n keuse gehad nie en moet ’n kans gegun word.

Die omstrede minister van polisie Fikile Mbalula het ook die trekpas gekry. Hy het sy afdanking uit die kabinet aangekondig nog voordat Ramaphosa sy nuwe kabinet bekendgemaak het. “Ek het gepak en is gereed om te gaan,” het hy kort voor Ramphosa se aankondiging getwiet.

Hy het op Twitter gesê hy gaan nie vra waarom hy afgedank is nie, maar het al die nuwe kabinetslede geluk gewens en sê hy aanvaar die kabinetskommeling. Hy het ook sy opvolger, Bheki Cele, wat weer in sy ou pos aangestel is gelukgewens. Mbalula het in ’n afsonderlike boodskap op Twitter gesê hy het nie verwag om afgedank te word nie, maar respekteer die president se keuse.

Mbalula is een van die mees uitgesproke ANC-leiers op Twitter. Gedurende sy termyn as minister van polisie het hy sy Twitter-handvatsel verander na Fearfokkol. Hy het egter voor sy afdanking ontslae geraak van die omstrede naam nadat Ramaphosa hom glo daaroor berispe het omdat dit nie betaamlik is vir ’n minister om so na homself te verwys nie.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top