Druk op president Cyril Ramaphosa om te bedank of opsy te staan het Donderdag uit alle oorde op hom toegesak van selfs binne sy eie party.
Dit volg nadat ’n onafhanklike paneel onder voorsitterskap van ’n voormalige hoofregter bevind het dat hy hom skuldig gemaak het aan ernstige oortredings van die Grondwet omdat hy homself aan botsende belange blootgestel het.
Terwyl opposisiepartye Donderdag die een na die ander aangedring het op sy bedanking, het Ramaphosa homself afgesonder en al sy afsprake vir die dag gekanselleer.
Lede van die media is in kennis gestel dat die media-inligtingsessie deur die presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya, wat vir Donderdag beplan was, gekanselleer is.
Ramaphosa bevind hom nou tussen twee vure. Hy is op die randjie om die eerste Suid-Afrikaanse president te word wat in ’n staat van beskuldiging geplaas kan word indien die parlement die verslag aanvaar waarin die ernstige bevindings teen hom gemaak word
’n Nasionale Vergadering-sitting word vir volgende week beplan om die verslag te debatteer en te besluit of Ramaphosa wel in ’n staat van beskuldiging geplaas moet word.
Die bevinding in die verslag kon nie op ’n slegter tyd vir Ramaphosa kom nie.
Die ANC se nasionale konferensie waar die party se nuwe leiers verkies word, begin oor sowat twee weke. Die bevindings in die verslag sal sy stryd om vir ’n tweede termyn as leier verkies te word, aansienlik bemoeilik en bied die ideale wapen vir sy teenstanders om van hom ontslae te raak.
Die meeste van hulle het reeds bloed geruik. Nkosazana Dlamini-Zuma, wat tydens die vorige ANC konferensie naelskraap teen Ramaphosa verloor het, was een van die eerste senior ANC-leiers wat ’n beroep op hom gedoen het om opsy te staan.
Sy het ná die bevindings van die artikel 89-paneel oor die Phala Phala-plaasdiefstal op Twitter gesê as Ramaphosa die ANC se opsystaanreël lees moet hy opsy staan. “Ek dink die President moet nou opsy staan en op die saak antwoord,” het sy getwiet.
Opposisiepartye so ver van mekaar verwyderd as die EFF en die Vryheidsfront Plus, tot by die DA en ActionSA, was almal eensgesind in hul aangedring op Ramaphosa se bedanking.
Die DA-leier, John Steenhuisen, het gesê die oorhandiging van die onafhanklike paneel se verslag oor die Phala Phala-bewerings, verteenwoordig 'n seismiese verskuiwing in die Suid-Afrikaanse politiek.
“Weer eens word 'n sittende president daarvan beskuldig dat hy die Grondwet oortree het. Weer eens staar 'n sittende president interne politieke opstand in die gesig. Weer eens dompel die ANC en sy wanfunksionele politiek Suid-Afrika in 'n krisis.”
Steenhuisen sê in ’n verklaring die land is in die onmoontlike situasie dat as Ramaphosa nou herroep word, ons met 'n korrupte president Mabuza gaan sit. En as hy tot die ANC se verkiesingskonferensie oorleef, maar dan verslaan word, kan ons met 'n korrupte president Mkhize sit. En as Ramaphosa op een of ander manier by die konferensie seëvier, sit ons, volgens Steenhuisen, met 'n korrupte president Ramaphosa, wie se fokus op sy eie politieke oorlewing eerder as op die welsyn van die nasie sal wees.
Die enigste opsie is volgens Steenhuisen dat 'n gewone meerderheid van 50% +1 van die Nasionale Vergadering vir die ontbinding van die regering stem, wat dan 'n vroeë verkiesing sal veroorsaak.
“Ek sal hierdie mosie in die Nasionale Vergadering ter tafel lê, en ek sal 'n beroep doen op alle lede van die parlement, ongeag die party of affiliasie, om dit te ondersteun sodat ons hierdie hoofstuk van korrupsie dringend kan afsluit en kan terugkeer na die hantering van ons land se vele uitdagings.”
Politieke waarnemers is dit egter eens dat die kanse omtrent nul is dat die ANC, wat die meerderheid in die Nasionale Vergadering vorm, vir ’n vroeë verkiesing sal stem.
Herman Mashaba van ActionSA sê geen mens is bo die wet verhewe nie en Ramaphosa moet respek aan Suid-Afrikaners toon en bedank, of vervolging in die gesig staar. “Ons kan nie meer vermorste jare bekostig met nog 'n president wat kriminele aanklagte in die gesig staar nie,” het Mashaba op Twitter gesê.
No person is above the law!
Cyril Ramaphosa must show respect to South Africans and resign, or face impeachement.
We cannot afford more wasted years with another President facing criminal charges.
Our country needs ethical leadership.
— Herman Mashaba (@HermanMashaba) November 30, 2022
Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, sê die bevindings van die artikel 89-paneel dat daar genoeg prima facie-bewyse is om Ramaphosa in ’n staat van beskuldiging te plaas, hom geen keuse laat as om onmiddellik te bedank nie.
Hy sê die bevindings laat geen twyfel dat verskeie strafregtelike oortredings moontlik gepleeg is nie en bring die integriteit van die kantoor én amp van die president in die gedrang.
Groenewald sê in ’n verklaring indien die verslag nie met ’n meerderheidstem in die parlement aanvaar word nie, die ANC, wat die meerderheid in die Nasionale Vergadering het, die grondwetlike demokrasie van Suid-Afrika doelbewus en direk sou ondermyn.
Die EFF het in hulle reaksie gesê as Ramaphosa nie bedank nie, sal hulle dit vir hom onmoontlik maak om op enige openbare platform as president van die land op te tree.
Die EFF se leier, Julius Malema, sê daar is bevind dat Ramaphosa die Grondwet van Suid-Afrika oortree het en dat hy geen geloofwaardige verweer teen die misdade op sy plaas het nie. Malema sê Ramaphosa se enigste opsie is sy onmiddellike bedanking, en nie eers “sy desperate en opportunistiese faksie” sal hom red nie.
Lees ook:
Elders gesien: Dalk is Phala-Phala op die lang duur nie net slegte nuus vir ons nie