Ramaphosa se swye oor plaasmoorde betreur

  • 0

President  Cyril Ramaphosa se stilswye oor die jongste plaasmoorde wat nou ook na die Boland uitgebrei het, het die landbousektor bekommerd en hulle eis optrede van die President.

Plaasaanvalle is ’n probleem wat oor ’n lang tyd nie die nodige aandag van die nasionale regering ontvang het nie, sê Agri SA.

Terwyl die soektog na die moordenaars van ’n Stellenbosse wynboer skaars begin het, is nog ’n Bolandse plaas dié week aangeval.

Agri SA sê plaasaanvalle is meestal brutaal en gewelddadig, met ’n wye impak op die naasbestaandes en die gemeenskap. Agri SA ondersteun Agri Wes-Kaap en die provinsiale regering se werksaamhede. Hulle het reeds met Ramaphosa geskakel om onmiddellike optrede te eis. 

“Plaasveiligheid, vir boere en plaaswerkers, is president Ramaphosa se eerste prioriteit teenoor die landbougemeenskap,” sê Dan Kriek, Agri SA-president.

“President Ramaphosa het in April voor die nasionale verkiesing beloftes gemaak dat boere beveilig sal word en ons sal nou optrede eis. Ons kan nie behoorlik aan ander beleidspunte aandag gee as die veiligheid van ons boere geensins gewaarborg word nie. ’n Nasionale plan gerugsteun deur aansienlike hulpbronne, effektiewe polisiëring en effektiewe werking van die regstelsel wat met dringendheid uitgerol word, is nou nodig.”

Netwerk24 berig ten spyte van die pleidooie vanuit die georganiseerde landbou dat president Ramaphosa hom sal moet uitspreek teen misdaad op plase, gaan hy steeds niks daaroor sê nie.

Die presidensiële woordvoerder, Khusela Diko, het gesê hoewel die presidensie bewus is van die pleidooie, het Ramaphosa besluit hy gaan hom nie oor spesifieke soorte misdade uitlaat nie.

Agri SA meen egter die moord op die Stellenbosse wynboer Stefan Smit wys dat groter samewerking tussen alle rolspelers vereis word. Agri SA het saam met Agri Wes-Kaap die onlangse moord op Smit  ten sterkste veroordeel.

“Stefan het ’n groot rol in sy gemeenskap gespeel en was nou betrokke met aksies om landbou in die Wes-Kaap te bevorder,” sê Cornie Swart, die president van Agri Wes-Kaap. “Elke plaasaanval is tragies; daar is te veel om te noem, en Stefan se moord is nog ’n groot skok vir ons mense.”

Syfers van AfriForum toon dat daar landwyd tussen 20 en 35 plaasaanvalle per maand voorkom. Net in Mei vanjaar is daar 51 landwyd aangeteken. AfriForum het die afgelope week die jongste statistiek vir plaasaanvalle en -moorde sedert die begin van 2019 tot die einde van Mei uitgereik. In hierdie tydperk kon AfriForum 184 plaasaanvalle en 20 plaasmoorde staaf.

In die Wes-Kaap was daar tussen 1 Januarie en 2 Junie vanjaar 18 plaasaanvalle, waarin vier mense vermoor is.

Smit se moord verlede Sondag volg kort na die moord op ’n ander boer, Tool Wessels, wat op 13 Mei in Bonnievale vermoor is. Hy en sy vrou is deur vier verdagtes gyselaar gehou en ook gemartel.

Al hoe meer stemme gaan nou op dat Ramaphosa onder ’n morele verpligting is om ’n sterk openbare standpunt teen plaasmoorde in te neem, veral vanweë die feit dat hy die bestaan van die krisis vroeër op ’n internasionale platform ontken het.

Dit was ook die reaksie van AfriForum nadat die President se woordvoerder aan die media gesê het dat die President hom spesifiek nié oor plaasmoorde gaan uitspreek nie, omdat dit die verantwoordelikheid van die polisie is.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die President se verskoning glad nie sin maak nie.

“Die President het hom al voorheen oor plaasmoorde uitgespreek. Toe hy dit gedoen het, het hy gesê dat daar geen plaasmoorde in Suid-Afrika is nie. Noudat hy met die syfers gekonfronteer word, is sy antwoord dat dit nie sy plek is om hom daaroor uit te spreek nie en dat hy eerder gaan swyg. Dit is beledigend, om dit lig te stel.”

Roets het verwys na Ramaphosa se besoek aan die VSA in September 2018 en sy uitspraak op die 26ste van dié maand, tydens ’n media-onderhoud met Bloomberg, dat daar geen plaasmoorde en geen grondgrype in Suid-Afrika is nie.

Buro: MvH
  • 0
Top