Ramaphosa sit met ’n warm patat in sy kabinet

  • 0

President Cyril Ramaphosa sit met ’n politieke dilemma nadat die Zondo-kommissie in sy derde verslag oor staatskaping een van sy ministers direk by staatskaping betrek het.

Behalwe voormalige president Jacob Zuma, wie se naam weer eens in die verslag genoem word, het regter Raymond Zondo ook die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, in die derde deel van die staatskapingsverslag geïmpliseer.

Ander name wat pertinent in die verslag genoem word, is dié van oudminister Nomvula Mokonyane en Bosasa se ontslape uitvoerende hoof, Gavin Watson.

Die staatskapingondersoek het dié gedeelte van die verslag, wat uitsluitlik op Bosasa-verwante bewyse fokus, Dinsdag aan die presidensie oorhandig.

Soos in die vorige twee verslae, wat reeds aan Ramaphosa oorhandig is en in die openbare domein is, lê Zuma se spore ook in die laaste verslag die bladsye vol.

Volgens Zondo was Zuma se optrede skynbaar in stryd met die Grondwet, die uitvoerende etiese kode én wetgewing, aangesien hy klaarblyklik in ’n posisie van botsende belange was.

Zuma het waarskynlik die wet oortree deur van Bosasa aansporings te kry. Hy het na bewering aansporings van Watson aanvaar in ruil vir regeringskontrakte, het die verslag bevind.

Dit is egter die bevinding oor Mantashe wat Ramaphosa die meeste hoofbrekens tot dusver kan besorg, aangesien Mantashe deur hom in die kabinet aangestel is. Die President het al herhaaldelik beloof dat almal wat betrokke was by staatskaping vervolg moet word, en dat hy sy regering wil suiwer van diegene wat betrokke was.

Nou het Zondo bevind daar moet ook verdere ondersoek na Mantashe gedoen word, omdat daar ’n “redelike moontlikheid” bestaan dat hy betrokke was by die korrupsie.

Die kommissie het aanbeveel dat Mantashe ingevolge die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite ondersoek word, en sê die minister was waarskynlik korrup in sy handelinge met Bosasa tydens sy ampstermyn as sekretaris-generaal van die ANC.

Mantashe het glo sekuriteitsopgraderings en -opknappings by sy huise in Boksburg, Cala en Kowa in die Oos-Kaap geniet, almal van Bosasa, wetende dat dit hom na bewering sou kon beïnvloed om kontrakte vir die maatskappy te verkry.

Voormalige Bosasa uitvoerende hoof en voormalige direkteur, Papa Leshabane, het na bewering die operasie gelei om sekuriteitsopgraderings by drie van Mantashe se eiendomme in Johannesburg en die Oos-Kaap te laat doen.

Volgens hom was die opgraderings ’n heeltemal onskuldige bydrae vir ’n tradisionele seremonie van Leshabane, wat ’n familievriend was.

Hy het ook gesê dat hy nie in ’n magsposisie was waar hy die toekenning van tenders kon beïnvloed nie.

Maar die kommissie het gesê dat hierdie verduideliking nie oortuigend is nie en ondermyn word deur die omvang van die vrygewigheid, sowel as sy versuim om ’n bydrae van sy eie tot die koste te maak.

Toe hy gevra is of hy geweet het dat Leshabane vir Bosasa gewerk het, het hy gesê dat dit onbelangrik is, maar die Zondo-kommissie het gesê dat dit nie ’n voldoende reaksie was nie, aangesien hy bewus was dat Bosasa gelei is deur Gavin Watson, wat met omkopery verbind is.

Die verslag sê daar bestaan ’n redelike vermoede ​​dat Mantashe die gratis installasies ontvang het met die wete dat Leshabane probeer het om besluitnemers te beïnvloed in die toekenning van kontrakte.

Die omstrede uitvoerende hoof van Bosasa, Gavin Watson, het na bewering miljoene aan staatsamptenare bestee om te verseker dat Bosasa staatskontrakte kry of behou in verskeie departemente, soos onderwys, korrektiewe dienste en binnelandse sake.

Bosasa het ook vir mense wat hulle skynbaar wou omkoop, huise gebou, meubels vir huise verskaf, verskeie huissekuriteitstelsels geïnstalleer, motorvoertuie gekoop, geskenke gekoop (van premium luukse geskenke soos penne en juweliersware tot kos en kruideniersware) en vir reis en verblyf betaal, lui die verslag.

Die volledige verslag kan hier gelees word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top