Ramaphosa skep nog ’n struikelblok vir Phala Phala ondersoek

  • 0

President Cyril Ramaphosa het ’n nuwe struikelblok op die pad van die parlementêre ondersoek na die Phala Phala-sage geplaas.

Sy formele beswaar teen die aanstelling van advokaat Thandazani Madonsela SC as getuienisleier laat nou die vraag ontstaan of die President ’n geldige kommer oor moontlike partydigheid opper en of hy bloot nog ’n poging aanwend om ’n proses wat reeds jare sloer, verder te vertraag.

Die artikel 89-afsettingskomitee van die Nasionale Vergadering het Woensdag verneem dat Ramaphosa formeel beswaar gemaak het teen Madonsela se aanstelling. Die brief, 18 Augustus gedateer, is aan die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, die parlement se sekretaris en die komitee se voorsitter, Makashule Gana, gestuur.

Ramaphosa voer aan dat Madonsela nie aan die vereiste van ’n onafhanklike getuienisleier voldoen nie, omdat daar volgens hom ’n werklike of waarneembare belangebotsing kan bestaan.

Sy eerste beswaar hou verband met Madonsela se voormalige rol op die Regterlike Dienskommissie (RDK). Ramaphosa het hom in 2022 as gekose persoon op die RDK verwyder nadat Madonsela aan die onderhoude vir die pos van hoofregter deelgeneem het. Volgens die Ramaphosa kan dié geskiedenis ’n redelike vrees skep dat Madonsela ’n grief teen hom koester en moontlik nie onpartydig sal optree nie.

Die tweede beswaar is meer direk aan die Phala Phala-proses gekoppel. Madonsela het vroeër regsadvies aan die ANC se parlementêre koukus gegee oor die artikel 89-proses en die reëls vir ’n moontlike afsettingsondersoek.

Dit is juis dié punt wat die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, reeds aangevoer het toe die party nie vir Madonsela as getuienisleier gesteun het nie.

Madonsela het egter aan die komitee verduidelik dat sy betrokkenheid beperk was tot toesig oor twee regsopinies en dat hy nie die feitelike meriete van die Phala Phala-saak ondersoek het nie. Hy het dus volgens sy eie weergawe nie oor voorafkennis van die feite beskik wat hom onbevoeg vir die pos sou maak nie.

Die komitee het hom op 5 Augustus met nege stemme teen sewe as sy voorkeurkandidaat aanbeveel. Die ANC, Patriotic Alliance (PA) en Al Jama-ah het buite stemming gebly. Kate Hofmeyr SC, wat deur die DA voorgestel is, het sewe stemme gekry.

Ramaphosa se beswaar kom op ’n besonder sensitiewe tydstip. Die Phala Phala-kwessie sloer reeds sedert 2020, toe sowat $580 000 (ongeveer R10 miljoen) in buitelandse valuta van Ramaphosa se plaas gesteel is.

Sedertdien het die regsgeveg voortgeduur. Ramaphosa se hersieningsaansoek oor die Ngcobo-paneel se verslag is steeds hangende, terwyl ’n tussentydse hofbevel openbare verhore voorlopig verhoed. Die komitee mag nietemin met voorbereidende werk voortgaan.

Nou is selfs die aanstelling van die persoon wat die getuienis moet lei, in die gedrang.

Die komiteevoorsitter, Makashule Gana, het bevestig dat die brief ontvang is en dat die komitee dit nou saam met die parlement se regsafdeling bestudeer om te bepaal hoe om daarop te reageer. “Ons wil so gou moontlik ’n getuienisleier aangestel en bevestig hê,” het hy gesê.

Opposisiepartye, onder meer die EFF, het Ramaphosa se beswaar skerp veroordeel en dit as nog ’n poging om die proses te vertraag beskryf.

Ramaphosa se optrede gee inderdaad nuwe brandstof aan die argument dat die Phala Phala-proses moontlik deur ’n eindelose reeks regs- en prosedurele uitdagings vertraag word.

Maar Ramaphosa het ook ’n punt beet wat nie eenvoudig ignoreer kan word nie. ’n Getuienisleier in ’n parlementêre afsettingsproses moet bo verdenking van partydigheid staan. Indien iemand voorheen regsadvies oor dieselfde proses aan een van die belangrikste politieke rolspelers gegee het, is dit redelik om te vra of sy onafhanklikheid later bevraagteken kan word.

Die moeiliker vraag is egter waarom dié besware eers nou, nadat die komitee reeds ’n voorkeurkandidaat gekies het, formeel op die tafel kom.

Dit is dié tydsberekening wat die vermoede van ’n vertragingstaktiek versterk. Die uiteindelike toets sal wees of Ramaphosa se beswaar die proses werklik oor ’n wesenlike regsprobleem laat struikel, of bloot nog ’n ronde in ’n uitgerekte hof- en parlementêre stryd word.

Vir die geloofwaardigheid van die proses is een ding egter duidelik: Die publiek het ná ses jaar meer behoefte aan antwoorde as aan nóg ’n prosedurele hindernis. Of Ramaphosa nou ’n geldige regsargument of ’n politieke uitstelstrategie aanvoer, sal uiteindelik gemeet word aan een eenvoudige vraag: Gaan die ondersoek vorentoe, of bly Phala Phala vir nog ’n paar jaar vasgevang in die drukgange van die reg en die parlement?

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top