Ramaphosa spog op Menseregtedag terwyl die opposisie steen en been kla 

  • 0

President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrikaners het baie om te vier 30 jaar na demokrasie en 64 jaar sedert die Sharpeville-slagting toe 69 mense op 21 Maart 1960 dood is.

Opposisiepartye deel nie sy optimisme nie en meen die regering het min om oor te spog.

Ramaphosa het Donderdag tydens Menseregtedagvierings by die George Thabe-stadion in Sharpeville ’n rooskleurige prentjie geskets oor die vordering wat die land volgens hom gemaak het in die progressiewe verwesenliking van die sosiale en ekonomiese regte wat in die Grondwet vervat word.

Hy het die land se ekonomie, die lewering van dienste en algemene lewenstandaard van Suid-Afrikaners as voorbeelde uitgelig van waar daar vordering gemaak is.

Hy sê miljoene Suid-Afrikaners is uit groot armoede gelig, agt uit elke 10 huishoudings het behoorlike behuising en nege uit elke 10 huise het elektrisiteit en toegang tot skoon drinkwater.

“Suid-Afrikaners leef langer. Baie minder vroue sterf tydens kindergeboorte en baie minder kinders sterf. Meer kinders uit arm gesinne voltooi skool, slaag matriek en gaan voort om aan universiteite en kolleges te studeer.”

Ramaphosa sê dit is moontlik gemaak omdat die land daarop gefokus het om die ongeregtighede van die verlede reg te stel en in die behoeftes van die armes en gemarginaliseerdes te voorsien.

“Deur saam te werk het ons byna vier miljoen hektaar grond teruggegee aan mense wie se grond onteien is en meer as vyf miljoen hektaar grond bekom vir herverdeling en om verblyfsekerheid vir huurders en ander plaasbewoners te bied.

“Ons het maatskaplike toelaes vir kinders, bejaardes en mense met gestremdhede verskaf en het onlangs ’n spesiale maatskaplike noodhulptoelaag vir werklose mense ingestel.”

Hy sê die land se ekonomie het sedert 1994 verdriedubbel, en terwyl werkloosheid steeds onaanvaarbaar hoog bly, het die aantal Suid-Afrikaners in diens meer as verdubbel in die afgelope 30 jaar.

Opposisiepartye, waaronder die onlangs gestigte Rise Mzansi, ActionSA, die Vryheidsfront Plus, DA en verskeie ander deel egter nie Ramaphosa se optimisme nie.

Rise Mzansi se nasionale leier, Songezo Zibi, wat ook by Sharpeville was, het die politieke establishment en die regering daarvan beskuldig dat hulle Menseregtedag gebruik om te spog met dit wat die regering sedert 1994 gedoen het, terwyl mens maar net in die strate van Sharpeville, Langa en ontelbare ander verlate gemeenskappe hoef te loop om te sien dat daar nie veel is om te vier nie.

Hy sê dieselfde regering wat beweer dat hulle die mense dien, beoefen dieselfde brutaliteit, bloedvergieting en onmenslikheid wat die apartheidsregering gekenmerk het.

ActionSA se leier, Herman Mashaba, was ook in Sharpeville om Menseregtedag te vier. Mashaba sê daar is eenvoudig geen sin vir politieke partye om hul weg 30 jaar na demokrasie na Sharpeville te baan om die dag te vier terwyl die lewens van inwoners in die gemeenskap skaars verander het nie, met baie wat sukkel met werkloosheid, verslawing en ’n ineenstorting van dienslewering.

“Met 11,7 miljoen Suid-Afrikaners wat werkloos is, en meer as 28 miljoen afhanklik van maatskaplike toelaes, het ons werklik nie daarin geslaag om die drome na te kom van diegene wat vir ons demokrasie geveg het nie,” het Mashaba gesê.

Wouter Wessels van die Vryheidsfront Plus sê in ’n verklaring onder die ANC-regering kan daar nie sprake wees van ware menseregte nie. Die vordering wat wel na 1994 op dié gebied gemaak is, is volgens hom sedertdien omgekeer en vernietig.

“In die laaste dekade het die geletterdheidskoers in Suid-Afrika skerp afgeneem en 82% van graad 4-leerders kan vandag nie lees nie. Tog word moedertaalonderrig geminag. Oor dieselfde tydperk het die aantal waterverskaffingstelsels wat in ’n kritieke toestand van verval is, met meer as 10% toegeneem. Staatshospitale het op groot skaal verval tot wanfunksionaliteit waar mense onnodig sterf. Meer as 17 miljoen huishoudings het nie voldoende kos om te eet nie.”

Wessels sê die ANC staan koud teenoor die waardigheid van Suid-Afrikaners, terwyl sy gedagtegang in die verlede vasgesteek het. “Hy worstel met die verlede terwyl mense vandag swaar kry en honger ly.”

Die DA-leier, John Steenhuisen, het op Nelspruit gesê ná net 30 jaar in die regering het die ANC staatsinstellings deur kaderontplooiing, korrupsie en misdadigheid geërodeer.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top