Die ANC se beleid van kaderontplooiing, asook die Zondo-kommissie se bevindings en aanbevelings daaroor, is besig om ’n yslike kopseer vir die ANC te word. Dit het die party in direkte konflik gebring met belangrike bevindings en aanbevelings van regter Raymond Zondo waaroor daar nou in die hof rekenskap geëis word.
President Cyril Ramaphosa moet behoorlik bontstaan om sy party se beleid te probeer regverdig. Hy het ’n beëdigde verklaring van meer as vyftig bladsye daaroor by die hof ingedien nadat die DA ’n saak daaroor aanhangig gemaak het.
Regter Raymond Zondo het in sy verslag oor staatskaping bevind dat die ANC se ontplooiingsbeleid in stryd is met onder meer die Grondwet en die Staatsdienswet, omdat dit kandidate benadeel het wat nie deur die party verkies is nie.
In reaksie op die hofsaak wat die DA van stapel gestuur het om kaderontplooiing af te skaf, het Ramaphosa nou in ’n beëdigde verklaring voor die hof laat blyk die ANC is nie van plan om Zondo se aanbevelings daaroor sito-sito te aanvaar nie.
Die DA het in Junie sy stukke by die Pretoriase hooggeregshof ingedien. Hulle vra vir ’n bevel om kaderontplooiing ongrondwetlik en onwettig te verklaar.
In direkte botsing met ’n bevinding van die Zondo-kommissie voer Ramaphosa aan dat die ANC se kaderontplooiingsbeleid nie ongrondwetlik is nie.
In an extraordinary affidavit, Ramaphosa revealed that he regards the Zondo Commission’s findings as “not binding” upon him. In the affidavit, which was drawn up using taxpayer money, Ramaphosa vigorously defends the ANC's cadre deployment policy.https://t.co/QSjpQQgA64
— Democratic Alliance (@Our_DA) August 22, 2022
In sy verklaring voor die hof sê Ramaphosa dat hy die Zondo-kommissie se bevindings nie as “bindend” vir hom beskou nie. In die beëdigde verklaring wat deur die kantoor van die staatsprokureur opgestel is, verdedig en regverdig Ramaphosa die ANC se kaderontplooiingsbeleid ten alle koste.
Vroeër het die ANC gesê hulle neem kennis van Zondo se bevindings en aanvanklik die indruk geskep dat hulle moontlik hulle ontplooiingsbeleid sal hersien. Sedert die party se onlangse beleidskonferensie en uitsprake van die party se provinsiale leiers in KwaZulu-Natal, asook opmerkings deur die minister van justisie, Ronald Lamola, blyk dit die ANC is glad nie geneë om afstand te doen van kaderontplooiing nie.
Die volledige verklaring van Ramaphosa kan hier gelees word. Dit is die eerste keer dat hy self so direk aandui dat daar aspekte van Zondo se verslag is waarteen hy hom sal verset.
Toe Ramaphosa voor die kommissie verskyn het, het hy wel die party se reg om kaders te ontplooi verdedig. Hy het toe gesê in ’n partypolitiekgebaseerde kiesstelsel is dit heel normale praktyk. Volgens hom wil die ANC net seker maak dat die regte kandidate wat geskik is vir ’n spesifieke doel in daardie posisies geplaas word. Hy sê sommige posisies vereis dit ten einde die regerende party se mandaat uit te voer.
Die DA wil dit egter in die hof toets en dit het die ANC genoop om ’n onomwonde standpunt daaroor in te neem by wyse van ’n beëdigde verklaring.
Die DA sê in ’n verklaring wat Maandag uitgereik is dat Ramaphosa se “desperate poging om kaderontplooiingskorrupsie ten alle koste te beskerm” bevestig waarom die DA se hofsaak so uiters belangrik is. “Ons het dit nou onder eed dat Ramaphosa, sy regering en sy party van plan is om die kommissie se bevindings teen kaderontplooiing te trotseer.”
Die DA sê in hulle verklaring hulle sal nie rus voordat Ramaphosa se “kaderkorrupsie” ongrondwetlik en onwettig verklaar en eens en vir altyd afgeskaf is nie.
Ramaphosa ontken heftig in sy verklaring dat kaderontplooiing die Grondwet of die wette van die land ondermyn. Hy sê die DA se klag is vaag en sonder substansie.
Op sosiale media meen baie Suid-Afrikaners Ramaphosa het geen ander keuse as om kaderontplooiing te verdedig nie. Hulle sê die ANC se bestaan maak staat op ’n patronaatskapnetwerk wat sonder kaderontplooiing sou ineenstort.